top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE BOSE – DIE GENESING VAN DIE BESETENES IN GADARA (1). (Mark. 5:1-20; Luk.8:26-39)


JESUS MAAK VRY!


Matt. 8:28-29 – “Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van duiwels was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie. Skielik het hulle begin skreeu: ‘Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?”


Vergelyk ook Joh. 10:10 – “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”


Nadat Jesus die onstuimige see laat bedaar het, “het dit doodstil geword” (v. 26b). Ons neem dus aan dat daar geen wind was en die dissipels in die seilbootjie, verder moes roei om die oorkant te bereik waar die heidense gebied van die Gadareners, geleë was. Sodra hulle aan wal gaan, “het twee mense wat in die mag van duiwels was, Hom van die grafte af tegemoet gekom.” Wat ‘n ontvangs wag Jesus hier in! Hy het ‘n paar uur vantevore opdrag gegee om na die oorkant te vaar, heel moontlik om van die groot menigte weg te kom vir ‘n bietjie privaatheid (v. 18), en pas met ‘n wilde, woeste see afgereken en nou word Hy deur twee wilde, woeste, “uiters gevaarlike manne” begroet.


Eerstens, vir ons doel word nie ingegaan op kleiner of groter verskille tussen die evangeliste, Markus, Lukas en Matteus, waar hulle dieselfde geskiedenis vertel, nie. Ons let op Matteus se weergawe, wat die gebeure verkort om gewig te verleen aan Jesus se ware identiteit. Ons sal egter soms verwys na die ander evangelies om meer beskrywend te wees.


Aangesien die destydse grafte in die rotse uitgekap was, byna soos klein kamertjies, het diegene, wat uitgestoot geraak het uit die samelewing, hulle daar tuisgemaak. Dit was ’n ideale verblyfplek van mense wat deur onreine geeste besete was of wat met bose geeste omgegaan het. Êrens het ‘n hele klomp bose geeste toegang tot die twee Gadareners verkry. Hulle is op die rand van die samelewing uitgeskuif en die voorportale van hierdie rotsgraftes, was ’n heenkome vir hierdie twee uitgeworpe en verstote mense. Hulle was gestroop van hulle tuistes, moontlike families en weg uit hulle dorp – “hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie”hulle was gestroop van alles wat vroeër vir hulle mooi en kosbaar was.


Dáár, van die grafte af, “kom hulle Jesus tegemoet en begin skreeu: ‘Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” Opmerklik dat hulle Hom van ver af reeds as die “Seun van God” erken. (Die bose erken Jesus maar vandag is daar steeds miljoene mense wat Hom nie erken nie!) Lank voordat Sy eie dissipels Jesus as die Seun van God kon bely, het die duiwels al geweet dat hulleself nog eendag in die Goddelike gerig sal kom. Gevolglik het hulle hul vrese luidrugtig geopenbaar. Hulle besef dat hulle voor die Almagtige, die Koning van die heelal te staan gekom het. Hulle arrogansie versmelt tot ‘n kermende gepleit dat Hy hulle tog nie sal pynig voordat die bestemde uur vir hul ewige straf aangebreek het nie.


Kan dit wees dat hierdie bose wesens hierdie mooi belydenis uiter: “Seun van God?” Dis mos wie Hy werklik is! Maar dis nie omdat hulle in Jesus glo nie, maar Sy mag erken. Dis dieselfde woorde wat die Joodse godsdiensleiers van woede laat stik het en die aanklag op grond waarvan hulle Hom laat kruisig het! Inderdaad, vir demone het Jesus Christus, “die Seun van God”, ‘n intimiderende konnotasie en boesem Hy vrees in. Hy verteenwoordig alles wat hulle nie kán wees nie, want lig en duisternis kan nie saam bestaan nie. Demone kan nie bestaan wanneer die Sterker Een gekom het nie. Dit is Hý wat lank terug “hulle uit die hemel uitgewerp het” (Op. 12:9), en dis Hý wat hulle eendag finaal na die “ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matt. 25:41), gaan stuur.


Hoe anders as hierdie “twee mense wat in die mag van duiwels was,” kan ons as gebroke, stukkende, sondaarmense oor Jesus voel? Hy het nie “gekom om ons te pynig nie”, maar om ons te red, te genees en vry te maak van die sonde. Ons hoef nie van Hom af weg te vlug nie; hoef ook nie te vra: “Wat het U met ons te doen?” nie. Hy het vir ons gevalle sondaars, genade en redding gebring. “Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”


Jesus het gekom om “lewe te bring, en dit in oorvloed.” Hierdie uitspraak van Jesus is die werklikheid. Hy het gekom sodat die sondaar “lewe kan hê”, dit wil sê die ewige lewe wat in hierdie lewe reeds begin. Mense wat Jesus vertrou, wat “Hom volg omdat hulle Sy stem ken” (Joh. 10:4), sal die lewe in al sy volheid hê. Geloof in Jesus bring vir jou vreugde, nie ‘n oppervlakkige jolige lewe met geen diepte nie, maar ‘n diepgewortelde lewe wat die realiteite en “diewe” tegemoetgaan met ‘n kalm vertroue en die wete dat God die finale beheer het, selfs teenoor die bose!


Geloof in Jesus maak ‘n mens doelgerig. Dit gee hoop in moeilike omstandighede; dit skep orde wanneer ‘n mens uitmekaar wil val; dit is die verskil om ‘n “lewe in oorvloed” of gebrek te lei. Die antwoord hiervoor is Jesus, en die keuse is myne en joune of ons die “lewe in oorvloed”, of eerder die “dief wat net kom steel en slag en uitroei”, verkies. Ons is egter gewaarsku: Soos die dief, (die duiwel), die twee besetenes van Gadara se identiteit, hulle geluk, gesin, gesondheid, drome, toekoms en gesonde verstand gesteel het, sal hy, God se drome vir ons, die doel van ons lewe, ook steel!


“Die waarde van ons lewe is nie in die lengte van dae nie, maar in die gebruik wat ons daarvan maak” (Michael de Montaigne).


Gebed: Here, ek bid vandag vir hulle wat nie die lewe in al sy volheid ken nie, vir hulle wat net bestaan. Ek bid vir hulle wie se lewe leeg is sonder U. Ek bid dat hulle U stem sal erken, dat hulle ook die volheid, die oorvloed van die lewe sal ervaar wat U na hierdie wêreld gebring het. Ek bid dat hulle met hulle héle hart, U sal aanneem in geloof. Amen .

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page