top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE UITNODIGING VAN JESUS (2)

(Luk. 10:21-22)


GENIET JOU GELOOFSPAD AS DEEL VAN DIE KERK – JY ÍS DIE KERK!


Matt. 11:25-26 – “Daardie tyd het Jesus gesê: ‘Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit U genadige bedoeling.”


Vergelyk ook Rom. 14:22-23 – “Laat jou oortuiging hieroor ‘n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.”


Jesus dank ons Vader dat Hy juis Sy koninkryk aanbied aan die eenvoudiges, dat die sogenaamde slim mense van Sy aardse tyd wat dink hulle weet alles, nie Sy boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Hier in die derde millennium is dit steeds dieselfde as twee duisend jaar gelede. Die sogenaamde geleerde mense probeer stééds om God se Woord te verander. Daar is selfs godsdienstige lektore wat reken die Bybel is net nog ‘n boek, en vergeet dat Jesus Christus die Één is wat die wêreldgeskiedenis eiehandig verander het; dat Jesus Christus die Één is wat alle mag in die hemel en op aarde het; dat Hy juis aarde toe gekom het om God se koninkryk hier op aarde te bou – Hy was God se Boodskapper!


Ons gelowiges se oortuigings oor die kwessie van wat ons glo en in Wié ons glo, gee daarmee dalk aanstoot aan ander, maar is vir onsself, nie onbelangrik nie. Ons hoef dit egter nie teenoor medegelowiges in die openbaar te demonstreer nie. Jesus het ons kom wys dat die hart van nederigheid beteken om God eerste te stel en ek en jy tweede, daarom is “jou oortuiging hieroor ‘n saak tussen jou en God.” Miskien lei die feit dat jy verskil van medegelowiges, jou daartoe om hulle eerder te vermy en sodoende nie aanstoot te gee nie. Maar dan sê God deur Paulus vir ons: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil” (Rom. 14:1). Aanvaar eerder as vermy! Wees sensitief vir ander gelowiges se standpunte en moenie jou idees op hulle afdwing nie. Jy het egter die reg om te glo soos wat jy glo as jy jou deur die Gees laat lei – “dis ‘n saak tussen jou en God!”


Terselfdertyd moet ons alles wat ons doen, met volle geloofsoortuiging dit só doen dat jy seker is dat jy tot God se eer besig is om die opofferende liefde van Jesus Christus, vir ons medegelowiges sigbaar te maak, dat ons dit doen tot eer van die Here. Terughoudendheid kan maklik verander in selfgesentreerdheid en dan die gawes wat jy van die Heilige Gees ontvang het, minag. Dit lei daartoe dat hierdie gawes in onbruik raak “en enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.” Geen mens leef volkome vir hom- of haarself nie en jy het ‘n invloed wat in ‘n mindere of meerdere mate die mense rondom jou sal raak.


Rick Warren het gesê: “God verwag eenheid, nie eenvormigheid nie, en ons kan ingehaak stap sonder om oor elke kwessie saam te stem.” Ons moet in nederigheid eerder klem lê op dit wat ons in gemeen het, nie op ons verskille nie. “As gelowiges deel ons een Here, een liggaam, een doel, een Vader, een Gees, een hoop, een geloof, een doop en een liefde” (Ef. 4:4-6). Ons deel dus dieselfde verlossing, dieselfde lewe, want ons is kinders van God (Joh. 1:12) en daarom deel ons dieselfde toekoms. Is dit nie wonderlik nie? Ons deel meer positiewe faktore as verskille wat ons óóit kan opnoem! Waarom konsentreer ons dan nie eerder op die dinge wat ons deel in Christus nie, as om daarenteen, te fokus op ons verskille.


Dit is die duiwel se werk om te blameer, te kritiseer en oor God se gesin te kla – hy is die “aanklaer van ons medegelowiges” (Op. 12:10) – en hy vang ons elke keer met ‘n slapriem om eintlik sy werk vir hom te doen. Ons wéét wat om te doen om God te verheerlik, ons geloofsoortuiging dwing ons daartoe, maar ons “twyfel egter” en doen die teenoorgestelde, ons gryp van dit wat die duiwel aanbied. Die duiwel sê jy is ‘n super mens, sit ‘n kroon op jou kop – Jesus sê jy is ‘n Christen, trek ‘n voorskoot aan en “was voete”; die duiwel sê dis beter om met skoon hande en Sondagklere deur die lewe te gaan – Jesus sê “uit geloofsoortuiging” is die week se werksklere die regte kerkklere. Kerk-wees is nie om mooi aan te trek en kerk toe te gaan nie, nee, kerk-wees is om daagliks moue op te rol en te dien. Dit is die verskil tussen uit “geloofsoortuiging wéét” en uit “geloofsoortuiging dóén.”


Gaan ons net kerk toe of ís ons die kerk? Die kerk is God se span dienaars wat nie verwaand, selfingenome en hardkoppig oor kantlynsake redeneer nie, of ander veroordeel wat dinge soms anders doen as jy nie. As jy lid is van die kerk, ís jy die kerk en is jy lid van 'n taakspan, 'n werksgroep, 'n diensspan, jy is deel van die “almal wat trouens teenoor mekaar nederig is en mekaar help …” (1 Pet. 5:5). Jy is nie 'n lid van die toeskouers wat tyd daaraan bestee om te vergelyk en lustig saam kritiseer nie, jy spandeer eerder tyd om jou nie “te verwyt oor wat jy jou veroorloof nie” en help om die eenheid van gelowiges te bou. As “kerk” sing jy saam met ander wat uit “geloofsoortuiging” brûe bou: “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder” (Rom. 14:19).


“Eenheid in Christus is nie iets wat ons moet probeer bereik nie; ons moet dit net erken”

(A.W. Tozer).


Gebed: Ek glo in U, drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur u Woord en Gees U kerk versamel, beskerm en versorg. Help my om deur U voorbeeld, lief te hê en gemeenskap met mekaar te beleef, na te jaag en te beoefen. Maak my gewillig om myself met vreugde tot nut as “kerk” te gee, om as deel van God se span die eenheid van gelowiges te bou. Help my om alles wat ek doen, sal strek tot U eer. “Help my om hartlike broederliefde teenoor mekaar te betoon, eerbied teenoor mekaar te bewys en mekaar daarin tot voorbeeld te wees” (Rom. 12:10). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page