top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (VIERDE VERMANING).


DIE TWEE FONDAMENTE (6) – DIE ONGEHOORSAME HOORDER (1)!

(Luk. 6:47-49).


Matt. 7:26-27 – “En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”


Vergelyk ook Spr. 18:2 – “Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.”


Tweedens vestig Jesus in hierdie perikoop ons aandag op die hoorder wat ongehoorsaam is. Hy hoor ons Verlosser se woorde maar luister nie! Hy steur hom nie aan Jesus se waarskuwings nie. Hy is totaal die teenoorgestelde van die “gehoorsame hoorder.”


Jesus vergelyk hierdie ongehoorsame man met ‘n dwaas. Die dwaas ontsien geen moeite om sy huis te bou nie maar ongelukkig maak hy ‘n ontsettende basiese fout – hy het geen fondament in sy beplanning en bouwerk bygevoeg nie, hy het net die stene in reguit rye op die sand gaan neerlê. Hy voldoen nie aan die eienskappe van ‘n rotsfondament-bouer nie, eerder aan ‘n seesandbouer.


Om iemand ‘n dwaas te noem is baie negatief. Dit beskryf iemand wat as gevolg van sy swak intellek, onverstandig optree. Wanneer hierdie term in die Skrif gebruik word, is dit gewoonlik nie net van ‘n onverstandige of irrasionele persoon nie maar ook immoreel. Dit is iemand wat “stupid” genoeg is om sy eie pad van sy eie godsdiens te loop instede daarvan om na die woorde van die Waarheid te handel – hy is iemand soos wat die Spreuke skrywer beskryf: “Hy stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.”


Die skrifgeleerdes en Fariseërs was skuldig aan bogenoemde want hulle leringe was gebaseer op hulle eie interpretasie van die Skrif. Hulle het nie Moses, die profete of Jesus geglo nie maar opgetree volgens hulle eie menslike tradisies. Indien hulle wel sou geglo het, het hulle hulself onderwerp aan die Messias.


Vandag is daar menigte mense wat dieselfde optree. Sommiges hoor die Woord van God maar verwerp dit onmiddellik as dwaasheid – hulle het geen intensies om ‘n Christen te word nie en verkies om as ateïste aan te ploeter. Ander weer, hoor die Woord en beskou hulleself as Christene, maar verkies om steeds die beginsels wat die wêreld bied, die “breë pad”, aan te neem, om die uitdagings van ‘n Christelike lewenswyse te omseil. Dit is hulle wat “elkeen hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie.” Hulle redeneer graag oor godsdiens en ontwerp hulle eie ketter-teorieë om God se morele wette te vervang.


Mensgemaakte reëls vervang die Woord van die Waarheid en dan word dit gekoppel aan “misterieuse leiding van die Gees.” In vergelyking hiermee is dit die twee huise wat op sig eenders gelyk het. Met die blote oog kan egter nie gesien word wat onder die huis aangaan nie – of daar ‘n fondament is al dan nie. Die verskil in ‘n mens se lewensgesindheid en geloofskrag kan met ander woorde, nie van buite af bepaal word nie.


Waar die geloofsfondament ontbreek, vind ons gewoonlik die mens wat elke geloofsaak bevraagteken. Dit is dan ook nie lank nie of hy raak verbitterd teenoor die kerk, sy gebedslewe neem af en daarmee saam word die ander “skynheilige gemeentelede wat soos witgepleisterde grafte” in die kerk met hul “stywe nekke en vroom gesiggies” sit, beswadder. (Welkom vriend, daar is nog plek vir jou ook!) Stelselmatig verkrummel sy huis stukkie vir stukkie want dit is op sand gebou. Dit neem dan ook nie lank nie voordat dit heeltemal inmekaar tuimel. Hy het nie sy lewe geanker op die Rots nie maar op die verskuiwing van die los sand van sy eie menslike opinies.


Ons gelowiges moet seker maak dat God se woorde van Sy Skrif, die Bybel, ons enigste anker is. Wanneer die Heilige Gees jou oortuig dat God van jou verwag om te luister en iets te doen, doen dit! Baie mense wat anders dink as jy, sal jou as ‘n dwaas uitkryt, maar as jy God gehoorsaam, is dit wonderlik om te sien hoe Sy pad deur Jesus Christus voor jou ontvou. Dan besef jy dat die wysheid van hierdie wêreld, dikwels dwaasheid by God is. Deur God se woorde ter harte te neem en daarvolgens te handel, verwyder jy die kans dat jou geloofslewe inmekaar sal val, want jy bou op die Ewige Rots!


“Baie mense bly beginners in die geloof. Alles wat God se Woord vra, is te veel gevra; die dieper implikasies van die Evangelie van genade, is meer as wat hulle bereid is om toe te pas, daarom bly hulle altyd kinders in die geloof” (Ernest Thomas).


Gebed: Here, ek weet nie altyd waar om te begin beplan om die perfekte huis te bou nie. Ek begin gewoonlik by die aansig daarvan om ander te beïndruk en dink nie so gereeld aan ‘n stewige en veilige fondament nie. Wanneer die storms van die lewe om my dan begin breek, is ek eerste om te vra: “Waar is U?” Maak my nederig Here, laat my by die regte plek begin, by die fondament, die Fondament wat storms laat bedaar net deur ‘n woord te spreek. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page