top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS GEE OPDRAGTE AAN DIE TWAALF (4)

(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)


JESUS SE VREDE VERANDER GESINDHEDE!


Matt. 10:11-13 – “As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.”


Vergelyk ook Jes. 55:11 – “So sal die woord wat uit My mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.”


Tot dusver het ons gesien dat Jesus die dissipels uitstuur met geloofwaardigheid oor hulle boodskap – hulle verkondig die waarheid verniet (v. 8), en hoef nie voorsorg te tref vir enige gebeurlikhede nie (v. 9-10). Hulle is ambassadeurs vir Jesus en tree op met die volle gesag van hulle Sender, Jesus. Hulle is beslis nie bedelaars wat met hoed in die hand die verlossingsboodskap verkondig nie! Dit gaan m.a.w. nou oor die Woordverkondiging en die kontrasterende reaksies van die mense, daarop.


Die dissipels moes vasstel by wie hulle kon tuisgaan, wie se gesindheid van só aard is omdat hulle die dissipels en verál, hulle boodskap aanvaar. “As die huismense se gesindheid goed is,” blyk dit dat hulle die krag van die Woord aanvaar, en “So sal die woord wat uit God se mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Hy gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Hy dit gestuur het.” Daardie huis sal vrede ondervind, nie op een of ander verdienste aan hulle kant nie, maar of hulle ontvanklik daarvoor was of nie.


Om die konteks van Jesus se vreemde opdrag dat “as die huismense se gesindheid nie goed is nie, trek julle vredewens dan terug”, beter te verstaan, is dit nodig om te weet dat daar baie rondreisende predikers en filosowe destyds was wat hulle boodskappe en idees vir geld aangebied het. Omdat daar nie motelle of gastehuise bestaan het nie, het hierdie “predikers” baie mense skepties gelaat met hulle valse leringe. Daarom was dit nodig dat die dissipels die huismense met ‘n vredeswens van Jesus, “shalom”, moes begroet, om die geloofwaardigheid van die boodskap, te bevestig!


Dit word vertel van ‘n sogenaamde rondreisende geloofsgeneser wat ‘n stelsel opgebou het waardeur hy mense ‘n rat voor die oë kon draai om geld uit hulle te kon kry. Dit was ook nie lank nie of hy het ‘n reputasie van gewildheid opgebou. Eintlik was sy “genesingsdienste” goed gekamoefleerde diefstal van arm, siek en weerlose mense. Tydens een van die dienste, bring die mense ‘n seuntjie wat verlam was na hom. Soos sy ritueel bepaal, het die “prediker” gebid, die seun se bene op en af geruk en hom beveel om op te staan en te loop. Toe gebeur dit … die seuntjie staan op en begin wankelrig te loop. Dit was die laaste “show” van daardie sogenaamde “prediker!” Hy het besef dat hy met ‘n groter “Krag” te doen het en het uit vrees gevlug. “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen” (Ef. 5:17).


Min dinge in vandag se lewe is so ontmoedigend as wanneer jou goed uitgewerkte plannetjies net nie realiseer nie. Die enigste manier om sulke ondervindings soos bogenoemde “geloofsgeneser” te vermy, is om eers God se koninkryk te soek, die res sal volg. God werk op maniere wat ons nie verstaan of kan uitpluis nie, daarom is dit nodig om God se vrede te ervaar en Sy leiding te soek in álles. God is nie beperk tot ‘n kerkgebou nie. Hy is ‘n lewende God en betrokke by elke omstandigheid van my en jou, ook daar waar ons saam met vreemdes is. Feit is, God is in elke denkbare situasie van ons lewe teenwoordig deur sy Heilige Gees.


Wanneer ons tyd deurbring in die stilte van God se teenwoordigheid, sal ons Sy vrede ervaar en derhalwe, ‘n liefdevolle gesindheid teenoor ons naaste openbaar. Dit beïnvloed weer ons benadering tot die mense óm ons, en “as die huismense se gesindheid goed is, kan ons vredewens vir die huis” die negatiewe magte van die bose verander na ‘n dinamiese verhouding met die lewende Jesus Christus. Ons word één met God, net soos Jesus beloof het: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh. 14:23). Ervaar jy die wonder van die inwonende God? Indien nie, hervorm jou denke en verander jou lewe. Laat die Heilige Gees ‘n lewende werklikheid in jou lewe word en jou onder Sy beheer laat staan.


“Heilig jouself, en die gemeenskap wat jy dien, sal geheilig word” (Franciskus van Assisi).


Gebed: O Gees van Waarheid, dankie dat U elke dag vir my ‘n lewende werklikheid is. Neem beheer van my lewe sodat ek kan leef tot U eer. Skenk my die positiewe gesindheid wat U wil hê ek moet openbaar, sodat mense by my, U vrede kan ervaar. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page