top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


JESUS STUUR DIE TWAALF UIT – DRAERS VAN DIE GOEIE NUUS (2).

(Mark. 3:13-19; Luk. 6:12-16)


DIE EERSTE ARBEIDSMAG VAN GOD (1)!


Matt. 10:1 – “Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”


Vergelyk ook Gal. 5:25 – “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”


Nadat Jesus die hele nag op die berg in gebed tot God deurgebring het, het Hy vroeg die volgende oggend, uit ál Sy volgelinge, twaalf besondere manne uitgekies as dissipels en hulle mag gegee om dít wat Hy hulle geleer het, te gaan verkondig in Israel. Nie een van hulle wat deur die Here geroep is, het die nodige opleiding of vermoë gehad nie. Hulle kon nie op hulle eie kragte staatmaak om die taak wat aan hulle opgedra is, uit te voer nie. Hulle was almal gewone, swak en eenvoudige mense. Uit hulle eie krag het hulle weinig gehad om aan te bied, maar hulle is deur Jesus bemagtig, en gevolglik het hulle magtige en effektiewe getuies van die Here geword. Wie en wat was hulle?


Simon, ook Petrus genoem, was die seun van Johannes en ‘n visserman van Kapernaum afkomstig. Hy was deel van die nouer vriendekring van Jesus wat geglo het dat die onmoontlike, moontlik is deur op die water te loop (Matt. 14:28-29). Hy was ook geken as die impulsiewe geloofsheld, wat Jesus verdedig deur Malgus se oor af te kap tydens Jesus se gevangeneming; hy is die rots van die vroeë kerk, wat sterk sal uitstaan as getuie vir Jesus (Matt. 16:18). Na Jesus se hemelvaart, tree Hy as apostel, as een van die sterk gestuurdes op (Hand. 4:8-10; 18-20). Hy is die skrywer van die Bybelbriewe, 1 en 2 Petrus. Hy het ook sy swakhede gehad, waarvan Jesus se verloëning seker die ergste was (Matt. 26:73-74). Volgens oorlewering is hy in Rome onderstebo gekruisig.


Andreas, die broer van Petrus, was ook ‘n visserman afkomstig van Kapernaum. Hy was gekenmerk as ‘n optimistiese gelowige wat vir Petrus aan Jesus gaan voorstel het (Joh. 1:40-42), en ‘n vaste geloof in Jesus gehad het (Joh. 6:8-9). Volgens oorlewering het hy as martelaar aan ‘n kruis gesterf.


Johannes, seun van Sebedeus en Salome, was ook een van Jesus se binnekring. Alhoewel geken as Jesus se geliefde dissipel, word hy moontlik a.g.v. sy onstuimige geaardheid, deur Jesus as “Boanerges – man van die donder” genoem (Luk. 9:53-54; Mark. 9:38). Hy was ook ‘n visserman van Kapernaum af. Arrogant vra hy Jesus om ‘n ereposisie te beklee wanneer Jesus koning is (Mark. 10:37.) Hy was die enigste dissipel wat Jesus tot by die kruisiging volg. Jesus vra hom om na Sy ma om te sien tydens die kruisiging (Joh. 19:27). Hy was die apostel wat in die gemeente van Efese bedien het. Hy word deur die Romeine verban na die eiland Patmos om hom sodoende te stop om te preek. Hy is die skrywer van die Johannes Evangelie, die 3 Briewe van Johannes en ook die Boek Openbaring. Volgens oorlewering bereik hy ‘n hoë ouderdom en sterf a.g.v. natuurlike oorsake.


Jakobus, saam met sy jonger broer Johannes as “manne van die donder” genoem (Luk. 9:53-54; Mark. 9:38). Hy was ook ‘n visserman van Kapernaum af. Hy wou saam met Johannes ‘n ereposisie beklee wanneer Jesus koning is (Mark. 10:37.) Jesus neem hom saam met Johannes en Petrus op na die “berg van verheerliking” (Matt. 17:1-2). Na Jesus se hemelvaart, preek hy in Jerusalem en Judea. Eerste van die twaalf wie vir sy geloof ‘n marteldood sterf wanneer Herodus hom onthoof (Hand. 12:2).


Filippus, afkomstig van Betsaida in die Noorde van Israel, was die nugtere, logiese denker. Vir hom moet dinge sin maak en indien dit nie sin maak nie, sukkel hy om in te pas (Joh. 6:5-7; Joh. 14:8). Hy is een van die kragtigste getuies/gestuurdes wat die vroeë kerk vestig (Joh. 1:45; Hand. 8:5-40). Volgens oorlewering doen hy later sendingwerk in Frigië en sterf as martelaar in Hiërapolis.


Matteus of Levi die tollenaar, seun van Alfeus (en moontlik die broer van Jakobus), was ook afkomstig van Kapernaum. Jesus het in sy huis saam met hom en ander tollenaars en sondaars gaan eet (Mark. 2:15). As sendeling onder randfigure was hy ook die skrywer van die Matteus Evangelie. Volgens oorlewering het hy as martelaar in Etiopië gesterf.


Tomas, ook Didimus genoem, was afkomstig van Galilea. Hy word as die twyfelaar gekenmerk (Joh. 20:25) maar ook as ’n realis (Joh. 14:5-6). Sy geloofsbelydenis: “My Here en my God!” (Joh. 20:28), word as die klimaks van die Johannes-Evangelie beskou. Sy getuienis het baie ver gestrek. Die Mar Thoma Kerk in Sirië en Indië word allerweë aanvaar dat hy die stigter van die kerk is. Die tradisie is dat hy in 52 n.C. die oudste Kerk in Indië begin. Hy het in Musiris in Kerala geland en bekeerlinge onder Jode en Hindus in die dorpie Palayur gemaak. Daardie kerk bestaan vandag nog en is een van die grootste Christelike kerke in Indië. Volgens oorlewering sterf hy as martelaar naby Madras by die berg van St Tomas.


Al het daar reeds baie eeue sedertdien verbygegaan, is die goeie nuus van die koninkryk van God nog net so relevant. Jesus het jou en my vandag én môre nodig om Sy liefde aan ander te weerspieël en om só te lewe dat ander ook sal begeer om Sy volgelinge te wees. Al word ons ook blootgestel aan vervolging, weliswaar nie soos destyds of vandag nog steeds, in sekere dele van die wêreld nie, is dit eintlik elke gelowige se plig om uit dankbaarheid wat Jesus vir ons gedoen het, ander na Jesus Christus toe te lei. Is jy bereid om moontlik blootgestel te word met vervolging in die vorm van veragting, ontmoediging en spot, maar tog deur jou voorbeeld, ander na Jesus te lei? Laat dan die Heilige Gees jou lewe in besit neem en jou inspireer tot diens in die magtige Naam van Jesus Christus, ons Here.


“Gee jou lewe aan God oor: Hy kan daarmee meer doen as wat jy ooit in staat is om te doen”

(Dwight L. Moody).


Gebed: Gebruik my Here, soos U wil. Heilige Gees, ek stel my lewe vir U oop sodat ek deur U die stem van ons Vader kan hoor, verstaan en gehoorsaam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page