top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS GEE OPDRAGTE AAN DIE TWAALF (1)

(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)


VERSAMEL DIE OES!


Matt. 10:5-7 – “Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: ‘Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.”


Vergelyk ook Rom. 1:16 – Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”


In die voorafgaande gedeelte het Jesus Sy dissipels bemagtig en vervolgens stuur Hy hulle uit as apostels met spesifieke opdragte. Dit was die begin van die toegespitse onderrig van die apostels. Hulle het tot dusver heelwat van Jesus geleer en gesien, en word nou uitgestuur om “praktiese ondervinding” op te doen, bietjie “on-the-job training.” Hulle kry die geleentheid om vir ongeveer, die volgende drie jaar, dit wat hulle geleer het, in die praktyk te gaan toepas terwyl Jesus nog op aarde was, sodat Hy tot hulle nut kan wees sou hulle dit nodig gehad het. Net soos Jesus hulle geroep het om Hom te volg, stuur Hy hulle nou twee-twee uit sodat hulle mekaar kan ondersteun en met hul onderskeie gawes aanvul (Mark. 6:7).


Jesus se eerste opdrag dat hulle nie “met ‘n pad na die heidennasies toe moet afdraai nie en nie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie”, is vreemd en klink negatief. Trouens, Het God nie die hele wêreld in die visier nie? Reeds van Abraham se tyd af het God al die volke van die wêreld in die oog (Gen. 12:3). En nou stuur Jesus hulle “liewer na die verlore skape van die volk Israel toe.”


Maar Jesus se dieperliggende opdrag lê in die feit dat die twaalf moet begin daar waar hulle tuis is, verstaan en aanvaar kan word. Buitendien, die volk “was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie” (Matt. 9:36b). Die volk het in die streke van Galilea, Judea en Perea gewoon en was polities deur die Romeine uitgemergel. Terselfdertyd was hulle godsdienstig uitgebuit en “vasgebind” aan die moete en moenies van hulle godsdiensleiers. Die verpletterende verbondsvolk het dus éérste, redding, hoop en ‘n nuwe visie nodig gehad.


Die eerste motief van die sending is die eer van Christus wat terselfdertyd die eer van God is, en nié die eer van die sendeling nie. Dit gaan nóóit oor die sendeling nie maar oor Hom wat die sendeling stuur! En in hierdie geval kan ons die Sender, Jesus, se besorgdheid oor Sy mense verstaan, die aankondiging van “die koninkryk van die hemel het naby gekom”, het vir God se verbonsvolk, verlossing beteken.


Hoe pas ons vandag as sendelinge in hierdie koninkryk in? Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik, om geestelik te groei in die koninkryk van God. Daarom word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here.


Om geestelik te kan groei, moet ons eers die vraag beantwoord: Aan wie behoort ek – aan God of aan myself? Indien die antwoord ‘myself’ is, kan ons krag kry om hierdie selfbehebtheid te oorwin: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:24-25). Die opgestane Christus lê Sy verlossende hand op ons verlede, en doen dit steeds elke dag, om ons vry te maak van alle hindernisse sodat ons geestelik kan groei en vrug kan dra en sodoende, uit die sonde-slawerny verlos kan word.


Die storie word vertel van ‘n pa wat vir sy seun aangesê het om elke keer wanneer hy sondig, ‘n spyker in ‘n stuk hout te kap. Elke keer wanneer hy sy sonde bely en om vergifnis gevra het, kon hy weer van die ingekapte spykers uittrek. Die seun het na ‘n hele klompie jare sy pa meegedeel dat al die spykers uitgetrek is. Sy pa het hom prysenswaardig gelukgewens, maar hom die spykermerke wat in die stuk hout oorgebly het, gewys en gesê: “Seun, onthou een ding, wanneer jy aan God behoort, trek die Skrynwerker van Nasaret nie net die spykers uit nie, deur Sy Gees wis Hy die merke ook uit!” Aan wie behoort jy, aan God of aan jouself?


“Selfbewondering is die dood van die siel. Dit beteken dat ons geen begeerte het om te verander nie. En hulle wat nie wil verander nie, se siel is dood” (William Barclay).


Gebed: Dankie Here, dat ek ook geroep is om aan U te kan behoort, dat ek U kind kan wees (Joh. 1:12). Help my deur U krag en genade om U ambassadeur te wees in hierdie wêreld. Mag my selfliefde plek maak sodat die Heilige Gees my kan voorgaan om ‘n onbeskaamde getuie van U te kan wees. Laat my koninkryk gaan sodat U koninkryk kan kom. “O Heilige Gees, my Heer, wat my in waarheid leer, vernuwe my gemoed deur U genade. Laat my ‘n getuie wees, ek wil vertel van al U wonderdade” (Liedboek 441:1). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page