top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK.

(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)


DIE GROOT OES (2)


DIE ONMOONTLIKE KÁN MOONTLIK WORD!


Matt. 9:35-38 – “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”


Tot dusver het Jesus alleen die saad met Sy gesagvolle woorde (hoofstukke 5 tot 7), en Sy gesagvolle dade, (hoofstukke 8 tot 9) gesaai. Die menigtes staan soos 'n oes ryp in die aar om geoes te word, daarom stuur Jesus nou ál Sy die dissipels met volmag uit, om in woord en daad, te deel in Sy gesag en Sy taak eerstens in Israel te gaan voortsit.


Jesus het in dié tyd waarin Hy “al die dorpe en klein plekkies besoek het, die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak het”, mense gesien wat nie juis fisies moeg was nie, maar geestelik verwaarloos en moeg was, “moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie”, soos skape wat herderloos ronddwaal en naderhand so moeg raak dat hulle maar sommer net gaan lê waar hulle is. Dit was in die eerste plek verbondsmense van daardie tyd, mense wat deur die Fariseërs se wettiese godsdiens van moets en moenies, gedryf is tot by die punt waar hulle net nie meer kon byhou by al die reëls en regulasies nie.


Die godsdiensleiers, het dus nie meer hulle versorgingstaak as herders nagekom nie, en in dié proses, het die volk geestelik honger gely en gesmag na ware godsdiens, na ’n band met die lewende en genadige Verbondsgod, en verlossing van die Romeinse Ryk wat hulle verder uitgemergel het. Daarom kry Jesus hulle intens jammer. Hy het dag en nag gepoog om by ál die noodlydendes uit te kom met Sy bevrydende boodskap van die koninkryk van God, maar helaas, besef dat, terwyl Hy op aarde is, net op een plek op ‘n slag kan wees. Jesus “sê toe vir sy dissipels om ernstig te bid dat God meer mense se harte aanraak”, om te gaan vertel dat God se koninkryk gekom het.


Prof. Stephan Joubert skep vir ons ‘n pragtige voorbeeld van Jesus en ek haal graag aan: “Jesus Christus het geen geleerdheid gehad nie, tog het die meeste geleerdes deur die eeue by Hom kom leer. Hy het geen vervoermiddel gehad nie, tog het Hy binne drie jaar Sy boodskap oor God se koninkryk, effektief afgelewer. Sy enigste wapens was Sy woorde en Sy dade en tog het Hy daarmee die wêreldgeskiedenis omgekeer. Jesus het nie ‘n enkele boek geskryf nie, nie ‘n span gegradueerders en tegnici rondom Hom gehad nie, maar net ‘n paar ongeskoolde dissipels wat gehelp het om die Christendom binne twee duisend jaar, tot ongeveer twee biljoen laat groei het. Vandag lyk die wêreld vir hierdie ongeveer twee biljoen mense anders omdat Jesus aarde toe gekom het met ‘n eenvoudige bediening vol genade en waarheid. Jesus raak lewens vir altyd aan. Kom leer dus by Hom hoe die onmoontlike, moontlik word.”


Dit is ongeveer 2 000 jaar later en steeds is daar soveel mense wat rigtingloos en verwaarloos, verniel en stukkend deur die lewe probeer worstel, geskeurde huisgesinne, verwarde kinders, stukkende mense wat moeg en uitgeput is soos skape wat geen herder het nie. Waarom herhaal ons die foute van die verlede asof dit vir ons “anders” sal wees as die realiteit wat alreeds deur die geskiedenis bewys is? Waarom sal mense herhaaldelik die weë van die Here verlaat, terwyl Hy ongetwyfeld “die weg, die waarheid en die lewe is” (Joh. 14:6)?


Daar is altyd werk wat vir die Here gedoen kan word. Maar … is dit nie waar dat wanneer ons by die dienswerk vir die Here kom, dienswerk binne die gemeente en dienswerk wat na buite gerig is, ons dan baie maklik, nee, sê nie? “Nee, ek het nie nou tyd nie; nee, ek het nie die gawe nie; nee, ek het al my kant gebring.” En dan, snaaks genoeg, wanneer jy met vakansie gaan, dan het jy skielik energie vir alles waarvoor jy nee gesê het en verskonings uitgedink het. Die Here sê vandag, Woensdag, 8 April 2020 vir jou en my: “Bid dat die Here arbeiders uitstuur vir Sy oes” en Hy by jou en my begin! Kyk dan en ervaar, hoe die onmoontlike, moontlik word!


Vir ons taak of plig, is ons nie soos Jesus in Sy verlossingsplig, aan ’n sekere tydstip gebonde nie. Vir wat ons moet doen, “is enige tyd reg.” (Joh. 7:6b). Hierdie uitspraak sê dat ons nie sulke “ek-sal-nog-eendag” mense mag wees nie? Die tyd waarin ons nóú leef, is die tyd wat God vir my gereed gemaak het vir die uitvoering van die pligte wat Hy my gegee het; dis nóú die spesiale geleentheid wat Hy my gee; dis nóú die kans wat ek moet aangryp.


Daar’s nie so ’n ding dat die tyd vir dit wat die Here van my verwag, nog eers moet ryp word nie. Daarvoor is die tyd klaar ryp! Ons kan nie nog so ’n bietjie wag voordat ons regtig voluit dissipel van Jesus Christus gaan word nie. Wanneer die Here Jesus “se tyd vir Hom reg is” (Joh. 7:6a), en Hy op die vasgestelde tyd, wéér kom, moet ons selfverwyt nie verskriklik wees nie. Los dit vir die uitstellers, die mense wat dit wat die Here van hulle verwag het, die volgende jaar wou doen! Moenie een van hulle wees nie.


“Jy kan elke dag besluit oor tydsbenutting wat God jou gee. Jy kan lewe asof Christus gister gesterf het, vandag uit die dood opgestaan het, en môre weer terugkom. Of jy kan lewe asof Jesus dood is. Dit is jou keuse!” (Barbara Johnson).


Gebed: Here, in hierdie lydenstyd wil ek vra dat U my tyd, my dae indeel sodat ek my tyd oordeelkundig kan gebruik, want tyd is U geskenk aan my. Help my om nie my Godgegewe take en verpligtinge uit te stel nie, maar om geleenthede wat U my gee, met beide hande aan te gryp. Skenk my die genade sodat my besigwees dae, nie sonder U is nie, dat elke dag nie maar soos die vorige dag is nie – want dan is dit tot die dood toe leeg! Dankie dat U ín die tyd is, dat U tyd ‘n tyd-met-toekoms is, met nuutheid, nuwe lewe en krag. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page