top of page

Gedagte vir Vandag


Ruïnes van Gorasin

Ons herinner elkeen daaraan om vanaand, Vrydag 29 Mei en Sondagaand 31 Mei, om 19h00 in te skakel by NG Fochville-Noord se Facebook blad en te luister na ons aanlyn-Pinksterdiens. Die reeks se tema is “HELDER DINK, KIND VAN GOD”. Julle kan ook Sondagoggend, 31 Mei om 09h00 inskakel en luister na ons aanlyn-erediens. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap in Pinkstertyd op 'n nuwe manier.


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE ONBOETVAARDIGE DORPE (1)

(Luk. 10:13-15)


BLIND EN DOOF!


Matt. 11:20-22 – “Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie: ‘Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.”


Die meeste van Jesus se werke en wonders het plaasgevind in die klein gebied noord van die See van Galilea by Kapernaum, wat ook “Jesus se eie dorp” genoem is (Matt. 9:1). Matteus vertel ons nie van enige optredes van Jesus in Gorasin en Betsaida nie, maar omdat dit so naby Kapernaum geleë was, is dit hoogs waarskynlik dat die inwoners van dié dorpe, deel van die menigte was wat Jesus se optredes waargeneem het. Net soos die Doper se boodskappers het hulle ook Jesus se wonders beleef, het hulle ook “gehoor en gesien dat blindes weer sien, lammes loop, melaatses gereinig word, dowes hoor, dooies opgewek word, en aan armes die evangelie verkondig word.”


Markus en Lukas meld wel van Jesus se optrede en wonderwerke in Betsaida (Mark.8:22; Luk. 9:10). En dan moet ons onthou, Jesus het ook Sy twaalf dissipels, twee-twee uitgestuur na die verlore skape van die huis van Israel (Matt. 10:5-6), en hulle sou beslis daar ook besoek afgelê het. Jesus het boonop aan die skare wat Hom gevolg het, vertel dat die Doper die Elia was wat volgens die profeet Maleagi die pad vir God se Messias sou kom voorberei het (Matt. 11:14). En dit was alles genade dat hulle tot bekering geroep word. Genade dat Jesus, die profete, Johannes die Doper én Jesus se dissipels, God se koninkryk bekend maak, mense gesond maak en wonders doen. En tog … ten spyte van die impak wat in die twee dorpe gemaak is, het die mense wat dit beleef het, hulle nie bekeer nie.


Jesus het die meeste van sy kragtige werke en wonders in hulle midde gedoen. Hulle het nie alleen maar net gehoor nie, hulle het gesien ook! Hierdie tekens en wonders wat Jesus gedoen het, was tog die bewys dat die koninkryk van God naby gekom het. Alles was in plek, maar een kritiese onontbeerlike bestanddeel het geheel en al ontbreek – en dit was geloof. Ten spyte van alles wat hulle waargeneem en gehoor het, weier hulle om te erken en te herken, dat Jesus God se gestuurde Messias was … dat Hy Self God was.


Tirus en Sidon lê Noord van Galilea en was heidense kusstede aan die Middelandse See. Jesaja 23 en Esegiël 26-28 beskryf hierdie skatryk hawestede en handelstede met gepaardgaande goddeloosheid en mense wat nog nooit gehoor het van die Messias of die koninkryk van God nie – die inwoners het Jesus nooit geken nie. Die Jode het die inwoners van hierdie twee stede met boosheid geassosieer – mense wat ver weg was van God af. Gorasin en Betsaida se inwoners wat gedink het hulle saak met God is reg, moes hierdie harde woorde van Jesus dus met skok aanhoor: “Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.” Hierdie onbeskryflike vervloeking van Jesus was só groot, dat daar vandag steeds net ruïnes van Gorasin en Betsaida te siene is. Ten spyte van die feit dat die stede in ‘n baie vrugbare gebied geleë was, is dit na die agste eeu, nooit weer herbou en beset nie.


Jesus se verwyt omdat hulle volgehoue ongeloof hulle nie tot bekering gelei het nie, het onvermydelik geword. Ongelukkig is daardie geloof wat Gorasin en Betsaida nie tot bekering gelei het nie, steeds vandag teenwoordig. Geloof is nie maklik nie, veral in die tyd waarin ons lewe – die sogenaamde postmoderne tyd. Dit is ‘n tyd waarin mense vir hulleself die reg toe-eien om letterlik alles te bevraagteken. Baie dinge word bevraagteken, byvoorbeeld: “Wie sê die Bybel is waar? Wie kan bewys dat Jesus uit ‘n maagd gebore is? Hoe bewys jy byvoorbeeld dat God bestaan of hoe bewys jy dat God nie bestaan nie? Wie sê Jesus se kruisdood is ‘n versoening vir ons sonde? Hoe bewys jy dat Jesus uit die dood opgestaan het? Hoe bewys jy daar is ‘n hemel óf ‘n hel? Hoe verstaan jy Vader, Seun, en Heilige Gees – Drie maar eintlik is dit Een God?”


As ek en jy mooi dink oor wat ons alles glo, maak alles nie noodwendig altyd sin nie. Ons het ‘n geloofsperspektief nodig om seker te wees van die dinge wat ons hoop en oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Heb. 11:1). Geloof in Christus Jesus is ‘n keuse, ‘n keuse om die gawe wat die “Vader aan Hom gegee het” (Joh. 6:65b), te aanvaar.


Geloof is my twee hande wat ek in afhanklikheid, uitstrek na God toe om Sy genade-aanbod vir my toe te eien!!! Geloof is ‘n woord met ‘n ware geskiedenis, ‘n geskiedenis met die onwrikbare sekerheid van God se genade en alomteenwoordige liefde, van Sy Seun aan ‘n kruis, van ‘n leë graf, van Sy hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, en ‘n ewige lewe! Is jy bereid om in Christus te glo sonder enige voorwaardes?


“Geloof sien die onsienlike, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike” (C.S. Lewis)


Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wonder van die geloof. Dankie dat U geloof in my sondaar-hart gewek het sodat ek met sekerheid kan weet dat U leef, dat Jesus vir my sondes gesterf het en opgestaan het uit die dood sodat ek vir altyd kan lewe. Vergewe my wanneer ek ook soms twyfel veral wanneer dit donker word rondom my, om aan U beloftes vas te hou al word nie een daarvan waar nie, so baie keer antwoorde soek op my vrae en ek dit nie altyd kry nie. Help my om my geloof uit te lewe in alles wat ek doen en sê, al is dit so klein soos ‘n mosterdsaadjie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page