top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (TWEEDE VERMANING).


VALS PROFETE (4) – WANDEL MET GOD EN DRA GOEIE VRUGTE!

(Luk. 6:43-44)


Matt. 7:15-17 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hul vrugte ken.”


Vergelyk ook Judas vers 10 – “Maar hierdie mense (vals leraars) praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie.”


Judas waarsku óók die gelowiges om op hulle hoede te wees vir vals leraars. Geloof hang nie sommer in die lug nie. Dit is gebaseer op leerstellings waarin ‘n mens op grond van die Bybel glo. Die waarheid van die Bybel mag nooit in die gedrang kom nie, want dit is waar ons die ware feite omtrent Jesus en die verlossing leer. Vals leraars verdraai die Skrif wat tot verwarring lei, en dit maak dat mense nie meer seker is oor die pad wat na die ewige lewe lei nie. Die spreekwoord sê dat elke ketter het sy letter, maar as die ketter nog ‘n verkeerde letter beet het, word dit moeilik om te beweer: Dit staan in die Bybel!


Om te verhoed dat jy verdwaal, moet jy altyd ‘n goeie padkaart of GPS byderhand hê. Daar is wel baie betroubare padkaarte beskikbaar, maar die beste volgens my, is die Bybel – dit is God se GPS: God Praat So! Dit is God se lewensgids onderweg na Sy ewige feesmaal, die lig op ons lewenspad en die koersaanduider in die donker, die donker van die pad wat vals leraars verkondig. Saam met God se GPS het ons ook die Heilige Gees wat ons help om enduit die regte koers te hou ten spyte van ons omstandighede.


Jesus herinner ons weer aan Johannes die Doper se woorde: “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matt. 3:10). Jesus kondig die finale oordeel aan oor skynbekering, oor hulle wat nie leef volgens die maatstaf van die groter getrouheid aan die wet nie. Ons gelowiges wat volgens God se GPS optree, word geroep om ware profete te wees (Matt. 5:12) wat goeie werke doen (Matt. 5:16), mense met die regte visie (oog) om te onderskei wat heilig en sleg is (Matt. 6:22), om die nou poort en smal pad te kan vind (Matt. 7:13) en goeie vrugte te dra, nie doringbosse wat voorgee ons dra druiwe nie.


Na Jesus se hemelvaart het die vals profete vinnig op die kerk van die Here toegeslaan. Die afgelope paar dae het ons verskeie voorbeelde daarvan uit die Bybel aangehaal. Die bekende Duitse teoloog Helmut Thielicke (1908-1986), het beweer dat die breë weg nie noodwendig die pad van die wêreld, die pad van radikale Godverloëning is nie, maar dikwels die pad van die kerk wat valse leraars tans, steeds voorhou. Dit is die kerk wat volgens hom, koers kry op die breë weg wanneer die kerk, die taal van die massa begin praat en mense se natuurlike begeertes na die hart begin aangryp. Dit gaan nie meer om die eer van God nie want Sy Woord word aangepas om by die menslike stroom van eiebelang in te val. Die kerk het ‘n kompromie tussen die goeie en slegte begin formuleer.


Wat van jou? Loop jy nog die smal pad binne-in jou kerk? Gebruik jy nog jou vermoë om deur God se genade, Hom te kies? Wat maak jy met die Here se goeie nuus, dra dit vrug, goeie vrug? Indien jy steeds wegkruip agter jou vindingryke verskonings waarom jy nie betrokke wil raak by die evangelie wat mens se lewe radikaal verander nie, dan waarsku Jesus: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die Here kan nie bekostig dat vrugtelose bome kosbare spasie in Sy vrugteboord opneem nie, inteendeel, almal wat Sy genade goedkoop maak, word uiteindelik uitgekap.


Daar is al boeke vol geskryf oor vals profete en hul ewe vals leringe, maar ons volstaan nou daarmee. Vir verdere verwysings oor vals leraars, profete, leermeesters of wat hulle hulself ookal noem, vergelyk ook Hand. 20:29; 1 Tim. 4:1-2; 2 Tim. 3:1-9; 2 Pet. 2:1-3; 2 Joh 7. Pas op vir hulle, hulle is werktuie van satan, wolwe in skaapsklere! Daarom moet elke gelowige self let op die vrug van sy lewe, en toesien dat terwyl hy voorgee hy ’n Christen is, hy nie die vrug van die wêreldlinge lewer nie. Indien hy of sy gedurig “groen vrugte” dra, is daar iewers fout.


As jou lewe wys dat jy in Jesus Christus glo en jou geloof deur jou dade, jou goeie vrugte in Sy vrugteboord laat voortbring, sal daar ‘n oorvloedige oes wees. Al sien en beleef jy nie aldag die goeie vrugte nie, maak dit nie saak nie. Om Jesus te volg, is ‘n ernstige aangeleentheid en Hy het ons gewaarsku dit gaan nie maklik wees nie (Matt. 5:11). Wees maar net in Jesus se vrugteboord en gebruik Sy GPS om die regte en ware koers te hou. God sal vir die res sorg. Ervaar hoe jou lewe van ‘n barre stuk grond verander in ‘n lushof van vrugte wat ‘n goeie oes tot gevolg het.


“Die kerk moet vrede en verdraagsaamheid najaag, maar dan nie ten koste van en in stryd met God se koninkryk nie. Wie met God wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan”

(Ds. Johan Smit).


Gebed: Here, weerhou my van vals leraars. Daar is só baie van hulle wat wêreldwyd hul sogenaamde waarhede verkondig. Hulle dink hul eie stories uit en sê: “Die Here sê so.” Hulle vertel dit oor as openbarings en lei mense op ‘n dwaalspoor met hulle leuens en praatjies. Here, die beste is dat daar Christengelowiges is wat hulle glo!!! Verander asseblief hulle denke Here en bring hulle tot U ware insig. Dankie Jesus dat ek weet: U alleen is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur U nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page