top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (VIERDE VERMANING).


DIE TWEE FONDAMENTE (1) – GEBRUIK JOU ORE EN HOOR!

(Luk. 6:47-49).


Matt. 7:24 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.


Vergelyk ook Rom. 3:3 – “Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou?”


Jesus sluit Sy Bergpreek af met ‘n laaste vermaning aan al Sy dissipels. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel” is die logiese gevolgtrekking van Sy héle Bergpreek en sluit nie net ‘n paar verse in nie. Wat Hy wel beklemtoon, is om Sy woorde in die voorafgaande verse van “hoor en doen” te onderstreep en ons tot gehoorsaamheid roep, om nie net te luister na wat Hy gesê het nie, maar te doen wat Hy gesê het.


Jesus is só besorgd oor ons dat Hy seker wil maak dat Sy woorde nie net gehoor word nie maar dat dit toegepas word. Hy het ontsettende diepgaande waarhede van die soort lewe wat ons Vader behaag, daar op die heuwel langs die See van Galilea uitgespreek. Hy het ook geweet dat sommige van Sy luisteraars sou weggaan en nooit ‘n woord gaan toepas wat hulle gehoor het nie. Soos daar net twee verskillende ingange en weë is, twee verskillende bome is, een met goeie vrugte en een met slegte vrugte, is daar twee klasse Christene – die wat luister na die Woord en die wat luister én gehoorsaam.


Jesus doen ‘n beroep op ons om eerstens te “hoor.” Een van die grootste probleme van vandag is dat daar steeds mense is wat Sondag na Sondag “hoor” wat Jesus sê, maar nie daarop reageer nie. Jesus wil graag hê dat mense hulle ore moet gebruik, en nie net waarderende hoorders wees nie, maar daaraan aandag gee en ‘n verhouding met Hom bou. Ons kom gedurig onder die geklank van die Woord en is ook nie onbeïndruk nie. Na ‘n “treffende boodskap dominee”, of ‘n “jou boodskap het vandag weer diep gesny dominee, dankie ons het dit weer nodig gehad”, draai ons om huis toe, drink ‘n koppie tee, braai ‘n vleisie, vee monde af en … leef maar weer voort soos altyd. Ons gewete is immers gesus tot volgende week se Kerkdiens.


Ons het vandag die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord in die Ou- én Nuwe Testament. God se roeping tot ‘n persoonlike verhouding met ons, word veral sigbaar deurdat Hy kennis van Hom binne ons bereik gebring het – en om ons nog verder te bevoorreg, bring Hy dit in ons eie taal! “Maar wat nou as sommige nie getrou bly nie," vra Paulus? Hy rig die vraag ook aan ons. Wat maak ons met hierdie voorreg?


Het die Bybel maar net nog ‘n boek geword wat êrens in die huis stof opgaar? Dit word nie eers meer Sondae saamgeneem kerk toe nie want die tegnologie bring die teks op ‘n skerm vir ons. “Die belangrikste is dat God sy woorde [aan ons] toevertrou het,” en dit beteken nie dat die Bybel veilig gebêre moet word nie, maar wat daarin staan geléés moet word, gedóén moet word en wat dit vra, te déél met ander.


Ons moet ook besef dat die blote besit van ‘n Bybel en selfs gereelde Bybellees, ‘n leë uitwendige roetine word as dit nie daartoe lei dat ons in ‘n oorgegewe en gehoorsame verhouding met God begin lewe nie. Ons moet God altyd bedank omdat ons bevoorreg is om ‘n Bybel te kan besit – dit is lewende woorde van die lewende God wat Sy Woord vir ons uit genade gee! In ons geestelike groei moet ons nie net by melkkos bly nie, maar die Bybel in diepte leer ken. Die belangrikste van Bybelstudie is om myself so te verdiep in God se Woord om uit te vind wat God vir mý wil sê, sodat ek vrugte kan dra, vrugte wat sal hou!


Gebruik ons die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord om net te lees en te luister na die Woord of te luister en te gehoorsaam? Jesus doen ‘n beroep op ons om op God se Woord te “hoor en daarvolgens te handel.” Kennis word eers relevant wanneer dit toegepas word in aksie – dit help niks ons het al die kennis van die Bybel nie maar dit word nie toegepas nie. Dit is dieselfde om dokter toe gaan a.g.v. ‘n siekte en nie gesond word omdat ons nie sy voorgeskrewe behandeling volg nie.


“Wie die Bybel vinnig lees, trek net so min voordeel daaruit as wat ‘n by daaruit sou kry indien hy skrams oor ‘n blom vee eerder as om diep in te gaan en die stuifmeel uit te haal”

(Madame Guyon).


Gebed: Here, ek bely vandag dat my gehoorsaamheid aan U, soms maar power is. Ek wil graag agter die verskoning wegkruip dat daar soveel dinge in U Woord is wat ek nie verstaan nie, maar dit sou ‘n leuen wees want ek het deur U Gees, U as Outeur leer ken, en dit dwing my om soos die by, die “stuifmeel diep daar binne uit te haal”. Ek weet en besef dat indien ek deur die nou poort op die smal weg wil wees, ek moet luister EN DOEN wat U sê. Dankie vir U Woord, ‘n fontein van lewende water, die onfeilbare gids vir my lewenspad, die onbeskryflike bron van wysheid en troos. Help my om elke woord daarin, met geloof en vertroue tot U eer uit te voer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page