top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (VIERDE VERMANING).


DIE TWEE FONDAMENTE (7) – DIE ONGEHOORSAME HOORDER (2)!

(Luk. 6:47-49).


Matt. 7:26-27 – “En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”


Vergelyk ook Kol. 2:8 – “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.”


Die man wat op sand bou wil graag al die voordele wat Jesus aanbied, ontvang. Maar hy ken net een seisoen – somer en sonskyn. Hy weet niks van gietende reën, stormwinde en swaar sneeu op die dak en teen die vensters nie. Die vooruitsig van ‘n ewige lewe wat iets beteken en vol geestelike vervulling is, is vir hom beskore maar ontwyk hom. Volgens hom is sy siel veilig want hy gaan gereeld kerk toe, lees Bybel soos wat hy deur sy ouers en Sondagskool geleer is en hy bid wanneer dit nodig is. Hy beoefen met ander woorde, sy godsdiens uitstekend en is dit in vergelyking met ander, darem nie te sleg nie.


Hy bedrieg homself! Jesus beskryf nie hoe die huis gebou moet word nie maar vir Hom gaan dit oor die standvastigheid van die huis – of die huis ‘n toekoms het – veral wanneer die storms daarteen woed. Dit gaan oor die fondament van die huis. Ja, hierdie man bely dat Jesus sy “fondament” is maar daar is egter meer nodig om te verseker dat sy huis wat op sand gebou is, gaan staande bly – dit gaan oor gehoorsaamheid aan Jesus. Hoe lyk die vrugte wat ons dra? Jesus wil dat ons onsself moet ondersoek teenoor die woorde van Sy Bergpreek. Hy wil nie hoor dat mense vertel hoe mooi Hy gepreek het nie, Hy wil sien hoe die Bergpreek jou lewe verander het en tot gehoorsaamheid aangespoor het, of jy bereid is om 'n verhouding met Hom aan te gaan. Dis alles of niks!


Die eerste ondersoek is ons kerkbywoning. Om kerk toe te gaan en net gehoorsaam is aan die dinge wat op ons van toepassing is, is selfgerigtheid en help niks. Dan is daar nog diegene wat selfs kerk toe gaan wanneer dit hulle pas – die sogenaamde “DDT lidmate” – die doop, dood en trou lidmate. Hulle gaan net kerk toe wanneer daar iets op hulle gegooi word – water met die doop, konfetti met die troue of grond met die dood. Vakansietye en langnaweke gaan hulle glad nie kerk toe nie want dan is Jesus ook met vakansie en om dan na die dominee te gaan luister, is “boring.” Ons kyk dan eerder die diens op TV. Die aanddienste meng ook in met hulle voorbereiding vir ‘n hele week se werk wat voorlê.


Tydens hierdie selfondersoek moet ons tweedens kyk na ons “Bybellees vrugte” wat ons dra. Om gereeld Bybel te lees is uitstekend maar sal ons dit as ‘n “swaard kan gebruik teen die aanslae van die duiwel?” (Ef. 6:17). Jesus kon drie keer satan se versoekings weerstaan omdat Hy satan elke keer met die Woord getroef het wanneer Hy gesê het: “Daar staan geskrywe ...” Satan het besef dat hy homself in ‘n doodloopstraat bevind en “Jesus met rus gelaat” (Matt. 4:1-11).


Om net Bybel te lees en miskien selfs te kan “spog” hoeveel keer dit al deurgelees is, is soos ‘n skoenlapper op ‘n blom. Die skoenlapper fladder van blom tot blom, maar eintlik gebeur daar niks nie. Dit is om hoofstuk na hoofstuk van die Bybel te lees en sodra daar met die volgende hoofstuk begin word, die vorige hoofstuk of selfs die vorige perikoop, vergete is. Wanneer daar ook elke keer uit gewoonte, net dieselfde geliefde Bybelgedeeltes gelees word, ontstaan die probleem dat ons dan nie álles hoor wat God vir ons wil sê nie.


Bybellees is ‘n studie, dit is soos ‘n by wat binne die blom ingaan, nektar daar uit te neem, na sy byekorf toe te neem en heuning daarvan te maak. Hy “vertel” die ander bye waar hy hierdie nektar gekry het en binnekort is die hele blombedding vol bye. Almal is besig om nektar te kry om die heuningkoek te voltooi! Om te verseker ons huis op sand tuimel nie inmekaar nie, moet ons onder die huis ingaan om die fondament te verstewig – die heuningkoek (koninkryk) saam bou.


Die derde selfondersoek is ons gebedslewe se vrugte wat ons dra. Gebed is nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God. Om net te bid wanneer ons iets nodig het of tydens ‘n noodgeval, is om ‘n huis te bou op sand sonder Jesus as die fondament. Dit is dwaas om jou ore te sluit en nie te hoor wat God vir jou wil sê nie. Deur aandagtig na Hom te luister, laat jou huisie staan wanneer die storm-aanslae kom.


As ons lewens nie daadwerklik op die Here Jesus Christus gebou is nie, is daar geen vooruitsig dat ons ooit hierdie aardse tyd met God se koninkryk gaan verruil nie. Daarom moet ons selfondersoek doen, seker maak ons honger en dors na geregtigheid van Jesus Christus, in alle aspekte van ons daaglikse lewe en gehoorsaam bly daaraan. Van buite lyk die huis baie mooi as gevolg van al die “lae verf” van basiese beginsels van hierdie wêreld en sy mense, maar die fondament van geregtigheid, Jesus Christus, makeer. “Dit is dinge wat berus op oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie” (Kol. 2:8b)


“The man who never knows what it is to have certain fears about himself, fears which drive him to Christ, is in a highly dangerous condition” (Martyn Lloyd Jones).


Gebed: Here, ek bely vandag dat my gehoorsaamheid aan U, soms maar power is. Ek weet en besef dat indien ek deur die nou poort op die smal weg wil wees, ek moet luister EN DOEN wat U sê. Ek besef die eise van dissipelskap is nie maklik nie en daarom is ek geneig om sommer gou ‘n paar stene op sand te plaas. Om waarlik te glo is om ware kennis te hê van my verlossing en van die saligheid wat God aan my skenk deur U, Jesus. Skenk my die vaste vertroue om te bou op die fondament wat U vir my gelê het met U opstanding. Laat ek elke ding wat ek aanpak, met geloof en vertroue en met my héle hart, tot God se eer uitvoer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page