top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE GREEP VAN DIE SONDE – DIE GENESING VAN ‘N VERLAMDE MAN (3). (Mark. 2:1-12; Luk 5:17-26)


DIE VERGIFNIS VAN SONDE!


Matt 9:5-8 – “Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.’ Hy sê toe vir die verlamde man: ‘Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.’ Hy het opgestaan en huis toe gegaan; en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.”


Vergelyk ook Jes. 41:10 – “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”


Jesus se optrede om die verlamde se sondes te vergewe, wek ontevredenheid by die skrifgeleerdes wat daar tussen die skare mense is, om te waak teen afwykende beskouings. Hulle begin in hul harte allerlei bedenkings koester. Volgens hulle opvatting kan “God alleen sondes vergewe”, en dan moet daar ook die verlangde voorgeskrewe versoeningsoffer gebring word. Jesus het dus vir Hom die mag toegeëien wat net aan God toekom, en die versoeningoffers van die Joodse godsdiens opsy gestoot. (As hulle maar net besef het dat Jesus se kruisdood as énigste versoenende offer vir sondevergifnis, nog sou plaasvind.)


Deur Sy magswoord rig Jesus die verlamde man op, en beveel hom om as bewys van sy volkome herstel, sy bed self huis toe te dra. Die wonder wek algemene verbasing, wat spoedig verander tot spontane verheerliking van God. Genesinge het die mense reeds gesien, maar nog nie genesing wat met vergewing van sondes gepaard gaan nie. Wat die skrifgeleerdes as Godslastering wou bestempel, lei tot die verheerliking van God deur die skare wat “met eerbiedige vrees, God geprys het.” Die menigte mense was bang want daar was vir hulle iets wat onverklaarbaar voorkom. Hulle het iets wonderliks beleef, ‘n hopeloos verlamde staan op en dra sy bed self weg. Dit kan alleen gebeur as God self teenwoordig is. Daarom het hulle die genesing met ‘n “eerbiedige vrees” beleef.


Siekte is een van die moeilikste dinge in ons gevalle wêreld, veral ook iets soos hierdie verlamde man in die verhaal se gestremdheid. Die kroniese langtermyn lyding – wat baie meer mense as net die sieke of die gestremde raak, is ontsaglik en onbegryplik. Daar is min dinge wat ‘n mens so gou op moedverloor se vlakte plaas, ‘n mens selfs in depressie in beweeg, as siekte. Wie se sonde het hierdie teenspoed veroorsaak?


Daar is mense wat vra: “Maar wat doen sonde dan aan ‘n mens, maak dit dan nie saak nie?” Sonde maak ons miskien nie siek nie en bring dalk nie vir ons teëspoed nie, maar sonde sluit ons oë vir Jesus Christus, ons Verlosser. Dit kan ons blind maak sodat ons nie vir God kan raaksien in die wêreld en veral in ons eie lewens nie. Jesus verander die manier waarop mense na die wêreld kyk deur vir hulle, God te wys. Wanneer ons sien hoe groot God is as ons Sy krag ervaar in ons lewens, Sy teenwoordigheid en genade tydens swaarkry en siekte, en begin verstaan hoe lief Hy vir ons is en hoe Hy werk, verander die manier waarop ons na die wêreld kyk. God is besig met ons, is betrokke in ons lewens, beskerm en seën ons – ons moet net ons oë oopmaak sodat ons Hom kan síén.


Ons wil altyd 'n verduideliking hê wanneer dit kom by siekte, lyding, rampe en dood. “Waarom? Hoe kon dit? Wat is die verklaring hiervoor? Hoekom ek? (Hoekom nie ek nie, wat maak my beter as die volgende persoon?) Wat het ek gedoen om dit te verdien?” Mens antwoord dan vinnig: “God straf ons; God praat weer hard met ons. Ons moet ons net voor God verootmoedig, net ons sonde bely, dan sal dit weer beter gaan. Ons moet terugdraai na God toe dan sal Hy ...!”


God laat Hom nie manipuleer nie. Ons vermoede is gewoonlik dat siekte en lyding 'n soort straf is vir een of ander sonde of oortreding. Dis menslik om so te redeneer, maar dit kan nie teen God se rekening gedebiteer word nie. Mense wat buite God se beheer leef, is die groot verwoesters en chaos-skeppers. Die teenvoeter hiervoor is natuurlik om hulle in trurat in te bid! Leef só dat ander God se vrede en geregtigheid deur jou waar kan neem. Wys vir die wêreld dat God sy toorn en straf reeds ten volle uitgewoed het op die Here Jesus aan die kruis.


Helaas is siekte, hartseerdinge en dood deel van ons aardse bestaan. Ons het egter die versekering dat wanneer dit ons tref, God ons nie alleen los in ons lyding nie (Jes. 41:10). Baie mense sal kan getuig hoe hulle God se omgee ervaar het tydens een of ander krisis, hartseer of swaarkry. Dit is asof swaarkry maak dat ons God nader voel en Sy hulp genadiglik, beter ervaar.


Jesus, ons Middelaar het die sonderekening van ons ten volle betaal – “dit is volbring,” dit is afgehandel! Geen mens behoort eintlik te vra: “Verdien ek nou regtig om so swaar te kry, nie?” God skuld ons niks nie. Ons kan nie van God omdat-antwoorde op ons waarom-vrae verwag nie. God is Almagtig en soewerein – Hy doen wat Hy wil. Hy géé nie antwoorde nie omdat Hy sélf die antwoord is. Die boodskap van hierdie verhaal is eintlik eenvoudig: Kom na Jesus toe net soos jy is – in jou leegheid, bekommernis, swakheid, hulpeloosheid, onkunde, mislukking, skuldgevoelens en nood. Hy wag dat jy by Hom spreekwoordelik moet “inval”, wag dat jy Sy onvoorwaardelike liefde en genade sal ontvang. “Staan op, vat jou sonde en gaan na Jesus toe.”


“Wat ‘n verskriklike paradoks: Die sondaar word vir ewig vrygespreek van elke letseltjie van die sonde; terwyl die Seun van God vir altyd die letsels dra van die offer wat Hy daarvoor moes bring” (Richard Halverston).


Gebed: Hemelse Vader, dis soms vir my moeilik om vrede te maak met siekte en ek kan nie altyd verstaan hoekom nie. Dit is dan ook wanneer ek as swakke mens worstel met vrae soos hoekom juis ek? Waarom gryp U nie in en maak my weer gesond nie? Wanneer ek egter terugkyk op die herstelpad, dan besef ek dat U my hierdeur wil leer om meer dankbaar te lewe, om my onvermoë en U groot krag, soveel beter te besef, om ander siek mense raak te sien, te bid vir hulle en dankbaar te wees dat ek aan U behoort. Dankie dat elke ompad van my, U op pad is. Dankie dat ek elke keer kan besef dat U soms my rigting verander, maar nooit my eindbestemming nie. Wees my sondaar genadig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page