August 14, 2020

August 13, 2020

August 12, 2020

August 11, 2020

August 10, 2020

August 6, 2020

August 6, 2020

August 5, 2020

August 4, 2020

August 3, 2020

Please reload

Recent Posts

Gedagte vir Vanadag

May 22, 2020

Ons herinner julle daaraan om Sondag, 24 Mei om 09h00 in te skakel by NG Fochville-Noord se Facebook blad en te luister na ons aanlyn-erediens. Ons nooi julle ook uit om vanaf Sondagaand, 24 Mei om 19h00 saam met ons Pinkster 2020 te vier. Die reeks se tema is “HELDER DINK, KIND VAN GOD”. Indien julle nie Facebook het nie, skakel daarna in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk.

 

JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)

 

DIE JODE NEEM AANSTOOT TEEN JESUS SE BEDIENING AAN TOLLENAARS EN SONDAARS.

(Matt. 11:2-19)

 

JESUS EN DIE VRAAG VAN JOHANNES DIE DOPER (1)

(Luk. 7:18-35)

 

GRADEER JOU GELOOF OP MET JESUS SE GESINDHEID!

 

Matt. 11:1-6 – “Toe Jesus klaar was met die opdragte aan Sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek. Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?’ Jesus antwoord hulle: ‘Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

 

Jesus het Sy uitsendingsrede aan Sy twaalf dissipels, in Kapernaum afgehandel en twee-twee uitgestuur, om verder alleen te gaan werk soos Matteus vir ons voorgehou het en reeds bespreek is (Matt. 9:35-11:1). Daarna het “Jesus daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek” (11:1). Matteus vermeld niks van die terugkoms van die twaalf apostels (gestuurdes) nie, maar Markus en Lukas vertel hoe die apostels aan Jesus kom rapporteer het oor hulle sendingwerk (Mark. 6:30;  Luk. 9:10). Vir Markus veral, was die apostels se dade en onderrig aan die mense belangrik omdat dit voortaan Jesus se bediening en optrede sou beïnvloed.

 

Matteus fokus vervolgens op die gemengde ontvangs en verskillende reaksies van die mense, op Jesus se leringe en preke. Eerstens hoor ons weer van Johannes die Doper wat intussen in die tronk beland het vanweë sy uitdagende prediking oor Herodes Antipas, (seun van Herodus die Grote), wat sy broer Filippus se vrou, Herodias, nie as vrou mag neem nie en Herodus nie daarvan gehou het nie (Matt. 14:4). Jesus het begin preek toe die Doper van die toneel verdwyn het en tronk toe is (Matt. 4:12).

 

“Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het,” en hy beleef dus reeds die vervolging soos wat Jesus vir Sy dissipels in die vooruitsig gestel het (10:16-40). Daar in die tronk het die Doper begin twyfel of Jesus wel “die Een is wat sou kom”, of die Man wat hy in die Jordaan gedoop het, en die Man waaroor hy gepreek het (Matt. 3), regtig die Messias is? Matteus verskaf nie redes waarom die Doper begin twyfel het nie , maar dit mag waarskynlik verband hou met Jesus se woorde (hoofstuk 5-7) en dade (hoofstuk 8-9) wat nie ooreenstem met sy verwagting van die oordeel wat die Messias sou bring nie, ook nie met die populêre verwagting by die Jode van die Messias se koms wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou bevry nie.

 

Die Doper stuur van sy volgelinge na Jesus toe om te gaan uitvind of Jesus “die Een is wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” Jesus gee aan sy gesantskap nie ‘n direkte antwoord op die Doper se vraag nie, maar stuur sy volgelinge terug met beloftes uit Jesaja wat Jesus se optrede in vervulling bring, én Sy omgee vir armes en hulpbehoewendes kenmerkend maak van Sy Messiasskap (Jes. 29:18; 35:5-6; 61:1-4). Dit omvat alles wat in Jesaja belowe word behalwe “gevangenes wat vrygelaat sal word” (Jes. 61:1b). Jesus gee nie ‘n direkte antwoord nie, maar eintlik sê Hy: “Só lyk Ek, só lyk die Evangelie!” Die Doper wat Jesaja se beloftes goed geken het, het seker toe besef, al is hy juis in die gevangenis, moet hy “nie aan Jesus begin twyfel nie.”

