top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE GREEP VAN DIE SONDE – DIE GENESING VAN ‘N VERLAMDE MAN (2). (Mark. 2:1-12; Luk 5:17-26)


PLAASVERVANGENDE GELOOF!


Matt. 9:2b-5 – “… Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.’ Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: ‘Hy praat godslasterlik.’ Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: ‘Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?”


Vergelyk ook Jes. 43:25 – “En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.”


Die vier vriende ontsien geen moeite om die verlamde by Jesus te kry nie, breek die dak oop en laat hulle vriend spreekwoordelik by “Jesus inval.” Die skare binne die huis was seker verbaas oor die geraas op die dak, stof wat op hulle val terwyl hulle sien hoe iemand die dak oopbreek. Met bewondering het hulle gesien hoe vier mans, wat werklik bekommerd was oor hulle verlamde vriend, feitlik alle struikelblokke op hulle pad eenvoudig opsy skuif, om by Jesus uit te kom! Almal was egter nie geamuseerd nie. Onder die aanwesiges was daar ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat van Galilea, Judea en selfs van Jerusalem gekom het (Luk. 5:17).


Daarom bestempel die skrifgeleerdes Jesus se uitspraak “van sondevergifnis, as Godslasterlik.” Hulle voel gegrief hieroor want die uitspraak van Jesus is immers ’n aanranding van God se alleenreg om sonde te vergewe (Eks. 34:6), en gevolglik Godslastering wat deur die dood (steniging) gestraf behoort te word. Tog, indien hulle as skrifgeleerdes werklik die Skrifte geken het, sou hulle ook aan Jesaja 43:25 moes gedink het. Dan sou hulle Hom nie van laster verdink het nie.


Jesus, die Alwetende “het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: ‘Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” Sy vraag aan die skrifgeleerdes word eintlik ’n teenbeskuldiging, aangesien hulle slegte gedagtes húlle ontmasker as teenstanders van God, en aan die Bose se kant. In plaas daarvan dat hulle, as deel van die skare, net gekyk het wat Jesus doen, geluister het na Sy leringe, of selfs daardeur ervaar het dat die Koninkryk van God naby gekom het, kom hulle om te kritiseer. “Hulle ‘ja’ is nie eenvoudig ‘ja’ of hulle ‘nee’, ‘nee’ nie. Daarom is alles wat meer gesê word, van die Bose” (Matt. 5:37).


Jesus is bewus van die godsdiensleiers se siniese houding dat dit immers makliker is om te sê dat iemand se sondes vergewe is, wat nie gekontroleer kan word nie, as om te sê iemand moet opstaan en loop, wat sigbaar moet word, anders word die aanspraak as vals bewys. In hulle blindheid besef hulle nie dat Hy werklik mag het, én bevoeg is om sondes te vergewe nie. Om nou onweerspreeklik te bewys, (nie dat dit enigsins nodig was vir Jesus om iets te bewys nie), dat Hy wel albei die magte besit want Hy is die “Magtige God” (Jes. 9:5), gaan Hy voort om die verlamde man weer te laat loop.


Jesus weet ook wat in óns harte aangaan. Hy dring deur tot alle geheime in ons lewens en verwyder alle maskers, goeies en slegtes. Soos Hy hierdie vier vriende van die verlamde man se “geloof gesien het”, sien Hy ook ons geloof. Teenstrydig met die godsdiensleiers se siniese houding in hierdie verhaal, is dit opmerklik dat Jesus die verlamde man se sondes vergewe op grond van sy vriénde se geloof! Verstommend! Niks in die verhaal dui daarop dat die verlamde enigsins geloof in Christus gehad het nie. Sy vriende se “geloofstoets” was genoeg vir Jesus om hom te genees.


Die kern van hierdie verhaal is dat Jesus altyd gereed en wagtend is om Sy liefdeswerk te doen, of ons geloof sterk is of nie – selfs al kom ons in die krag van iemand anders se desperate pogings en hoop, om ons aan Hom te verbind. Dit bly egter ons eie keuse of ons in Jesus wil glo! Jesus is deur sy Gees steeds aktief werksaam in my en jou lewens, al lok dit kritiek by ander uit. Hy lei ons vandag steeds om God se wil te verkondig én te doen, al is dit teenstrydig met menigte ander godsdienstige tradisies. Die feit dat ons die ewige lewe besit, het ons aan Jesus wat sonde vergewe, te danke. Die louter wonder van Sy genade is die feit dat Jesus my en jou oorlaat om die beslissing te maak: Aanvaar “dat ons een is met Christus. Ons wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus” (Ef. 2:13); of, daarenteen, eerder op die kantlyn sit en Hom kritiseer dat Hy nie by magte is om sondes te vergewe nie!


“Geloof is ‘n doelbewuste vertroue in God wie se weë jy op daardie oomblik moontlik nie verstaan nie” (Oswald Chambers).


Gebed: Here, dit is onmoontlik om onvoorwaardelik in U te glo sonder om my medemens te dien. Maak my asseblief sensitief vir U wil en vir die nood van my medemens. Maak my standvastig en vasberade in die geloof, om by U uit te kom soos hierdie vier vriende in die verhaal. Help my ook om gewillig, aan te hou bid vir hulle wat nog nie by U uitgekom het nie, vir hulle wat met vooropgestelde idees, dit vir hulle moeilik maak om U waarlik te ken. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page