top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS STUUR DIE TWAALF UIT – DRAERS VAN DIE GOEIE NUUS (3).

(Mark. 3:13-19; Luk. 6:12-16)


DIE EERSTE ARBEIDSMAG VAN GOD (2)!


Matt. 10:1 – “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”


Vergelyk ook Eks. 3:11 – “Toe sê Moses vir God: ‘Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”


Die Christelike geloof stel baie uitdagings aan elke gelowige se karakter en persoonlikheid. Geheiligde uitdagings lyk soms só groot, dit voel dalk vir jou dat jy nooit daaraan sal kan voldoen nie. En tog, wanneer jy op hierdie uitdagings met opregtheid reageer, is dit asof daar ‘n nuwe lewe vir jou oopgaan. Die vroeë dissipels van wie Jesus groot dinge verwag het, was almal gewone mense net soos ek en jy. Maar, ten spyte van hulle onmag, het hulle op Jesus vertrou om hulle te help. Die res van die span wie Jesus aanvanklik bekwaam het vir die take wat Hy vir hulle in Sy koninkryk toegeken het, was:


Bartolomeus of Nataniël, die seun van Tolmai, was afkomstig van Kana in Galilea (waar Jesus water in wyn verander het). Hy kan gekenmerk word as ‘n hoogmoedige snob weens sy aanmerking oor Jesus as boorling van Nasaret (Joh. 1:45-46). Tog word hierdie snob deel van Jesus se gestuurdes en volgens tradisie doen hy sendingwerk in Armenië en word doodgeslaan.


Die ander dissipels wat deel van die span was, was die “stille werkers”. Ons weet feitlik niks van hulle nie. Ons lees omtrent net van hulle by hulle roeping. Jakobus die jongere, (miskien die broer van Matteus), het volgens oorlewering sendingwerk in Egipte gaan doen waar hy ook as martelaar aan ‘n kruis sterf. Taddeus, ook Judas, “seun van Jakobus”, genoem (nie Judas Iskariot), was moontlik die skrywer van “Die Brief van Judas” en het later in Assirië en Persië gepreek waar hy as martelaar sterf. Simon die fanatikus, was ook ‘n Seloot genoem. Hulle was bekend as die “dolkdraers” wat die Joodse Wet baie belangrik ge-ag het en selfs bereid was om dit met geweld af te dwing en te beskerm. Hulle het die vonk van die Joodse rewolusie in 70 n.C. teen die Romeine aangevuur.


Judas Iskariot, seun van Simon uit Keriot, was die enigste dissipel uit Judea. Hy was ’n belangrike en vertroueling onder die dissipels want hy het die beursie gedra (Joh. 12:6). Sy funksie was dan ook om die armes te versorg (Joh. 13:29). Tog het Judas, Jesus verraai vir 30 silwer muntstukke, dieselfde bedrag waarvoor ‘n slaaf gekoop kon word. Hy het later vol berou, selfmoord gepleeg.


Dít is die merkwaardige span dissipels, almal met uiteenlopende karakters, wat Jesus aanvanklik vir ongeveer drie jaar opgelei het om gestuurdes te wees. Dit is insiggewend dat daar in die dissipelkring van Jesus, selfs die gewelddadige was en ook ‘n skelm tollenaar. Wat ‘n Verlosser is Hy tog om deur sulke mense, die wêreld te kon transformeer. Dit beteken baie eenvoudig dat ek en jy, met ál ons tekortkominge en sondes, ook gebruik kan word om Sy kerk te bou. “Wie is ék? Sê nou maar ... Hoe sal ék? Nee, ek kan nie ... ek is maar net ‘n gewone mens.” Jy kan! God is aan die werk en Hy is ‘n Meesterkunstenaar. Hy verrig wondere met gewone mense soos ek en jy!


God het Maria, wat nog baie jonk was en nie opgewasse kon wees om die formidabele taak wat aan haar toevertrou is, kon uitvoer nie, gekies om Jesus se ma te wees; Hy het selfs ‘n moordenaar en hakkelaar soos Moses; egbreuker én moordenaar Dawid; Christenvervolger Paulus en nog baie ander, gebruik om as Sy instrumente te werk. “Dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer” (Fil. 2:13) want “Sy krag wat Hy uitoefen in ons wat glo, is geweldig groot. Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het” (Ef. 1:19). As jy gewillig is om in God se koninkryk te dien, sal Hy die toerusting en bekwaamheid verskaf. Maak net seker dat jy nie vergeet aan Wie die eer toekom nie.


“Elke Christen het ‘n totale Christus vir sy verlossing; ‘n totale Bybel as ‘n staf; ‘n totale kerk vir sy broederskap en ‘n totale wêreld as sy arbeidsveld” (Chrustostomus).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U nie verwag dat ek dinge bó my vermoë moet doen nie, maar wanneer U my roep, dit ‘n teken is van U vertroue in my dat ek wel vir die taak opgewasse sal wees. Dankie vir U wonderlike genade om ‘n onwillige en onbekwame mens soos ek, in U koninkryk te wil gebruik, terwyl U eintlik engele daarvoor kon aanwend. Hier is ek Here, ek is opsy gesit vir U gebruik, sonder U gaan ek nêrens nie! Op my pelgrimstog besef ek dit gaan nie oor gerief en plesier nie en soms voel dit of U my rigting verander, maar dankie Here, my eindbestemming bly dieselfde, by U. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page