top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN!


AMEN! (4) – GELOOF IN PRAKTYK!


Matt. 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Vergelyk ook Luk. 6:46 – “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie.”


Jesus se outoriteit strek verder wanneer Hy met gesag bekend maak dat nie “elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt. 7:21). Jesus maak bekend dat Hy nie ‘n gewone rabbi is wat hier praat nie, maar Iemand wat gehoorsaamheid eis van Sy hoorders. Jesus is meer as ‘n gewone onderwyser wat advies uitdeel aan mense wie dit wil of nie wil aanneem, afhangend van hul eie diskressie, nie. Hy is ons Meester wat ons waarsku wat die verskil is tussen lewe en dood! Hy is in beheer op die finale oordeelsdag.


Wanneer Jesus praat oor die finale oordeel, plaas Hy Homself op God se troon as die Een wie die mag het om mense hel toe te stuur: “Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:23). Indien ons nie gehoorsaam is aan Jesus se woorde nie, het ons die keuse of ons deur die nou poort van egte dissipelskap die ewige lewe wil ingaan, of deur die breë poort die verderf in. Daar is ongelukkig geen middeweg nie!


Gelukkig het Jesus vir ons gelowiges, in ons eie taal, die Bergrede gegee wat juis wil duidelik maak wat navolging werklik behels. Dit beteken nie dat ons nou heerlik agteroor kan sit en die Here net bedank vir die mooi boodskap nie, inteendeel, dit maak ons keuse ‘n noodwendigheid. Die outoriteit waarmee Jesus Sy Bergpreek afsluit, neem alle verontskuldiging van ons weg.


Ons staan nou “naak” voor Hom, gereed om geklee te word, nie met vyeblare soos Adam en Eva probeer doen het nie, maar met Jesus Christus self. Die praktiese uitlewing van Jesus se lering is om in jou daaglikse lewe, jou geloof en positiewe goeie dade te verenig sodat dit “vennote” word in jou geestelike lewe. “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6). Jesus het alles opgeoffer sodat ons uit liefde en dankbaarheid kan dien as Sy voorbeeld! Ons is vrygekoop en leef nou as mense met hoop om met liefde uit te reik.


“Die Evangelie is nie ‘n abstrakte geloofsleer nie, maar ‘n praktiese leefwyse” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here Jesus, net soos die skare wat destyds na U woorde geluister het daar op die berghang, luister ek ook vandag. Ek weet U het met gesag gepraat en dit behoort enigeen eintlik onmiddellik ‘n ware dissipel van U te maak, maar die tragiese hiervan is dat baie van ons steeds aan die donker vasgekluister is. Here, my gebed is dat elkeen U woorde van Johannes 12:48 ter harte sal neem: “Wie My verwerp en nie My woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.” Sjoe, Here, bewaar my asseblief daarvan. Laat my U roepstem duidelik hoor en skenk my die genade om dit sonder huiwering te gehoorsaam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page