top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE GENESING VAN ‘N STOM MAN


JESUS IS DIE VERSKIL!


Matt. 9:32-34 – “Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense ‘n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van ‘n duiwel was. Nadat die duiwel uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesê: ‘So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.’ Maar die Fariseërs het gesê: ‘Dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels dat hy die duiwels uitdryf.”


Vergelyk ook Jak. 4:8 – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”


Die twee blindes wat so pas genees is en weer kon sien, verlaat die huis waar Jesus Hom bevind. Vir Jesus is daar egter nie ‘n ruskansie nie, want, moontlik aangespoor deur die wonder wat hulle gesien gebeur het, bring “die mense ‘n man na Hom toe wat stom was omdat hy in die mag van ‘n duiwel was.” Duiwels was destyds gesien as demone wat in die lug was en oor onsigbare magte beskik het. Alles wat die mense nie kon verklaar nie, het hulle aan die magte van demone toegeskryf. Die feit dat hierdie stomme nie kon praat nie, het die waardigheid van sy manlikheid aangetas. Hy kon nie aan enige gesprekke deelneem nie en was derhalwe afgesny van die samelewing.


Jesus vra geen vrae nie, inteendeel, sy Naam word nie eers in die teks genoem nie, dryf die demoon uit en dadelik begin die man praat. Die menigte is daaroor verbaas dat die man kan praat en sien hierin ’n openbaring van God se mag, soos nog nooit in Israel nie. Die Fariseërs daarenteen, sien hierin presies die teenoorgestelde. Hulle breek Jesus se gesag af en beskuldig Hom daarvan dat Hy met die aanvoerder van die duiwels, Beëlsebul (Matt. 12:24), heul.


Dit gaan hier nie oor die uitdryf van demone nie, maar oor wat die oog sien en die impak wat Jesus op ‘n mens se lewe het. Wat het die menigte gesien en wat het Jesus se impak op hulle gehad? Hulle “was verwonder want so iets het nog nooit in Israel gebeur nie.” Vir die mens wat in nood is, is Jesus die antwoord om daardie nood te verlig – hoe dieper die nood, hoe dieper die gevoel teenoor Jesus.


Wat het die Fariseërs gesien en wat het Jesus se impak op hulle gehad? Jesus was vir hulle iemand wat in dieselfde liga as die Bose was. Hulle was te trots in hulle waardigheid wat hulle as godsdiensleiers beleef het, dat énige veranderinge aan hulle tradisies, gesien is as iets van die Bose. Indien Jesus reg was met Sy leringe, dan was húlle verkeerd, en dit kan nie, volgens hulle, so wees nie. Hulle was só verblind in hulle eie self-gerigtheid en weë, dat hulle nie die waarheid in Jesus en die krag van God raakgesien het nie. Die Fariseërs wat van álle mense veronderstel was om te sien wie Jesus is, is blind, en iemand wat glo in sy eie vooropgestelde idees, sal die waarheid ontken en die waarheid haat, en sal blind bly!


Jy kan nie ‘n stom persoon liefhê sodat hy gewoonweg kan praat nie. Dit sal nooit werk nie. En daar is geen dominee, raadgewer of familielid wat ‘n kind kan oortuig om die waarheid te hoor nie. Daar is net een kuur, een hoop vir ons kinders en geliefdes om die waarheid te hoor. En dit is ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus self.


Die stom man se enigste hoop was om Jesus te kry. Hy moes ‘n persoonlike ontmoeting met Hom hê. Hy was desperaat om genees te word. Tog lees ons: “die mense het ‘n man na Hom toe gebring.” Hierdie man het dus nie op sy eie by Jesus uitgekom nie, hy moes na Jesus gebring word. Hierdie man kon op sy eie rondbeweeg. Hy het egter nooit die moeite gedoen om self na Jesus te kom nie. “Die mense” moes hom bring.


Hierdie toneel sê soveel oor die toestand van meeste mense vandag. Hulle sal nie op hulle eie na Jesus gaan nie. Hulle moet na Hom gebring word deur hulle ouers, hulle vriende, hulle kerkfamilie. Net so moet ons ook ons kinders en geliefdes na Christus toe bring. Hoe doen ek dit, vra jy? Deur daaglikse, gelowige gebed. Ons moet ons geliefdes na Jesus toe bring, op ons knieë. Ons moet Christus vra om hulle hul eie belewenis te gee. Ons moet hulle na Jesus bring, om hulle eie aanraking te ontvang: “En Hom smeek om die hande op hulle te lê” (Mark. 7:32). Bid dat die Heilige Gees agter hulle sal aangaan, hulle sal lok en trek, hulle sal aanraak en wakker maak tot ‘n nuwe begeerte vir Jesus! Jesus is die verskil!


“Jesus het nie gekom om ons leed weg te neem nie. Hy het ook nie gekom om ons leed te verklaar nie. Hy vul net ons lewe én ons leed met Sy teenwoordigheid” (Paul Claudel).


Gebed: Here, dankie dat my kinders reeds vir U gekies het, dat hulle van kleins af U Woord kon ken. U weet dat hulle in ‘n moeilike wêreld grootword, ‘n wêreld wat U nie wil erken nie. Help my om hulle vir U groot te maak; om nie my eie idees op hulle af te dwing nie, maar hulle nogtans die regte waardes in te skerp. Gees van God, gaan agter hulle aan, maak hulle elke dag wakker met ‘n nuwe begeerte vir Jesus! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page