 

Johannes se probleem was moontlik dat hy vir homself ‘n beeld van Jesus opgebou het, en ten spyte wat hy as “voorloper van Jesus” (Joh. 3:28), oor Jesus gepreek het, Jesus nou toets aan dié beeld. Is dit nie dalk steeds menige Christen se probleem vandag nie? Klop die beeld en verwagting wat ons van Jesus het, met Jesus? Praat ons nie deesdae meer net óór Hom, in plaas daarvan om te ontdek wie Jesus vir óns is nie? My opinie is dat ons nie Jesus kan “ontdek” in ‘n boek nie, ons beleef Hom slegs deur ‘n verhouding in waaragtige geloof met Hom aan te knoop, ‘n een-tot-Een verhouding met God. Dis ‘n verhouding waar jy al jou vertroue stel in Jesus Christus om jou genadig te wees!

 

Wat is geloof? Dit is beslis nié die resultaat van ‘n kerklike beplanningsessie of iets wat ons in 'n kursus kan leer nie. Die Hebreërskrywer het ‘n poging aangewend om geloof te definieer in Hebreërs 11:1; Oswald Chambers het in die 19de eeu al gesê: “Geloof kan nie gedefinieer word nie, dit is ‘n geskenk van God self, waarvan ek net kan sê dat dit my die vermoë gee om God agter alles te sien, en wat my vul met die verwondering van ‘n kind”; Martin Luther se weergawe: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie, wat jy wel sien”. Stephan Joubert sê "geloof beteken om Christus te volg sonder enige voorwaardes en dit gebeur daar op grondvlak waar jy die Here ongekompliseerd liefhet."  

 

Daar is ook al duisende boeke deur die eeue oor geloof geskryf – soveel boeke, soveel menings! Jesus stel dit eenvoudig in die Boek van die lewe: As jy nie in Hom glo nie sal jy die gevolge van die oordeel moet dra. Jy hoef nie eers te wag tot die oordeelsdag om dit te hoor nie. As jy “nie in Jesus glo nie, is jy reeds veroordeel omdat jy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh. 3:18).

 

Ons weet dus in Wie ons moet glo, maar hoe lyk ware reddende geloof? Geloof is nie 'n lekker gevoel, of 'n werk wat ek moet doen nie. Geloof is om die geskenk van God se genade met leë hande te ontvang. Ek kan niks tot my verlossing bydra nie. Dit werk nie so dat hoe meer ek glo, hoe meer sal Christus vir my aan die kruis sterf nie. Geloof is nie net om te weet dat Christus vir my en jou aan die kruis gesterf het nie, maar ook te weet dat Sy kruis bo-oor ons sondes geskryf staan, en dit is ware reddende geloof! ‘n Reddende geloof wat selfs so klein begin soos ‘n mosterdsaadjie, maar wat groei tot volwassenheid tydens my en jou se persoonlike verhouding met Jesus Christus, wie ons volkome vertrou, en “nie aan begin twyfel nie.”

 

“Hy wat in ‘n rivier val, klou waarskynlik aan ‘n boomtak vas waardeur hy homself red. So klou ons ook te midde van sondes, in dood en ellende aan Christus vas met ‘n geloof wat swak is, maar tog, hoe klein ook al, heers geloof-in-Christus oor die dood en vertrap dit die duiwel onder sy voete” (Martin Luther).

 

Gebed: Here, vergewe my. Soos die Doper word my kop ook soms besoedel met kleingeloof. Dankie dat ek dan die Woord van God in my lewe kan aflaai deur dit intens te lees, te bestudeer en ook met ander te deel. Dit is ook wonderlik om te luister na dié wat die goeie boodskap van die Woord bring, te luister na hulle wat deur U gestuur word om te preek. Wanneer hulle preek hoor ek van U en dit bring my tot geloof in U sodat ek U kan aanroep in gebed (Rom. 10:11-15). Dankie Gees van God dat U my ook in hierdie Pinkstertyd in die waarheid lei, sodat ek my geloof in Jesus Christus kan lééf en dóén, al maak ek foute. Dankie dat ek verseker kan wees dat ek kan deel in die geskenk van die ewige lewe. Weerhou my daarvan dat ek nie só styf aan die aardse dinge vasklou, dat ek die hemel misloop nie. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.