top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (VIERDE VERMANING).


DIE TWEE FONDAMENTE (3) – DIE GEHOORSAME HOORDER (1)!

(Luk. 6:47-49).


Matt. 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”


Vergelyk ook Joh. 14:15 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.”


Jesus vestig ons aandag in hierdie perikoop eerstens op die hoorder wat gehoorsaam is. Hy hoor ons Verlosser se woorde en handel daarvolgens. Hy hoor nie net nie maar verstaan die leringe en pas dit in praktyk toe. Alleen sal ons egter nie hierdie opdragte van Jesus suksesvol kan voltooi nie, daarom het ons hulp nodig, die “Voorspraak wat ewig by ons sal wees, naamlik die Gees van die waarheid.”


Ons hulp begin wanneer ons weet dat ons in álles, “afhanklik van God is.” Ons erken ons armoede in geloof en tekortkominge om gehoorsaam te wees, maar gelukkig maak dit ons nie swaarmoedig nie want ons vind troos in die gedagte dat God vir ons lief is en deur genade gered het. Dit is die “mens wat homself oorgegee het as ‘n lewende offer vir God. God verander en vernuwe dan sy denke en daarom poog hy om nie gelyk te word aan hierdie sondige wêreld nie. Hy doen dinge wat vir God goed en aanneemlik is” (Rom. 12:1-2). Dit is die mens wat God genoeg vertrou om met sy héle hart, 'n verhouding met God aan te knoop.


Die mens wat gehoorsaam is aan Christus se woorde, is iemand wat “verstandig” is. Sy huisbou beplanning is nie net vir die huidige nie maar vir die toekoms. Hy neem nie kortpaaie om die bouwerk gou afgehandel te kry nie, maar doen die nodige beplanning om toekomstige storms die hoof te bied. Hy weet dat indien sy beplanning nie ‘n ordentlike fondament insluit nie, sy bouwerk onsuksesvol sal wees en die huis nie bestand gaan wees teen die storms van die toekoms nie.


Die “verstandige” mens dien sy huisbouplanne by God in. Hy glo dat God die Enigste Fondament voorsien het en dat God die plan sodoende, goedgekeur het. Al wat ons nou moet doen is volgens Jesus se “spesifikasies en aanwysings” te bou. Jesus is die Verskaffer van die regte “boumateriaal” en dit sluit al die “spesifikasies” in. Waar kry ons hierdie “spesifikasies” wat verseker dat ons huis op rots gebou is?


Hierdie “spesifikasies” is onder andere, verkrygbaar in Sy Bergpreek!! Dáár vind jy die sterkste materiaal in die ganse heelal. Dáár vind jy dat jy dié Rots raak geboor het waarop jy jou huwelik, jou kinders se lewens, jou beroep, jou hoop, jou álles, ja, jou ewigheid kan bou! Dáár is geen moontlikheid dat jou huis van geloofslewe dan inmekaar sal tuimel nie, want dit is op die regte Fondament gebou. Jou lewe is Rotsvas want jou boumateriaal is aangewend volgens die voorskrifte van God se Woord en gebed; jou werkswyse is deur die "Gees van die waarheid" verewig in gehoorsaamheid en volharding; jou gesindheid is uit dankbaarheid en liefde, in 'n opregte verhouding met ons Vader gesmee.


“Struikelblokke is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien as ons ons oë van die doelwit wegneem” (Hannah Moore).


Gebed: Dankie Jesus dat U aarde toe gekom het om vir my die regte aanwysings en spesifikasies te voorsien sodat ek my lewensbeplanning “verstandig” kan doen. Here, maar nou moet ek bely dat ek nie altyd hierdie spesifikasies volg nie en dan skielik weer myself bevind met bouwerk aan ‘n huis van sonde en ongehoorsaamheid. Dankie Heer dat U bereid is om elke keer maar weer my onder konstruksie te neem en herinner waar die beste boumateriaal verkrygbaar is, en dat dit my lewe verseker Rotsvas sal hou, solank as wat my verhouding met U hou. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page