top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (TWEEDE VERMANING).


VALS PROFETE (3) – VALSE LEER IS VYANDSKAP TEEN DIE KRUISIGING VAN JESUS CHRISTUS!

(Luk. 6:43-44)


Matt. 7:15-17 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.”


Vergelyk ook Deut. 4:2 – “Moenie iets byvoeg by wat ek (Moses) julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.”


Hoe lyk die vrugte van vals profete? As die vyeboom ’n ander soort vrug oplewer, is dit nie ’n vyeboom nie. Dus, die gedrag en dade van ’n mens laat sien of hy ’n volgeling van Jesus is of nie. Eerstens probeer hy nie om die “nou poort” opsetlik wyer te maak nie. Hy het ‘n baie subtiele manier om Bybelversies aan te haal en dan met moderne sogenaamde wetenskaplike of humanistiese bewyse, die interpretasie daarvan te verduidelik bv. die maagdelike geboorte van Jesus, sekulêre sielkundige oplossings vir huweliksprobleme instede van Bybelse voorskrifte, ens. Hy plaas die wysheid van die wêreld op ‘n troon in plaas van God se wysheid en verkondig dit as moderne Christen-kultuur.


Nog ‘n vrug van die vals profeet is die een wat getuig dat hy “geestelike openbarings” direk van God ontvang het. God het met hom gepraat net soos met Jesaja, Jeremia, Paulus en Petrus. Met groot fanfare dra hy dan sy “openbaring” aan sy volgelinge oor en hulle glo dit! Hy is dan ook in staat gestel om antwoorde oor al hul geestelike vrae te verskaf, want “God het dit aan hom openbaar!” Die gevolg is dat die bydraes in die kollekte bordjies tydens daardie “preek,” die finansiële koffers van “sy sogenaamde kerk” ‘n aansienlike hupstoot gee. Die vals profeet draai mense weg van die Bybelse waarheid af na ‘n sogenaamde “geestelike” wêreld van fantasie – “’n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf” (Deut. 18:20)! Skrikwekkend! Ons sal dus die vals profete aan hulle dade kan herken.


Godsdiens vrywaar niemand van dwaasheid nie. Dit leer Spreuke ons. Daarom is daar iets soos godsdienstige dwase. Hulle is diegene wat God se stem met hul eie verwar. Uit hul monde hoor jy gedurig woorde soos: “Die Here het dit of dat vir my gesê”. Hulle meen hulle het eksklusiewe toegang tot God, of Hy tot hulle. Die profeet Jeremia kon sulke dwase spreekbuise van God nie uitstaan nie. In Jeremia 23 skryf hy die ware bekendmakers van God se wil is altyd stil en nederig. Hulle wil die kollig nooit vir hulleself hê of bo-oor ander mense se lewe stoomroller met al hul godsdienstige slimmighede nie. Hulle steel nooit God se eer met hul selfvoldane verklarings vir alles in die lewe nie. Die vals leraars daarenteen, roem daarop dat hulle geheime kennis het en dit gee hulle gesag. “Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is” (1 Tim. 4:2).


Paulus weer, verduidelik dat “ons maar gedeeltelik ken en God se wil gedeeltelik verkondig, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees” (1 Kor. 13:9-10). Hy vermaan ons dat die kerk (ons), ‘n verantwoordelikheid het om vals profete te stop om hul dwaalleringe te versprei – “Hulle monde moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dit net om skaamteloos geld te maak” (Titus 1:11). Die Hebreërskrywer herinner ons ook aan die volgende – “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie” (Heb. 13:8-9).


Soek die ware bekendmakers van God se wil op as jy geestelike wysheid kortkom. “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” (Rom. 10:15b). Laat hulle jou leermeesters wees. Oefen ook gedurig die regte godsdienstige wysheid in, daardie soort wat jou nie oorhaastig laat praat of ander laat manipuleer nie. Wees nederig. Loop lig vir sulke valse dwase en vermy hulle! “Ek druk julle dit op die hart, broers (en susters): Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hul mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense” (Rom. 16:17).


“Sodra die versoening wat God deur Christus aan ons as gelowiges kom aanbied, op enige ander manier aangetas word, het ons nie meer te doen met ‘n klemverskil of veranderinkie aan die Evangelie nie – dan word dit ‘n valse leer – niks anders as ‘n vyandskap met Jesus se kruis!”

(Francois Tolmie).


Gebed: Hemelse Vader, weerhou my as reisiger op die “smal weg” van hulle wat die waarheid van U Woord verkrag. Hulle bedrieg baie mense maar dankie tog Here, hulle kan Ú nie bedrieg nie. Verskerp my persepsie oor die Waarheid van U Woord en stel my asseblief in staat om daardie verkeerde dinge wat skadelik is vir my siel, te identifiseer. Help my om vrugte te dra wat wys ek is in U vrugteboord geplant. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page