top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE VROU MET BLOEDVLOEIING (2)

(Mark. 5:21-43); (Luk. 8: 40-56)


GELOOF VERDRYF VREES!


Matt. 9:20-22 – “’n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: ‘As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.’ Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: ‘Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.’ Van daardie oomblik af was die vrou gesond.”


Vergelyk ook Mark. 5:27-29 – “Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was.”


Daar is min dinge wat ‘n mens so gou laat moed verloor soos siekte. Hierdie arme vrou was seker al verby daardie stadium dat sy nog enige hoop gehad het om na 12 jaar, ooit weer gesond te word. Die beste van alles is, is dat sy nie enige skuld aan hierdie siekte gehad het nie, en instede daarvan dat mense vir wie sy lief is, haar ondersteun, word sy uitgewerp en verstoot want sy is volgens die Joodse wet, onrein.


Wat sy menslik gesproke kon doen om haar eie situasie te verbeter, het sy gedoen, maar al haar pogings het misluk. Niks en niemand kon haar help nie. Haar lewe was een groot las en ’n stryd om oorlewing want sy was finansieel ook al geruïneer. Sy het niks gehad om enigsins voor te lewe nie, behalwe om haar kruis vir 12 jaar en moontlik vir die res van haar lewe te dra! Maar … dan kom daar ‘n wending in haar toestand: “Sy het van Jesus gehoor …” en na Jesus gegaan en net ‘n stukkie van Sy kleed aangeraak. Daar was geen fisiese kontak tussen haar en Jesus nie. Hy het eers van haar bewus geword nadat Hy ervaar het dat genesende krag uit Hom gegaan het. Dan sê Hy vir haar: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”


Jesus het dikwels vir mense gesê: “Moenie bang wees nie, wees gerus!” Met die storm op die See van Galilea het Hy dit vir Sy dissipels gesê. Hy het dit vir die bedroefde Jaïrus gesê toe sy dogtertjie dood is. Hy het dit aan Sy kerk gesê toe Petrus uit die gevangenis vrygelaat is. Aan Sy volgelinge het Hy gesê hulle sal vervolg word ter wille van Hom. Maar te midde van al die twyfel en angs, behoort “ons aan God, liewe kinders, en is die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in ons is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is” (1 Joh. 4:4).


Soos hierdie vrou in ons verhaal, kan ons Jesus vertrou om die onmoontlike te doen. Hy was bereid om uitkoms vir haar na twaalf jaar se lyding te gee, daarom sal Hy bereid wees om uitkoms vir jou as Sy kind te gee, ook in hierdie COVID-19 tyd. Jesus sê dat selfs die hare op jou kop getel is. Nét so groot is Sy liefdesorg vir jou terwyl Hy oor jou waak. Jesus vind niks in jou lewe té gering om Hom liefdevol daarmee te bemoei nie. Blind of stom of moeg of onseker of hartseer, maak nie saak nie. Na sulke mense het Jesus gekom. Sulke mense hoor: “Glo jy dat ek dit kan doen?" En "Moenie bang wees nie, wees gerus, jou geloof het jou gered!" Waarom sal jy dan nog bang wees? Vertrou op Hom, Hy sal jou nooit alleen laat nie, Hy is by jou! (Jes. 41:10).


“Die wyse mens bid in die storm tot God, nie vir beveiliging teen gevaar nie, maar bevryding van vrees. Dit is die storm van binne wat gevaar inhou, nie die storm van buite nie” (Emerson).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U oor my waak. Dankie dat U my Lig is wanneer die donkerte van siekte my wil toevou. Dankie dat U my moed gee in tye van angs, blydskap in ruil vir my hartseer. Wonderbaar is U Naam. Dankie dat U selfs weet wanneer ‘n haar van my kop val, daarom is ek nie bang nie, en vind my vrede in U, ook gedurende hierdie COVID-19 pandemie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page