top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


WIE GEVREES MOET WORD (1)

(Luk. 12:2-7)


DIE MOED OM ANDERS TE WEES!


Matt. 10:26-27 – “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af basuin.”


Jesus sit Sy gesprek met die dissipels voort voordat Hy hulle en al Sy ander apostels, insluitende ons, die wêreld instuur. Deurentyd verseker Jesus ons van ‘n dubbele troos: God in Sy volheid maak die taak van getuie wees moontlik, want Jesus stuur ons (Matt. 10:16). God ons Vader gee die woorde (10:19) en die Heilige Gees laat ons praat (10:20). Vervolging is dus ‘n bewys van egte dissipelskap want wanneer ons as leerlinge ons volledig vereenselwig met ons Leermeester (10:24), sal ons dieselfde dinge as ons Meester deurmaak (10:25).


Só gesien is dit verstaanbaar waarom ons “dus nie vir mense hoef bang te wees nie.” Realisties gesproke, deins ons egter maklik terug om oor die Here te praat wanneer ons tussen mense is, want ons is bang hulle deel nie ons opgewondenheid oor die Evangelie nie. Alhoewel die meeste Christene sterk gevoelens koester om die gesindheid van Jesus Christus te weerspieël, het hulle ‘n heimlike vrees om hulle ware opinie uit te spreek want hulle is bang om as dwaas bestempel te word, of, dat mense nie daarvan sal hou van wat hulle sê nie. Kortom, hulle wil nie wys hulle is “anders” nie, want om oor Jesus Christus te getuig, is jy nie deel van die “boys” nie.


Jesus sê egter ek en jy mag nie “geheime Christene” wees nie: “Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.” As ons bang is oor wat die mense gaan sê wanneer ons wil getuig, sal ons geheim, ons Christenskap vernietig! Lees dit weer asseblief. As ons nie wil waag om “anders” te wees as die res van die ongelowige wêreld nie en verskonings gebruik om nie oor Jesus Christus te getuig nie, kan dit rampspoedig vir ons geestelike lewe wees. Christelike getuienis vorm ‘n integrale deel van elke Christen se pelgrimstog. Saam met Paulus bely ons dus: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16a).


Die Evangelie van Jesus Christus, die “geheime” van die koninkryk van God “moet ons van die dakke af basuin.” Oral waar ons mense kan sien en hoor, oral waar mense óns kan sien en hoor, elke platform wat beskikbaar is, moet gebruik word, móét ons van Jesus Christus getuig. Dit is nie ek wat so sê nie! Jésus sê: “Wat Ek vir jou in die donker sê, moet jy in die daglig sê, en wat Ek in jou oor fluister, moet jy van die dakke af basuin”, al sê wie ook wat, jy móét! Hoor dit weer! Jésus Christus, ons Here, sê so!!


Om bang te wees, of te vrees, is ‘n verskriklike ding, dit lê jou lam, dit maak jou dood. Die storie word vertel van ‘n man wat ‘n vrou sien ryloop en haar oplaai. Hy vra haar wie sy is en waarheen sy op pad is. Sy antwoord: “Ek is Cholera en op pad na die volgende dorp om mense daar te laat sterf.” Die man het dadelik gestop om haar af te laai. Maar sy het hom belowe sy sal net vyf mense in die dorp wat reeds siek is, laat sterf. As bewys van haar belofte het sy vir hom ‘n kapmes gegee en beweer dat dit die enigste wapen is waarmee sy doodgemaak kan word, en as sy haar belofte breek, kan hy haar oor twee dae doodsteek met die kapmes. Teen die tweede dag het reeds 120 mense aan cholera gesterf. Die man was woedend en toe hy die vrou vind, het hy die kapmes opgetel om haar te dood. Sy het hom egter gekeer en gesê: “Ek het my belofte gehou en net vyf mense doodgemaak. Die ander het van vrees gesterf!”


Hierdie storie is ‘n ware gelykenis van die situasie waarin die wêreld en Suid-Afrika ons tans bevind. Waar Covid duisende afmaai, maai vrees tienduisende af want dit is die onbekende wat ‘n donker skaduwee oor ons toekoms werp. Dit is maklik om ‘n dissipel te wees in tye van voorspoed wanneer ons vol vertroue is. Maar dis ‘n ander saak wanneer dit voel asof God ver van jou af voel. Dit is dan juis die tyd wat ons in geloof moet wandel en nie volgens gevoel nie. Wanneer die wêreld om ons donker word en vrees ons wil oorval, onthou, God is nié die onbekende nie. God is altyd daar, Hy weet van ons: “Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie” (Deut. 31:8).


“Omdat geen mens daarvan uitgesluit is om tot God te roep nie, staan die hekke van verlossing oop vir almal. Daar is niks wat ons kan verhinder om in te gaan nie, behalwe ons eie ongeloof”

(Johannes Calvyn).


Gebed: Ewige God, my skuilplek teen die storms, my Rots om in te skuil. Ek loof u Naam omdat ek U eiendom mag wees en gedurig by U veiligheid mag vind! Buite U om is daar nêrens vir my beskerming en sekerheid nie. Sonder U sou ek nie kon lewe en werk nie. Ek is van U afhanklik vir alles wat ek in die lewe nodig het. Dankie Here, dag en nag ondervind ek U ondersteunende teenwoordigheid in my lewe, daarom is ek nie bang nie en sal ek nie struikel nie. Laat my nooit U hand los nie, want soos ‘n kind het ek geleer om by U veilig en gelukkig te voel. Amen. (Verwerking van Psalm 16; effens aangepas).


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page