top of page

Gedagte vir Vandag


AS-WOENSDAG


Psalm 103:14-16 – “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg, en sy plek vir altyd leeg.”


Vergelyk ook Matt. 11:28 – “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee."


Vergun ons om vandag af te wyk van ons gewone “Gedagte vir Vandag”, en al ons lesers daaraan herinner dat Woensdag, 26 Februarie 2020, ‘n baie spesiale dag in ons Christene se Kerkjaar, was. Dit was die dag wat reeds vroeg in die tweede helfte van die vierde eeu, in die Westerse en Oosterse Kerke ter voorbereiding op Paasfees ingestel is. Dit was dan ook beskou as die begin van ’n 40 dae reis op pad na die opstanding van Jesus Christus.


Die getal 40 is ’n belangrike getal in die Bybel: 40 dae en 40 nagte was die wêreld onder vloed; Moses was 40 jaar in die woestyn voor God hom geroep het tot take van nasiebou en mensebevryding; die Israeliete het 40 jaar in die woestyn geswerf; voordat Jesus se openbare bediening begin het, het die Heilige Gees hom uitgedryf in die wildernis in, om daar vir 40 dae deur satan beproef en deur die engele versorg te word.


Die kruis is die belangrikste simbool van ons Christene (daarom die gewildheid van juwele en bufferplakkers van kruisies). Met die kruissimbool bely ons Christene dat die lyding en sterwe van Jesus vir ons sentraal staan in ons geloof. Dit is dan ook die voorbereidingstyd om terug te dink aan die verskriklike lydingstyd wat ons Here Jesus Christus vir ons die pad van lyding geloop het om ons van sonde en dood te red. Hierdie dag staan bekend as AS-WOENSDAG, die begin van Jesus se Lydenstyd en Christene regoor die wêreld, smeer die as van die verbrande palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag op hul voorkoppe.


AS-WOENSDAG is die eintlike begin van die Lydenstyd in die kerklike jaar en hierdie jaar was dit eergister op Woensdag, 26 Februarie, gevier. As-Woensdag is oorspronklik gevier deur die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag te verbrand en met olyfolie te meng. Dié mengsel is dan gebruik deur ‘n kruis op gemeentelede se voorkoppe aan te bring met die gepaardgaande woorde: “Mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer.” As word gesien as ‘n teken van verganklikheid en boetedoening en daarom onthou ons Christengelowiges:


  • Dat ons sterflik is en oor die ewigheid moet nadink;

  • Wat ons sonde God gekos het;

  • Dat ons nou vir die sonde dood is en deur Jesus se wonde genees is (1 Pet. 2:24);

  • Dat ons berou oor ons sondes het en vergifnis wil ontvang (1 Joh. 1:9);


HOEKOM AS? In die antieke Bybelse tyd is hartseer en berou dikwels visueel uitgedruk – mense het growwe materiaal klere (sakklere) aangetrek en as of stof op hulle hare gegooi. Dit herinner ook aan die stof waaruit Adam geskep is (Gen. 2:7) wat natuurlik die mens se sterflikheid en aanspreeklikheid teenoor God beklemtoon.


LYDENSTYD is die veertig weeksdae en ses Sondae wat Paasfees op 10 April tot 13 April 2020 voorafgaan. Dit is die tyd wanneer ons die lyding en dood van Jesus Christus herdenk en die erns, omvang en konsekwensies van Jesus se lyding, probeer besef.


Willie Jonker skryf die volgende oor Lydenstyd: “So is die lyding van Christus vir ons tot ‘n onuitspreeklike troos, nie alleen in ons bewussyn van ons sonde nie, maar ook wanneer ons terneergedruk word deur die kwaad wat in die wêreld skynbaar heerskappy voer, en in die pyn van ons eie lyding. Noudat God só diep tot ons neergedaal het, is ons lewe omvang deur die genade en staan dit in die teken van die lig.” Kom tot rus. God nooi jou uit, gee alles wat jou bekommer vir Hom: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed” (Jer. 31:25).


LYDENSTYD is ‘n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, gebed en diens aan ander. Dit is die tyd wat Christene wêreldwyd laag buig voor die Here, hierdie tyd gebruik om nog méér Bybel te lees, te oordink en doen! Raak bewus van Sy teenwoordigheid in jou lewe en praat met God daaroor. Dank God vir Sy onverganklike liefde, Sy allesdeurdringende en alomteenwoordige liefde en pleit opnuut weer ernstig om vergifnis. Pleit soos Dawid van ouds: “Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” (Ps. 51:11-12).


“Genade word nie gemeet volgens boekhoubeginsels nie. As die wêreld deur goeie rekeningkunde gered kon word, sou ons heil gelê het in Moses se wet, nie by Christus se kruis nie. En niemand sou gered kon word nie” (Robert Farrar Capon).


Gebed: Here, wanneer ek stil raak voor U, dink ek in diepe afhanklikheid aan die lyding wat U moes deurstaan om my te bevry. Ek is daarom nie meer wie ek was nie want U het my nuutgemaak. U veroordeel my nie oor my mislukkings nie, want ek behoort aan U. Dissiplineer my as gelowige pelgrim om die volgende 40 dae die geestelike reis op te neem en my verganklikheid nie te vergeet nie. Dankie dat ek deel het aan U opstanding! Suiwer my van selfsug sodat ek deur U Gees gelei kan word om te dien. Werk deur U Gees in my, ‘n gesindheid op om teenoor ander op te tree soos wat ek sou wou hê hulle my moet behandel. “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my weer U met toewyding dien” (Ps. 51:14). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page