top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE BOSE – DIE GENESING VAN DIE BESETENES IN GADARA (2). (Mark. 5:1-20; Luk.8:26-39)


AMBASSADEURS VAN DIE HOOGSTE GESAG!


Matt. 8:30-32 – “’n Hele ent van hulle af het ‘n groot trop varke geloop. Die duiwels het Hom gesoebat: ‘As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.’ ‘Gaan!’ het Hy vir hulle gesê. Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip.


Jak. 4:7-8a – “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”


Die duiwels wat in hierdie twee Gadareners ingevaar het, smeek nou om ’n guns. Hulle wil hul werkterrein nie verlaat nie. Kan dit wees? Inderdaad, hierdie bose wesens wat “baie gevaarlik was, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie” (v. 28b), wat ‘n skrikbewind gevoer het déúr die twee arme slagoffers, wat hulle misbruik en met bonatuurlike kragte bedeel het, “soebat nou dat Jesus hulle in die trop varke in moet stuur.” Jesus, die “Seun van God”, verteenwoordig álles wat hulle nie kan wees nie, in Sy teenwoordigheid kan hulle nie in beheer wees nie, en Jesus staan hulle versoek toe.


Deur ‘n enkele gesagvolle woord beveel Jesus die demone: “Gaan! En die duiwels is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar.” In die varke, wat deur die heidene in groot getalle aangehou was, mag hulle hul intrek neem. Jesus gee aan hulle verlof om van die onreine diere (Lev. 11:7), besit te neem. Jesus se bevryding van die twee mense het rampspoedige gevolge vir die trop varke. Die duiwels sit hulle vernietigingswerk voort en laat die varke oor die krans storm, in die see beland en verdrink. Hulle stort met dierlike vrees met demone en al in die dieptes van die see. Die demone het saam verdrink want hulle kan nie swem nie. Hulle haat water: “En wanneer die onrein gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie” (Matt. 12:43).


Onrein geeste – of demone – dwaal rond in dor plekke waar geen water is nie. Die rus wat hulle soek, is ‘n liggaam om in te woon, ‘n dor woonplek sonder water van enige soort. Saam met Jesus kan ons egter nooit sonder water raak nie, nooit dor raak nie: “Nee, die water wat Hy ons sal gee, sal in ons ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir ons die ewige lewe gee” (Joh. 4:14b).


Die dissipels was getuies van die ontmoeting by Gádara. Daar het Jesus vir ons, as Sy hedendaagse dissipels gewys hoe om die magte van die duisternis met Sy gesag, vreesloos te konfronteer. Dit was asof Jesus aan elke geslag wat sou volg, gesê het: “As jy My volg, sal jy te staan kom teen legioene van bose, verleidende geeste (Mark. 5:9b). En die boosheid wat Satan in hierdie wêreld vrystel gaan erger en erger word. Met hierdie duiwelbesete manne gaan Ek julle wys hoe om hulle te bedien wat deur die duiwel vasgevang en gemartel word. Julle sal my werktuie van vrymakende krag wees.”


Die probleem egter is dat ons as mense met tyd net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg dat jy later al minder sonder God begin leef, en helaas, deur die wêreld heeltemal só verswelg word, dat jy van God vergeet! Máár, met die genade van God kan ons ‘n suksesvolle aksie loods teen die invloed van die duiwel sodat Hy van ons af sal wegvlug. Hier gee Jakobus ‘n besliste en uitnemende instruksie: “Onderwerp julle dan aan God!” Kom tot inkeer – kies die heilspad, want die blydskap en genot van die wêreld eindig in droefheid en ewige dood – ons toekoms by God word op die spel geplaas.


Saam met die instruksie volg ‘n indringende selfondersoek – kyk in die spieël en neem die duidelike beeld waar van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge ons geplaas het. Ons persoonlike verhouding met God moet herstel word. Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het, moet oorbrug word. Die keuse van “onderwerping aan God” gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God!”


Jesus het nie die manne van Gádara veroordeel nie. Hy het hulle nie gevra hoe hulle so gebonde geraak het aan die duiwels nie. Daar was geen bestraffing nie, nie eers ‘n vraag nie. In plaas daarvan het Hy ‘n wonderlike wonderwerk van bevryding vir die gefolterde manne bewerkstellig. Ons het vandag steeds dieselfde Jesus wat in ons leef as die Een wat ‘n legioen duiwels uit die manne wat tussen die grafte gewoon het, uitgedryf het.


Ons het steeds dieselfde lewende Jesus wat Sy “twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle duiwels uit te dryf en siektes te genees, en hulle uitgestuur het om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Luk. 9:2). Nêrens in die Skrif vind ons dat hierdie gesag of mag herroep of teruggetrek is nie. Met ander woorde, Jesus roep ons om Sy gesag te gebruik om die duiwel op die vlug te laat slaan. Ons is Christus se ambassadeurs op aarde en ons moenie vrees vir die onbekende nie, want "ons behoort aan God, omdat Hy wat in ons is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is" (1 Joh. 4:4). Terwyl ons in Sy Naam getuig en optree, sal ons bewus word van die krag van die Heilige Gees, die Gees wat in ons is en ons sal lei in wat ons moet doen en sê: "Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug."


“Niks minder nie as totale oorgawe aan Christus is ‘n gepaste antwoord op Golgota”

(John Flavel).


Gebed: Here, ek is hartseer omdat ek maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, my toekoms by U op die spel plaas. Ek weet dat dit slegs tydelike genot verskaf en beslis nie deel is van U vreugde en plan vir my nie. Dit loop dood in ‘n konfrontasie met die Ewige. Maar, ek is méér as ‘n oorwinnaar deur U wat my liefhet. Omdat U in my woon en heers, hoef ek vir géén duiwel bang te wees nie, maar kan ek hulle in u Naam weerstaan en hulle sal van my af wegvlug. Maak my hart en denke oop vir U genadige invloed en wysheid sodat ek geestelike krag sal ontvang om my roeping te kan vervul. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page