top of page

Gedagte vir Vandag


Kapernaum ruïnes met die sinagoge in die agtergrond. (Gesien vanaf Petrus se huis).


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE ONBOETVAARDIGE DORPE (2)

(Luk. 10:13-15)


LEEF IN GEMEENSKAP MET JESUS CHRISTUS!


Matt. 11:23-24 – “En jy, Kapernaum, dink jy ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”


Kapernaum was die Galilese dorp wat Jesus tydens Sy openbare optrede as tuisbasis gebruik het. Matteus het dit selfs Jesus se eie dorp genoem (Matt. 9:1). Kapernaum se inwoners was dus bevoorreg om Jesus in hulle midde te hê, selfs só bevoorreg om die opspraakwekkende opwekking van Jaïrus se dogtertjie te kon beleef (Matt. 9:25). Dag vir dag het hulle God se genade en goedheid ontvang, en hoogmoedig geraak oor die buitengewone Inwoner, wat die hele Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan, (Matt. 4:25), in rep en roer gehad het. Tog het hulle nie ag geslaan daarop dat God, in Jesus, by hulle ingetrek het nie.


Aan Kapernaum word ’n afsonderlike woord gerig. Die inwoners was onder die illusie dat hulle ’n bevoorregte verhouding met God het. Juis hierdie misverstand lei daartoe dat hulle Jesus verwerp en daarom sou die oordeel oor die stad nog erger wees – die kontras tussen wat hulle meen God gaan doen deur hulle “tot die hemel toe verhoog word”, en wat Hy werklik gaan doen deur hulle “tot in die doderyk te laat afdaal.” Vir Sodom, (skimpnaam vir die bose), wat dwarsdeur die Bybel uitgestaan het as die stad van goddeloosheid, “sal dit draagliker wees op die oordeelsdag as vir Kapernaum”. Die oordeelswoorde is ontleen aan die profesie oor die neerwerping van die goddelose Babel (Jes. 14:11 ev). Soos dit met Babel gegaan het, sal dit ook met Kapernaum gaan. Hierdie woord is later vervul toe die stad verwoes is.


Jesus het ‘n groot deel van Sy aardse tyd in Kapernaum en omliggende dele van Galilea deurgebring. Van die begin van Sy openbare optrede af het groot skares na Hom gekom en as volgelinge by Hom aangesluit, gesien hoe Hy wonderwerke kon doen, siekes gesond maak, lammes laat loop en blindes laat sien. Dit was met ander woorde, voordelig om in Sy teenwoordigheid te wees.


Dit kan net goed wees dat ons onsself ook so elke nou en dan ernstig sal afvra: “Maar verstaan ons regtig wat dit beteken om volgeling van Jesus te wees, om in die innigste lewensgemeenskap met Hom te leef? Waarom loop ék en jy agter Jesus aan?” Mense kan soms maklik om verkeerde, hoogs verdagte en selfs selfsugtige redes Jesus volg. Party mense stap agter Jesus aan net omdat hulle die duiwel en die hel vrees. Ander weer omdat hulle glo dat, indien hulle darem so 'n tydjie hier en daar aan God afstaan, God hulle darem iewers hier en daar sal beloon. Nog ander volg Jesus want dan het hulle darem die hoop dat as die moeilikheid en ellende hulle versmoor, God weer lig aan die einde van die tonnel sal gee.


Maar dan raak hulle moeg, die “smal pad” van Jesus se Bergpreek in Matteus 7 raak te moeilik. Hulle besef nie dat hulle lewens van Hom afhang nie. Hulle besef nie dat Hy gevolg moet word, al voel dit vir jou Hy antwoord nooit enige gebed nie en al tref al wat 'n ramp is jou lewe! Jesus sê vir ons om Hom te volg, nie noodwendig beteken om 'n vol maag en veiligheid teen al die aanslae van die lewe te hê nie, maar eerder dat dit beteken om werklik te lewe.


En om werklik te lewe, sê Jesus, vereis 'n baie nabye verhouding met Hom, iets soos 'n intieme eenwording met Jesus en die saak waarvoor Hy gestaan het – “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:53-56).


Waarom moet ek en jy van hierdie lewegewende brood eet en Sy bloed drink? Wat beteken dit prakties wanneer ons Jesus se liggaam eet en sy bloed drink? Wat 'n mens eet en drink word immers verteer en tot in die uithoeke van die liggaam versprei om deel te word van jou hele sisteem. Net so, sê Jesus, moet dit wees wanneer ons Sy liggaam geëet en sy bloed gedrink het: Christus, en die gesindheid wat in Hom was, moet óók my hele sisteem só deurtrek. So deurtrek dat ek en jy Sy hande en voete in hierdie wêreld kan wees; dieselfde gesindheid in ons is as wat in Christus Jesus was (Fil. 2:5); ons hande begin brood uitdeel aan die hongeriges; ons dwars begin draai teen eiegeregtigheid en eiebelang; vrede soek met ons naaste; met opregte harte leef, sagmoedig, nederig, barmhartig op te tree – met ander woorde, wanneer ek Jesus se liggaam eet en Sy bloed drink, moet die liefde van 1 Korintiërs 13, ons curriculum vitae, ons getuigskrif word.


“Wanneer jy liefhet, behoort jy nie te sê nie: ‘God is in my hart,’ maar eerder: ‘Ek is in die hart van God” (Kahlil Gibran).


Gebed: Dankie Jesus Christus, dat ek na U toe kan gaan en opreg in U kan glo. Dankie dat ek daarom deur God regverdig verklaar is. Ek kan nou met vrymoedigheid – terwyl ek werk in die dag of terwyl ek rus in die nag – tot U vlug en smeek: Here, my God, my hart en my lewe is vol boosheid en sonde. Dankie dat U Seun met Sy kruisoffer vir my 'n Borg is. Dankie dat U Seun se gebreekte liggaam en vergiete bloed betaling is vir my skuld voor U. Dankie Jesus Christus, dat ek na U toe kan kom en kan eet en drink van U liggaam en bloed. Dankie Heilige Gees dat U my verenig in die geloof met Christus se geseënde liggaam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page