top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE ROEPING VAN MATTEUS (1)OM ALLES AGTER TE LAAT – ‘N MASSIEWE WAAGSTUK!

(Mark. 2:13-17; Luk. 5:27-32)


Matt. 9:9 – “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: ‘Volg My!’ Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.”


Nadat Jesus die verlamde man by Petrus se huis in Kapernaum genees het, stap Hy weer in die rigting van die see en al gaande, het Hy die skare wat Hom gevolg het, onderrig in die dinge van die Koninkryk van God. Langs die hoofweg het die tolhuis van Matteus gestaan. Daar het hy tolgeld en belastings van sy volksgenote ingevorder vir die skatkis van die Romeinse owerheid. Gevalle van oneerlike en oneerbare praktyke het onder die tollenaars, soos Matteus, voorgekom. Hulle het nie net belasting ingevorder vir die gehate Romeinse heersers nie, maar hulle eie persentasie bygevoeg. Hulle is as sondaars beskou omdat hulle, volgens die Jode, skelm was.


Dit is moontlik dat Matteus voorheen al vir Jesus voor sy tolhuis gesien verby loop het. Dit is ook moontlik dat hy van Jesus en Sy wonderdade gehoor het by ander mense wat tolgeld en belastings by sy tolhuis betaal het. Hy kon selfs tussen die skares gewees het wat na Jesus se leringe geluister het. En dan, op ‘n dag terwyl hy sy geld tel, hoor hy die Man van Nasaret wat vir hom sê: “Volg My!” Daar en dan sluit Matteus sy suksesvolle besigheid en volg Jesus saam met die vissermanne Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus. Hy was onmiddellik gereed om te gaan. (Ek wonder wat het hierdie twee broerspare van Jesus se keuse gedink? Dit is tog dieselfde man wat op ‘n baie oneerlike wyse ook hulle swaar verdiende vissersgeld, “gesteel” het.)


Maar vir Matteus was dit anders. Vir hom het dit beteken dat hy die bekende lewe van ‘n gesiene, ryk man met ‘n goeie inkomste, verruil vir ‘n ongemaklike plek in die samelewing waaraan hy nie gewoond was nie. Om Jesus te volg was ‘n waagstuk, weg van alles wat hy besit het, om ‘n nuwe, onseker en gevaarlike pad saam met Jesus te loop. Hy moes die onbekende aandurf, ‘n nuwe lewenstyl volg sonder om te weet wat die beloning sou wees of waar dit alles sou eindig.


Vir Jesus was dit ook anders. Hy het Matteus die tollenaar, as ‘n méns gesien. Jesus het nie toegelaat dat die vooroordeel van die Jode, van Hom af weerkaats moet word nie. Jesus het nie die gehate persoon van die samelewing gesien nie, maar die kwaliteite van ‘n mens gesien wat as ‘n nuwe skepsel, iemand sou wees met hartstog, liefde, hoop en geloof vir die evangelie, die Koninkryk van God!


Matteus het baie verloor, maar ontsettend méér gewen. Hy het ‘n tydelike gerieflike werk verloor, maar ‘n ewigheidsbestemming verkry. Hy het ‘n uitstekende inkomste verloor, maar het eer daarna ontvang. Hy het gemaklike sekuriteit verruil vir ‘n onbekende avontuur. Hy het sy belastingkantoor vir altyd verlaat maar gelukkig vir ons, sy pen saamgeneem. Toe Matteus sy belastingkantoortjie daardie dag verlaat het, het hy spreekwoordelik baie materialistiese skatte agtergelaat, maar die erfgenaam geword van ‘n fortuin!


En dit is wat Jesus van Matteus waargeneem het, Hy het hom daar van sy doeanekantoortjie weggeroep om voortaan nie meer kasboek en grootboek met sy pen te voltooi nie, maar om die eerste hoofstukke van die Nuwe Testament in die Groot Boek te kom neerpen. Dit is moontlik dat die Galilese vissermanne nie veel talente gehad het om woorde bymekaar te sit nie, maar Matteus, wie se werk dit was om ‘n pen te kon gebruik, kon sy skryftalent gebruik om ‘n byvoeging te maak aan die mees belangrike Boek wat ooit saamgestel is. Sy skryftalent moes gebruik word sodat die leringe van die mees belangrike Mens óóit op aarde, vir almal in die mees gelese Boek op die aarde, neer te pen! En Matteus se boodskap: Jesus is regtig die Gestuurde van God, die Messias, die Seun van God, wat almal wat verlore was, terugneem na God toe!


Om Jesus te volg beteken nie altyd dat jy jou gewone dagtaak moet verlaat nie, maar dit beteken wel dat wanneer Jesus sê: “Volg My!”, jy jou eie belange van jou eie klein wêreldjie, moet prysgee. Hoe onbekwaam en onwaardig jy jouself ook al beskou, hoe geheel anders van die algemene kerkganger of gelowige jy ook is, hoe verbaas of verstom ander mense ook oor jou is, Jesus kyk na die goeie dinge wat diep in jou hart verborge lê. Hy sien die kwaliteite wat Hy in jou tevoorskyn kan bring. Hy sal nie toelaat dat enigiemand anders, hierdie keuse van Hom beïnvloed nie. Om Hom te ken en in ‘n verhouding met Hom te wees, het sy eie beloning. Die dag wanneer jy alles agterlaat en Jesus volg, het jy ‘n lewenslange pelgrimstog wat uitgestrek voor jou lê – en aan die einde daarvan, nog oneindig meer wat wag!


“Die verantwoordelike persoon streef daarna om sy hele lewe ‘n antwoord te maak op die roepstem van die Here” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemelse Heer en Saligmaker, ek weet ek is nie wat ander mense is nie, maar as U my nodig het, wil ek saam met Jesaja sê: Hier is ek. Help my om die toekoms in te gaan wat U vir my voorberei het. Al wat ek is en het, wy ek aan U toe. Gebruik my soos en waar U wil, tot U eer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page