top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (VIERDE VERMANING).


DIE TWEE FONDAMENTE (4) – DIE GEHOORSAME HOORDER (2)!

(Luk. 6:47-49).


Matt. 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”


Vergelyk ook 1 Joh. 5:3 – “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam.”


Tweedens verduidelik Jesus hoekom die man verstandig is: “Hy bou sy huis op rots.” ‘n Kwaliteit en stewige fondament het beteken om deur die sandsteen van Palestina te grawe tot óp die soliede rots. Dit sou meebring dat die huis wat op daardie fondament gebou is, storms, vloede of selfs ligte aardbewings kon weerstaan.


Wat verteenwoordig die goeie fondament in hierdie gelykenis? Alhoewel dit na Jesus Christus self kan verwys: “Ek (God) gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit” (Jes. 28:16), beklemtoon Jesus hier egter wat Hy gesê het wanneer Hy verwys na: “hierdie woorde van My.” Dit sluit Sy hele Bergpreek in, en met ‘n logiese gevolgtrekking, na al Sy leringe in die Bybel. Hierdie “man wat sy huis op rots gebou het”, het nie net geglo wat Jesus gesê het en daaroor gepraat nie, hy het selfs “daarvolgens gehandel.” Hy het hom onvoorwaardelik aan God oorgegee en Sy opdragte gehoorsaam én daarvolgens gehandel!


Jesus se woorde moet as ons fondament dien – ons woorde, gedagtes, dade en hele lewe moet spreek daarvan! Dit sal ons lewensstyl verander. Sy woorde elimineer die idee dat Hy vir ons sondes aan die kruis kom sterf het en ons nou maar kan leef soos ons wil. Ons moet Sy woorde gehoorsaam en “daarvolgens handel.” Wanneer ons “daarvolgens handel,” sluit dit onder andere in om “te treur oor ons sondes, sagmoedig op te tree teenoor ons naaste, honger en dors na wat reg is, die vredemakers is en rein van hart wees” (Matt. 5:3-11).


Dit is ‘n gehoorsaamheid wat sy oorsprong het in ‘n wedergebore hart – iemand wat “saam met Christus lewend gemaak is” (Ef. 2:5b); iemand wat “deur God na Jesus toe getrek is” (Joh. 6:44); iemand wat leef met ‘n Christushart en met sy of haar héle hart aan Jesus Christus behoort; iemand wat hom- of haarself vir die Heilige Gees oopgestel het en voel dat jy volgens Sy wil moet optree.


Ons glo in Christus want ons wil, nie omdat ons gedwing word nie. Dan word 1 Joh. 5:3 in ons teks, wáár in ons lewe. “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning is deur ons geloof, hy wat glo dat Jesus die Seun van God is” (1 Joh. 5:3-5). Hierdie gehoorsaamheid is opreg en dit verheug God – dit is gebou op die rots-fondament en dit maak jou ‘n Rotsmens!


“Daar is twee soorte vryheid: die valse een waar jy kan doen wat jy lus het; en die ware vryheid waar jy vry is om te doen wat jy vir Christus Jesus met jou hele hart, behoort te doen”

(Charles Kingsley).


Gebed: Ons hemelse Vader, ek wil saam met die verstandige man my huis op die rots-fondament bou want U is vir my die Ware Werklikheid! Saam met die psalmis wil ek uitroep: “Laat my wandel in U gebooie, want daarin vind ek vreugde” (Ps. 119:35). “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe”, ‘n lewe wat maklik deur die storms uitmekaar geruk kan word. “Laat my leef op die weg wat U aanwys” (Ps. 119:37). Laat my te alle tye met wysheid optree, tot eer en verheerliking van my Verlosser. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page