top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE BOSE – DIE GENESING VAN DIE BESETENES IN GADARA (5). (Mark. 5:1-20; Luk.8:26-39)


SÊ JA VIR CHRISTUS!


Matt. 8:33-34 – “Die wagters het weggehardloop dorp toe en alles daar gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. Die hele dorp het Jesus tegemoet gegaan, en toe hulle Hom sien, het hulle Hom ernstig versoek om hulle gebied te verlaat.”


Vergelyk ook Mark. 5:18-20 – “Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: ‘Gaan na jou huis toe, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.’ Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.”


Matteus sluit sy verhaal van die twee besetenes af, wanneer Jesus Gadara verlaat. Markus en Lukas voeg ‘n baie belangrike gebeurtenis by, en alhoewel ons besig is om op die Evangelie volgens Matteus te konsentreer, wil ons graag die teenstrydigheid van die man(ne) wat besete was en die res van die inwoners van Gadara met julle deel, want daar is baie meer in hierdie verhaal vir ons. Ons glo daar is ‘n belangrike boodskap wat bedoel is om Christus se kerk van vandag te versterk.


Die inwoners van Gadara weier Jesus en versoek Hom om hulle gebied te verlaat. Jesus stribbel nie teë nie en keer terug na die skuit. “Toe Jesus in die skuit klim, het die man(ne) wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan.” Markus en Lukas vertel dat dit net een man was wat voortaan altyd in Jesus se geselskap wou verkeer, maar dit word vir hom nie toegestaan om saam met Jesus te vertrek nie. (Hoeveel besetenes daar was, is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat hulle genees is.) Hoe teenstrydig is hierdie versoek nie teenoor sy landgenote nie – hulle versoek Jesus om hulle gebied te verlaat, en hy smeek Jesus “om saam met Hom te gaan.” (Logies klink dit reg: hy het sy demone verloor, die inwoners en boere van die omgewing het hulle varkies verloor – letterlik en figuurlik!)


Jesus weier die man se versoek en stuur hom terug huistoe en sê: “Gaan na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het.” Onverstaanbaar? Ek meen, hierdie man wou nie nog eers sy pa gaan begrawe nie (Matt. 8:21), hy is bereid om almal en alles te verlaat en dadelik een van Jesus se volgelinge word, hy is die nuutste aankomeling in God se koninkryk! En miskien het hy gevrees die demone neem weer beset van hom. By Jesus sou hy immers veilig wees! Jesus was sy Sekuriteit!


Wat hierdie gewese besetene van Gadara egter nie besef het nie, is dat Jesus nie fisiek by hom en by ons hoef te wees om ons te beskerm teen enigiets nie. “As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed …” (2 Kor. 5:5b-6). Jesus was op pad om terug te vaar na Galilea waar Hy reeds baie volgelinge gehad het, maar hier in Gadara, was geen getuies van Jesus nie. Buitendien sou die Gees van God hom vergesel en Hy sou die waarheid – die Goddelike kwaliteit wat dui op wat eg en waar is – bekend maak waar hy woon. Hy moes ’n lewende en sprekende getuie wees onder sy huis- en volksgenote om aan hulle te vertel watter dinge die Here in sy ontferming aan hom gedoen het. Die man doen meer: Hy gaan deur die hele gebied van die tien heidense stede, Dekapolis, ten ooste van die see en getuig van Jesus, en “almal was verbaas daaroor.”


Die Gadareners het Jesus geweier. Jesus dring Hom nie aan hulle op nie, Hy verlaat hulle. Jesus dring Hom aan niemand op nie. “Hy staan by die deur (van ons harte) en klop. As ons Sy stem hoor en die deur oopmaak, sal Hy inkom en saam met ons ‘n feesmaal hou” (Op. 3:20). Jesus sal nie Self die deur oopmaak of oopbreek nie. Inteendeel, by Sy kant van die deur is daar nie eers ‘n deurknop of sleutel om oop te sluit nie. Ek moet Hom binnenooi wanneer ek Sy stem hoor, wanneer Hy sê: “Gaan vertel wat die Here alles vir jou gedoen het!!!”


Dit is ‘n verskriklike ramp wanneer ‘n mens vir Jesus “nee” sê. “Nee”, want Hy pas nie in by jou lewensfeer nie. Jesus sê soms nee vir ons omdat Hy, soos vir die geneesde besetene, iets beters beplan. Dit is egter ‘n ander storie wanneer Jesus, op jóú versoek, omdraai en jou verlaat. Die implikasie is skrikwekkend! Jy bly alleen agter! Daar is niemand anders wat vir Jesus se afwesigheid in jou lewe kan opmaak nie. Jy gaan dit nie alleen máák nie. As jy “nee” sê vir Jesus, sê jy “nee” vir die lewe, en gevolglik “nee” vir die hemel! (Ek kry hoendervleis en ‘n hol kol op die maag terwyl ek hier tik en dink hoeveel mense wel “nee” vir Jesus sê!)


Jesus sê vandag, 12 Maart 2020, en elke dag hierna, vir ons soos vir die geneesde besetene(s) van Gadara: “Gaan na jou huis toe en gaan vertel …” dat Jesus ‘n verskil gemaak het in jou lewe! “Gaan na jou …” werk toe, daar waar jy speel en daar waar jy meeste van jou tyd deurbring, en gaan vertel dat Jesus jou barmhartig is! “Gaan na jou …” mense toe, jou familie en vertel van Jesus se liefde vir jou! Al bevraagteken hulle jou getuienis want dit weerlê eintlik jou lewenswyse waaraan hulle gewoond is omdat hulle jou ken. “Gaan …” buitendien. Dit is nie nodig om te gaan preek, te redeneer of te oortuig nie. Ons is nie geroep om die saad te laat groei nie, ons moet dit net saai, die Heilige Gees sal natgooi! Die behoefte in ons wêreld is meer mense wat kan getuig, wat net kan vertel. Gaan weerkaats Jesus se helder lig in jou eie donker wêreld, in jóú Gadara …!


“Die Evangelie bestaan nie uit raadgewings oor wat ons vir onsself kan doen nie, maar oor wat God uit genade gereed staan om vir ons te doen” (James Beattie).


Gebed: Christus, my Here, laat U beeld al hoe meer in my verskyn sodat ek dit kan weerkaats na ander om my en ook só, U goeie nuus kan versprei. Gees van God, interpreteer die Woord vir my, maak die Woord vir my lewend en lei my sodat ek kan “gaan en vertel” van wat nodig is sodat ons geestelik kan groei. “Want dit is God wat (my) bekwaam maak om Sy wil uit te voer” (Fil. 2:13). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page