top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


DIE GROOT OES (3)


GEBED IS DIE SLEUTEL TOT DIE OPDRAG!


Matt. 9:35-38 – “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”


Jesus het simpatie met die menigtes waarmee Hy te doen gekry het tydens Sy aardse omswerwinge. Hy het vir hulle jammer gevoel om so rigtingloos en verwaarloos deur die lewe te sukkel. Jesus het mense gesien wat geestelik, fisiek en emosioneel leeg was. Hy kon die tekens raaksien van iemand wat uitgeput was. En alhoewel Hy waarskynlik ook moeg was ná elke dag se lang ure van werk, het Hy steeds die mense bemoedig en hulle probeer inspireer om te glo dat Sy teenwoordigheid kragtig en waar is. Om die mense te help om hulle las te verlig, “sê Jesus toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”


Jesus versoek Sy dissipels dat hulle moet bid: Hulle moet hulle afhanklikheid van die Here erken; hulle moet Sy onmisbare hulp en ingryping vra. Dit is belangrik om te weet dat elke gelowige ook deel is van Sy dissipels en dus deel is in hierdie hele saak van evangelisering, dat ons ook betrokke is en heeltemal van die Here se hulp en krag afhanklik is!


Dit is van uiterste belang dat ons vandag sal besef dat die werk van die kerk en die koninkrykswerk van Jesus Christus nie tot die prediker beperk is nie. Ware Godsdiens beteken ook nie om maar net Sondag vir ‘n uur na ‘n preek te gaan luister en die res van die week met alles-behalwe-Godsdiens besig te wees nie. Die Here leer ons om te bid vir die groot evangeliseringswerk wat gedoen moet word. Hy vra nié dat ons arbeiders moet gaan werf nie, maar dat ons die Here moet smeek om arbeiders uit te stuur. Dit behels nie net die beskikbaarheid van bruikbare arbeiders in Sy werk nie, maar ook verandering in die mense se harte aan wie die evangelie gebring word.


Dit is ook van uiterste belang dat ons besef, vanuit Jesus se oogpunt, bestaan daar nie nasies nie, maar slegs die wêreld. Die oes behoort aan Hom en dít is die oes waarvoor ons moet bid dat arbeiders uitgestuur sal word om dit in te samel. As ons as dissipels maar die vermoë het om die toestand op geestelike gebied te sien en reg te skat, sou ons weet dat die oes klaar ryp op die lande staan, dit is gereed om “geoes” te word vir God. In die arbeid van die koninkryk van God is dit nie nodig om ’n tyd werkloos te bly nie. Die oes is altyd daar, gereed vir die insameling.


Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak, naamlik die koninkryk van God. Daarom word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elkeen op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige deur gebed en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here. Geen Christen het ‘n spesiale taak nie, ons is as arbeiders geroep om die oes vir Jesus in te samel want ons is geroep om aan Hom te behoort


Die oes is op die lande. Ons hoef nie te wag totdat die oes ryp is nie, dit is klaar oestyd! Dit gee ons ‘n totaal ander siening van mekaar. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of ander gewoontes en volgens my keuse en mý keurlysie, en dit bring dan ook skeiding. Dit bring konflik, dit maak dat mense soortgenote opsoek – dié wat soos ek is en lyk. Maar ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk. Jesus roep ons na Homself. “Bid dan die Here aan wie die oes behoort …” en Hy sal jou omstandighede só bewerk dat Hy jou as arbeider kan gebruik en uitstuur. En dan kom daar ware herkenning, dán begin ons mekaar by die Eienaar van die oes raaksien: Jesus Christus!


"He has no hands but our hands to do His work today. He has no feet but our feet to lead men in His way. He has no voice but our voice to tell men how He died. He has no help but our help to lead them to His side" (William Barclay).


Gebed: Jesus Christus, Bron wat weg van Uself lewe in soeke na sondaarmense, hier is ek, sondaarmens, gebruik my! Vul my uit genade met U Gees sodat ek weg kan leef van myself en bid vir ander wat ook deel van die arbeiders kan wees om U oes in te samel. Dankie dat U my ook waardig ag om my te roep tot U diens. Maak my betrokke in U saailand en gee my krag dat die bydrae wat ek moontlik kan maak, nie te gering skat nie. Dankie Jesus dat U nie met die oë van mense kyk nie, maar dat U verstaan wat my werklike omstandighede is, asook die gesindheid waarmee ek vir U wil werk. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page