top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN!


AMEN! (3) – DIE ROEPSTEM VAN GOD BESIEL ONS TOT GETUIENIS!


Matt. 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Vergelyk ook Heb. 1:1-2 – “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”


Jesus het die skare met outoriteit toegespreek. Die skare was stomgeslaan. Sy eerste uitspraak van outoriteit was vroeg in Sy preek toe Hy gesê het: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê” (Matt. 5:11). Indien Jesus ‘n gewone leermeester, skrifgeleerde of profeet was soos Jesaja byvoorbeeld, sou ons verwag het dat Hy sou gesê het: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van God beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê”, maar Hy verwys egter na Homself.


Indien die Man van Nasaret net ‘n gewone mens was en niks meer nie, sou hierdie verklaring godslasterlik en buitengewoon selfsugtig wees. Jesus was tydens Sy aardse verblyf nié net volwaardig mens nie, Hy het steeds God gebly. As die Seun van God en as Messias, besit Hy die gesag om ons toewyding en diens, vir Homself toe te eien.


Later in Sy preek maak Hy nog ‘n feit van outoriteit bekend: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet en profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om dit ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Jesus het GEKOM, nie as iemand wat gou-gou vir ‘n besoek by Galilea kom aandoen het nie. Hy het God in die hemel se boesem verlaat, stoksielalleen aarde toe gekom, sonder enige engele wat Hom vergesel het om Hom te beskerm, sonder enige hooggeplaastes wat Hom ontvang het. Daar was slegs ‘n paar beteuterde skaapwagters by die feestelike koms van die Seun van God.


Die Prins van die hemel het die Kind van die krip kom word. Hy is die vervulling van al die beloftes in die Ou Testament – “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (Mark. 1:15). Alle nasies sal voor Hom buig en Hom dien (Ps. 86:9). Hy kón dus met gesag sê dat Hy gekom het om die wet te vervul.


Jesus kon met gesag aan die skare verkondig dat hul geestelike leiers, die skrifgeleerdes en Fariseërs, dit verkeerd het met die wet. Hulle het hul eie interpretasies gebruik deur die wet só te verdraai, sodat hulle eie behoeftes bevredig kon word. Daarom kon Hy met gesag aankondig: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt. 5:20). Hy het voor die skare gestaan en nie namens God gepraat nie, maar as God self.


Jesus het met elkeen van ons gepraat en ons gekonfronteer dat ons “Sy woorde gehoor het en daarvolgens moet handel.” Ons moet hoor hoe ons moet leef om God se hart bly te maak want die Bergrede gaan oor lewe, die ewige lewe! Daarom is dit nodig dat ons ‘n keuse moet maak op Jesus se dringende appél. Dit is egter nie genoeg om Jesus se “lering van gesag” net te erken en te ken nie, jy moet dit ook uitleef. Een van die grootste bates van Christenskap is dat die lewende Christus vir elke gelowige wat Hom deur die Heilige Gees as Saligmaker aanneem, ‘n geweldige inspirasie is. Daardie inspirasie wissel nie saam met jou emosies nie, maar is blywend vanweë Jesus se lewende teenwoordigheid. Kies vandag opnuut wie jy gaan volg! Dit sal bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring.


“God die Vader is die gewer van die Heilige Woord; God die Seun is die tema daarvan; God die Heilige Gees is die outeur, die waarmaker en die interpreteerder daarvan” (JI Packer).


Gebed: Jesus, U woorde is dinamiet! Ek besef daagliks dat dit baie moeiliker is om God se wet te onderhou as wat ek gedink het. Dankie dat U aarde toe gekom het om my die waarheid te kom leer. Al wat ek nou kan doen is om te bely: “Here, wees my sondaar genadig. Ek is gestroop voor U aangesig. Dankie dat U my nader trek na U Lig toe en dankie vir die passie wat U my skenk om te honger en dors na U geregtigheid.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page