top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE VASTYD (2) – NUWE INHOUD AAN UITGEDIENDE GODSDIENSTIGE GEBRUIKE!

(Mark. 2:18-22; Luk 5:33-39)


Matt. 9:15b-17 – “Maar daar kom ‘n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas. Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter. ’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”


Vergelyk ook Rom. 7:6 – “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”


Vervolgens antwoord Jesus die volgelinge van Johannes die Doper, dat daar weldra ‘n tyd van skeiding gaan aanbreek “wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word”, en dan sal die vreugdestemming verander in rou en kan hulle vas. Maar dit sal nie presies dieselfde funksie hê as wat vas vir Johannes die Doper-hulle of die Fariseërs gehad het nie. “Daardie tyd” het die dissipels wel beleef by die kruisiging, maar Jesus, “die bruidegom”, se opstanding uit die dode het gou hulle droefheid verander in vreugde.


In Sy antwoord gebruik Jesus verder drie beelde: dié van die huwelik, dié van die nuwe lap op die ou kleed, en dié van die nuwe wyn in die ou sakke. Tans gee Jesus te kenne dat Hy die bruidegom is wat teenwoordig is, en dat die bruilofsfees aan die gang is, d.w.s. die Messias is daar! Daarom is daar nou vir die swaarmoedige godsdiens van die Fariseërs nie meer plek nie. Die vreugdevolle feesgety het begin. Dit help nie om die koms van Jesus te vier terwyl mens nog vaskleef aan die ou godsdienstiges tradisies nie.


Die gedagte van die nuwe, vreugdevolle tydperk wat aangebreek het, word ingeskerp deur die tyd van vreugde, van nuwe klere en nuwe wyn. Teenoor die oorgeërfde godsdiens van die Jode staan die nuwe leer van Jesus in skerpe teenstelling. Ons kan nou op ‘n nuwe manier leef, want elke dag is feestyd. Feestyd, want ons glo aan ‘n Jesus Christus ván die kruis, en nie ‘n Jesus áán die kruis nie. Ons glo aan die lewende Jesus Christus want Hy het opgestaan uit die dood! Die “bruidegom” is wéér by ons, Hy was net spreekwoordelik, vir drie dae weg.


Ons gelowiges is nóú deel van Christus se liggaam, ons behoort nie meer aan die wet nie: “Deur (ons) verbondenheid met die liggaam van Christus het (ons) gesterwe en staan (ons) nie meer onder die wet nie. (Ons) behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is” (Rom. 7:4). Ons behoort aan “iemand anders”, ‘n nuwe Bruidegom, Jesus Christus! Hierdie Bruidegom het bewys dat Hy ons volmaak liefhet, Hy het Homself ten volle vir ons gegee, Sy álles, Sy lewe! Ons belange kom by Hom eerste, ons is ontslae van al die ou uitgediende godsdienstige tradisies van die Fariseërs en die Doper se volgelinge.


Ons opstanding in Jesus is egter nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan ééndag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut van Jesus se opstanding vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord: “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol. 3:9-10).


Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan – ons moet dus Maandag tot Sondag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes begrawe, elke dag opstaan en Jesus se lof verkondig. Christus moet al hoe meer word totdat Hy volkome alles vir ons is. Ons behoort nou ‘n vrugbare lewe te lei in diens van God. Ons kan God “dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”


Om bewustelik in die Here Jesus te bly, beteken om elke dag deur Sy Woord en Gees gevoed te word, elke dag in Sy teenwoordigheid te wandel. Ons moet met Hom praat omdat ons Hom persoonlik goed ken en omdat ons Hom liefhet en Hom vertrou. Daardeur word die lewensnoodsaaklike verbintenis met Hom bewaar. Waar die verbintenis met Christus sterk en kragtig is, lei dit tot ‘n vrugbare lewe – ‘n loot wat die vrugte van die Gees in oorvloed dra.


“Jou skatkamer is binne-in jou wanneer Jesus Christus in jou bly. Dit bevat alles wat jy ooit sal nodig hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite jouself te soek”

(Onbekend).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek deur U Gees in U bly. Laat U Gees in my werk sodat die grond van my lewe vrugbaar sal wees. Saai my lewe in U hemelse landerye sodat ek ‘n ryke oes in U koninkryk en tot U eer, hier op aarde kan wees. Snoei my reg sodat ek die vrugte van die ware wingerdstok kan dra, en sodat daardie vrugte, sterk en kragtig tot ‘n vrugbare lewe lei. Help my om die ou uitgediende godsdienstige tradisies en gebruike agter te laat en vandag saam met Jesus fees te vier. Gees van God, stel my asseblief in staat om dit reg te kry. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page