top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (EERSTE VERMANING.)


TWEE PAAIE (4) – DIE PELGRIMSREIS NEEM ONS VERDER OP DIE SMAL PAD!

(Luk. 13:24)


Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie.”


Ons het vandag die eerste smal stegie op die “smal pad” bereik. Dit is werklik só nou dat ons sondaars net een op ‘n slag daar kan deurgaan. Alhoewel God se genade ‘n gawe is vir almal wat daarna soek, is dit steeds elkeen se eie verantwoordelikheid om berou te toon teenoor sy sonde en in Jesus Christus te glo. Om deel te wees van ‘n Christen-familie of om lidmaat te wees van ‘n kerk, beteken nie “vrye toegang” na die “smal pad” nie. Niemand anders kan berou hê oor jou sondes en geloof hê in Jesus Christus om jou onthalwe nie, behalwe jyself!


Omdat ons as sondaars op die breë pad gebore is, het elkeen van ons net een keuse: Gaan ons saam met die “blinde en dowe” massas bly, of gaan ons toelaat dat die Heilige Gees ons verander in nuwe mense? Gaan “elkeen” sy of haar sondes bely en belowe om Jesus volkome te vertrou en Hom te volg? Dit is die verskil tussen hemel en hel. Die regte keuse sal ons deur hierdie smal stegie laat.


Wag, hier is iets uitgekerf in die rotswand: “SOLUS CHRISTUS”“Jesus is ons Hoëpriester wat reeds deur die hemele gegaan het, hou vas aan die geloof wat julle bely. Hy het medelye met julle swakhede; Hy was net soos julle aan versoeking onderwerp, maar Hy is sonder sonde (Heb. 4:14-15); Hy is die bron van ewige verlossing (Heb. 5:16); Hy is priester vir ewig wat Sy priesterskap op grond van die krag van onvernietigbare lewe gevestig het (Heb. 7:16); Hy het eens en vir altyd die hoogste offer gebring en leef vir altyd om jou saak voor God te bepleit” (Heb. 7:25-27). Buig of bars, hier beur ek voort. Ek het só ‘n Middelaar nodig, ek het vergifnis nodig, ek het versoening nodig – en Jesus het reeds alles vir my gedoen!


Uitasem gespook om daardeur te kom, is ek deur die smal stegie. Dit het egter makliker gegaan net nadat ek in diepe afhanklikheid gefluister het dat “ek met my mond bely dat Jesus die Here is en met my hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het” (Rom. 10:9). Tydens die gesukkel om deur te kom was daar nog ‘n kennisgewing: “Onthou, om Jesus te volg hou geen onmiddelike byvoordele in nie. Die aansluitingspakket het nie ‘n mooi kar, pragtige huis, baie geld, gewaarborgde veiligheid of enige salaris nie. Jou dertiende tjek bestaan uit “die massas wat jou gaan beledig en vervolg en valslik beskuldig van al wat sleg is, ter wille van Hom” (Matt. 5:11). Sjoe! Regtig! Is dit die moeite werd om op hierdie pad te bly voortsukkel?


Skielik is die eerste steil opdraande hier voor ons. Ons is nog nie behoorlik uitgerus na die gesukkel deur die smal stegie nie en hier is ‘n verskriklike steil opdraand wat ons moet aandurf. Ai tog, waar is die aanwysings? Dalk is daar ‘n makliker pad. Dit is belangrik dat ons die heeltyd sal seker maak dat ons op die regte pad is. As jy begin moeg raak, raak jou oë swaar. Hier is hy: SOLA FIDE – DEUR GELOOF ALLEEN. “Met hierdie vooruitsig span jou kragte in en stry, vestig jou hoop op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo” (1 Tim. 4:10).


Nee wat, hierdie opdraande is nou niks, my hoop is op die lewende God. Ek plaas ook my geloof in dieselfde “God wat sy Seun, Jesus, na hierdie wêreld gestuur het, sodat ek wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16).


Dalk is dit nodig om net eers die helfte van die opdraande uit te beur, asem te skep en môre weer verder te gaan.


“’n Vurk in die pad het twee weë gebaan. Ek het die een gevolg waarlangs die minste spore gaan. En dit het al ‘n verskil gemaak” (Robert Frost).


Gebed: Ons Vader, “daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Met alles in my wil ek by U uitkom. Met alles in my wil ek my lewe op koers hou. Wys my die pad en help my om gehoorsaam op U leiding, U wil, te reageer. Wees asseblief my vertrekpunt en my eindbestemming. Here, die wêreld word stelselmatig gekaap om ‘n anti-Christelike weg in te slaan en die mens se wil het belangriker as U wil geword. Ek bid vir hulle wat nog nie die “nou poort en smal pad” gevind het nie, dat hulle sal besef dit alleenlik gevind kan word deur U genade, dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is wat na U, ons hemelse Vader toe lei, dat hulle U as reisgenoot en metgesel op ons aardse roete, sal kies. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page