top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GEBEDSVERHORING (6) – DIE GOUE REËL (2)!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Vergelyk ook Ef. 5:1-2 – “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het.”


Ons het gister gesien dat die “Goue Reël” van Jesus nie uit konteks gebruik kan word nie. Dit kan nie ‘n los gesegde wees wat ons kan gebruik wanneer ons dit nodig het nie. Dit geld vir álle tye in álle omstandighede, of glad nie. Jesus koppel hierdie grondbeginsel aan al Sy vorige uitsprake of opdragte, met ander woorde, as jy daarvan hou om sagmoedig behandel te word, behandel ander sagmoedig; as jy daarvan hou dat ander in vrede met jou moet leef, leef in vrede met ander; as jy daarvan hou dat ander jou met respek behandel, behandel ander met respek; ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie; ons Vader laat dit reën oor die goeies en die slegtes, daarom moet ons selfs ons vyande ook liefhê, en so kan ons aangaan om aan te haal vanaf Matteus 5 vers 3 en by implikasie, aan al die opdragte in die Skrif.


Skielik tref hierdie “Goue Reël” van Jesus ons miskien as iets wat onmoontlik is om te doen en te leef. Is dit ‘n onbereikbare ideaal, of is dit bereikbaar? Onwillekeurig wonder mens, as dit dan so ʼn belangrike saak is, waarom pas ons dit nie op alle terreine van die lewe toe nie? Wat maak Jesus se uitspraak van hierdie reël dan so spesiaal? Jesus beklemtoon dat ons aan ander moet góéd doen en nie noodwendig moet verwag dat hulle dan weer iets goeds aan ons terugdoen nie. Dit beteken om betrokke te wees en te raak by ander rondom ons, dit gaan glad nie wat ék daarby baatvind nie, dit gaan nie oor my nie. Ek is diensbaar met die motief om as dissipel te dien en nie om iets daaruit te kry nie.


Daarom voeg Jesus “dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” by Sy “Goue Reël.” Jesus het reeds die wet en profete kom vervul. Wat Jesus dus vra is dat ons hierdie “Goue Reël” moet volg in geloof. God wil hê dat ons as mense van Sy koninkryk só moet leef – in liefde met Hom en met mekaar. Die “Goue Reël” kán ons leefwyse word indien ons die Heilige Gees toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dan kan ons minder word en God meer. Die Gees maak ons nuut en leer ons om standvastig te bly om op Sy pad te stap en nie ons eie pad nie. Dít is hoe ‘n Christen behoort te wees! Ons moet daarop gerig wees om God te verheerlik en as ons suksesvol daarmee wil wees, wag ons nie dat ander eers goeie dinge aan ons doen voor ons iets terug doen nie – ons is mos Jesus se ligte vir die wêreld (Matt. 5:14).


“To obey this commandment a man must become a new man with a new centre to his life; and if the world was composed of people who sought to obey this rule, it would be a new world”

(William Barclay).


Gebed: Jesus, ek wil nie net ‘n toeskouer wees hier aan U voete op die berghang langs die See van Galilea nie. Ek wil ‘n toegewyde dissipel wees in ons Vader se koninkryk. Alleen kan ek dit egter nie doen nie, daarom het ek U, o Gees, nodig om dit in my lewe te bewerkstellig. Dankie Gees van God dat U my geloof bevestig in Jesus Christus, my Here. Help my om te leef met U “Goue Reël” as riglyn van my lewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page