top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


VERVOLGINGE WAT VOORLÊ (4)

(Mark. 13:9-13; Luk. 10:3; 21:12-17)


ALLES VERANDER WANNEER JESUS IN MY IS!


Matt. 10:21-22 – “Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ‘n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.”


Vergelyk ook Matt. 5:11 – “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê ...”


Asof die prentjie wat Jesus deur Matteus vir ons skets, nog nie donker genoeg is nie, gaan Jesus voort om die vervolging nader na ons te bring, daar waar dit die seerste kan maak. Bo en behalwe teenstand van hulle volksgenote, godsdiensleiers en owerstes van ander lande, moet die dissipels (en ons) ook vyandigheid in eie huise en families verwag. Die haat teen die gelowige sal só erg toeneem dat dit selfs die hegste eenheidsband onder die mense, die familieband, sal verbreek: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword” (Miga 7:6). "Ter wille van Sy Naam sal ons deur almal gehaat word.” Haat teen Jesus is sterker as bande van bloed!


Wanneer ‘vervolging’ aanbreek, moet ons daaraan dink dat Jesus ons daaroor gewaarsku het. God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur daarom sal ons gelowiges dit nie vryspring nie. Die wêreld is satan se speelveld en hoe nader jy aan Jesus Christus beweeg, hoe hewiger word satan se aanvalle! Verdeeldheid is satan se kos. Sy modus operandi het deur die eeue nog nie verander nie. Hy het in Genesis met Adam en Eva as ‘n gewone tuin slangetjie begin verdeeldheid saai – in Openbaring eindig hy as ‘n draak wat die hele wêreld verlei (Op. 12:9b). Om dus ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Dit beteken om jou kruis op te neem en “tot teen die einde toe te volhard.”


As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kán ons dit nie vermy om na die “kruis te gaan ter wille van ander nie.” As ons doel is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Ons eie familie en gesinslede, kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag, “vervolg” en selfs doodmaak. Ons Verlosser het immers nie toegelaat dat lyding verhoed om deur God gebruik te word om hulle wat Hy liefhet, te red nie.


Buitendien, niemand ly ooit tevergeefs vir Christus nie, want daar is vier hoofletterwoorde in hierdie belofte van Jesus: “Geseënd is julle wanneer die mense julle TER WILLE VAN MY … wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel … wie tot teen die einde toe volhard, sal gered word.” – en hierdie belofte word eintlik die res van die Nuwe Testament se tema. Jesus het die koninkryk van God kom herstel (Matt. 4:17) en waar Hy regeer, verander álles – dié wat treur, sal vertroos word; dié wat honger en dors is, sal versadig word en dié wat vervolg word, sal die koninkryk beërf. Jesus het gekom sodat ons as verteenwoordigers van God (Gen. 1:26), kan lewe en heerskappy voer!


Intussen, terwyl ons wag vir hierdie belofte om waar te word, wéét ons “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (Hand. 14:22). Maar, gelukkig wéét ons ook ons kan vashou aan “’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word” (1 Pet. 1:3b-4) en “omdat ons glo, word ons ook deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar sal word” (1 Pet. 1:5). Ons gelowiges hét die versekering dat God die verloop van die wêreldgeskiedenis in Sy hand hou. Die vervolgers kan maar saam met satan alles in die stryd werp om van ons gelowiges-in-Christus Jesus te steel en te verower, hulle sal nooit daarin slaag om die hemel van ons gelowiges-in-Christus, weg te neem nie.


“Jesus het vir ons gelowiges drie uiteenlopende beloftes nagelaat: Ons sal heeltemal vreesloos wees, onbegryplik gelukkig, en altyd in die moeilikheid by mense wat anders dink” (TR Glover).


Gebed: Ons dierbare Vader, dankie dat ek weet dat U by my is wanneer ek beledigings moet verduur omdat ek ‘n dissipel van U wil wees. Soms voel ek platgeslaan en wil moedeloosheid, beheer van my neem, maar gelukkig, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem duideliker. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Help my om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page