top of page

Gedagte vir Vandag


Ons herinner elkeen daaraan om vanaand, Woensdag 27 Mei, om 19h00 in te skakel by NG Fochville-Noord se Facebook blad en te luister na ons aanlyn-Pinksterdiens. Die reeks se tema is “HELDER DINK, KIND VAN GOD”. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap in Pinkstertyd op 'n nuwe manier.



JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE JODE NEEM AANSTOOT TEEN JESUS SE BEDIENING AAN TOLLENAARS EN SONDAARS

(Matt. 11:2-19)


JESUS EN DIE VRAAG VAN JOHANNES DIE DOPER (4)

(Luk. 7:18-35)


JESUS MOET MEER WORD EN EK MINDER!


Matt. 11:12-15 – “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ‘n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. Wie ore het, moet luister.”


Van die bekendste Bybelvertalers, is dit eens dat Matteus 11:12, van die moeilikstes is om te verklaar. Tog blyk dit dat die koninkryk van God waaroor die Doper en Jesus oor gepreek het, as’t ware deur mense bestorm word ten einde deel daaraan te kry, of dan dit alternatiewelik, wil kaap vir hulle eie doeleindes. Die positiewe daarvan is dat elkeen wat smag na God se koninkryk, maak nie saak hoe klein of gering jy is nie, kan dit in besit neem as jy al jou kragte inspan om dit joune te maak. Wanneer jy die keuse gemaak het, kan niemand jou keer nie, selfs nie vervolging nie!


Negatiewelik gesien, bepaal die geskiedenis dat daar verset was sedert die Doper en Jesus se optrede op aarde. Die versoeking was nog altyd daar om die koninkryk van God met geweld te bestorm en dit met geweld te plunder ter wille van mense se eie koninkryk, ter wille van hulle eie bevoordeling en bevoorregting, ter wille van die eie-ek wat nog wil koning wees op my eie klein troontjie.


Derdens kan ons dit miskien só verstaan dat God se koninkryk reeds besig is om te kom en dat dit nie gekeer kan word nie. Dit het reeds begin "sedert die dae van Johannes die Doper", met verwysing na die tyd wat die Doper begin het om as “vooruit gestuurde” te preek sodat die volk moes weet dat die Messias op pad is. Dan wanneer Jesus Christus kom, word die koninkryk al hoe duideliker. Ons hoor dit in die manier waarop Jesus Sy bediening begin.


In Jesus hét die koninkryk reeds naby gekom. Hy het dit bevestig tydens Sy “intreepreek” op aarde: “Van toe af het Jesus begin preek en gesê: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt. 4:17). Die koms van die koninkryk gaan dus oor Jesus en Sy bediening en hoe ons betrek word by Sy bediening. Jesus verwys na hierdie koninkryk, nie minder as 112 keer in die Evangelies. Maar die koninkryk kom nie sonder teenstand nie. Daarvan is die Doper wat in die tronk sit, ‘n getuie. Tog, ten spyte van die wederstrewigheid van die Joodse leiers, het die verwagting van die Jode vir hierdie koninkryk, reeds in die dae van die aartsvaders – Abraham, Isak en Jakob – bestaan (Luk. 13:28), tydens Jesus se aardse optrede (Luk. 4:43) en in die toekoms (Matt. 6:10a). Hoe is dit moontlik dat hierdie koninkryk tegelykertyd deel was van die verlede, die hede en die toekoms? Waarvan praat Jesus wanneer Hy sê: “Wie ore het, moet luister?”


Jesus leer uitdruklik dat dit nie ‘n aardse, politieke koninkryk wat met magsvertoon regeer word nie. Dit is ‘n koninkryk wat met liefde regeer word. Ons Vader is Koning – Koning van liefde – in die verlede, hede en toekoms. Om burger van hierdie koninkryk te word, moet mens ‘n verandering van hart en lewe ondergaan, met ander woorde, bekering! Deur die geloof in Jesus Christus word ons mede-erfgename van die heerlikheid van hierdie Koninkryk.


Natuurlik besit ons nog nie die koninkryk in sy volmaaktheid nie, maar daarom bid ons: “Laat U koninkryk kom; Dit is: Regeer ons so deur U Woord en Gees dat ons ons hoe langer, hoe meer aan U onderwerp. Bewaar U kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen U heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees” (Antw. 123 van Heidelbergse Kategismus).


Dit is gevaarlik om te bid “Laat U koninkryk kom”, want ons eie koninkryk word dan in gevaar gestel. Dit help nie ons vra ons Vader om Sy koninkryk te laat kom terwyl ons oë na die hemel gerig is, en ons diep gewortelde drang van ons sondige natuur nog self wil regeer nie. Ons sal slaaf bly van die “ék-maak-so en ék-sê-so en ék-laat-my-nie-voorsê”, koninkryk van ons harte. “Die Here se koninkryk is daar waar Hy as Koning erken en gehoorsaam word. Daar waar die Grondwet van die Koning die grondslag van ons lewe word” (Ds. Johan Smit). Daarom leer Jesus ons bid vir die ondergang en vernietiging van ons selfgemaakte koninkrykies, sodat ons as inwoners van God se koninkryk, ons ook moet inspan om dit te leef!


Ons moet van ons eie troontjies afklim, ons selfgemaakte krone verwyder en God plaas op die troon van ons lewe! En hoe gaan ons dit regkry? Ons moet tot God in gedurige gebed nader in die Naam van ons Verlossende Jesus Christus. Die gebed van `n gelowige het `n kragtige uitwerking en wanneer ons bid dat God se koninkryk moet kom, bid ons eintlik met die begeerte om binne die wil van God te bid. Jesus verseker ons daarvan dat wat ons ook al van God in sy Naam vra, in ooreenstemming met God se wil sal wees (Joh. 15:16b).


God se koninkryk is `n realiteit! Daarom moet ek en jy ons “kragtig inspan, om dit in besit te neem”, deur te volhard in gebed. En wanneer ons twyfel of ons gebede gehoor en verhoor word, kan ons moed skep want “die Gees staan ons ook in ons swakheid by. Wanneer ons nie weet wat en hoe ons behoort te bid nie, pleit die Gees self vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).


“God se koninkryk is so onbegryplik groot dat ons sintuie Sy majesteit nie ten volle kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Ons Vader, laat U koninkryk kom – en begin by my! ‘n Koninkryk wat U heerskappy erken en aan U gehoorsaam te wil leef. ‘n Koninkryk in slegte tye wanneer chaos, wanorde en die donkerte my wil oorval. Dankie dat ek my nood voor U kan uitstort en dat U altyd raad het daarmee. Dankie dat u Gees my in staat stel om te jubel en U te loof, selfs al is ons omstandighede huidiglik met hierdie virus pandemie, nie goed nie. Tog wil ek U “met my hele hart prys, Here, wil ek van U magtige reddingsdade vertel” (Ps. 9:2), wil ek vashou aan U koninkryk, “sodat U alles en in almal is” (Kol. 3:11). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page