top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GEBEDSVERHORING (3) – HOU SKAAMTELOOS AAN MET VRA, SOEK EN KLOP!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:7; 11b – “Vra, en vir julle sal gegee word; ... hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”


Vergelyk ook Ps. 37:5 – “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”


Een van die voordele van ‘n lewe met God, is dat Hy ‘n vrygewige Vader is. Hy sal goeie dinge gee aan “elkeen” wat dit ernstig bedoel met Hom en Sy koninkryk en met die opgestane Jesus! God het tot die uiterste toe gegaan om ons Sy kinders te maak en omdat ons Sy kinders is, het Hy vir ons Sy Gees gegee om uit te roep: “Ons Vader!” Ware gebed is alleen moontlik in ‘n kind-Vader verhouding!


Tog is daar diegene wat reken dat gebed onvanpas is. Diegene wat vergelykings tref deur na ander mense te kyk – die "hulle" van die wêreld – en dan tot die gevolgtrekking kom dat "hulle" nooit in ‘n kerk kom nie maar alles het wat mens nodig het; "hulle" sien relatief goed daaruit want "hulle" werk vir wat "hulle" het. Dit is verdien deur hard te werk en nie hard te bid nie; "hulle" besit baie en "hulle" begroting klop deur "hulle" goeie beplanning en dan kry "hulle" elke jaar nog belasting ook terug; "hulle" daaglikse brood word verskaf deur die bakkery en “hulle” koop dit by die naaste kafee. Niks is verkry deur gebed nie.


Dan is daar baie mense wat reken dat hulle al sóveel keer gevra het, duisend keer geklop het, só baie al aanhoudend gesoek het, maar nooit ontvang het nie. Só baie mense het al gesê dat hulle gebid het dat hul byvoorbeeld genees word van ‘n terminale siekte, maar dit het net vererger; gebid het vir vrede, maar die onrus en oorlogsrumoer dreun voort; gebid het om ‘n eksamen deur te kom, maar nogtans gedruip het; onskuldige kinders sterf, huwelike loop op die rotse en, en, en ...! Hoe verstaan mens dit? Die gevolgtrekking: “Nee wat, gebed werk nie, dit is onproduktief en niemand luister buitendien nie.”


Gebedsvertroue beteken om totaal afhanklik te wees van ons hemelse Vader, om “jou lewe aan die Here oor te laat en te vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Gebed is beslis nie ‘n towerstaffie nie. Om elke keer wanneer ons iets nodig het oor ons “gebedslampies” te vryf, gaan nie noodwendig iets voortbring nie. Jesus sê uitdruklik hier, ons hemelse Vader gee “goeie gawes aan dié wat dit van Hom vra.” Laat ons dan God dank dat Hý ons gebede volmaak verhoor en nie soos wat óns dit wil hê nie. Die Here skenk die gawes aan ons wat met Sý wil ooreenstem, daarom moet ons agterkom wat Sy wil is. Sý wil word vir ons uitgespel in Sy Woord en om dit in geloof te aanvaar, is gereelde en getroue Bybelstudie nodig, sodat ons kan weet wat God vir ons daardeur wil sê en gee!


Volgens Lukas is die “goeie gawes” waarna hier verwys word, die gawe van die Heilige Gees (Luk. 11:11). Hier word gepraat van die instandhouding van die nuwe lewe in Christus, die “stapelvoedsel” vir die nuwe lewe in Christus. Die brood en die vis uit die hand van God wat die nuwe lewe in Christus in ons verwek en voortdurend versterk. Daarvoor moet ons veral aanhou met vra, klop en soek, skaamteloos aan te hou bid om die werking van die Heilige Gees wat ons in staat stel om die nuwe lewe in Christus wat ons ontvang het, te leef. “Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees” (Juda 20). Om te vra gee lewe want God gee daardie dinge wat lewe gee!


Om te volhard in gebed is dan die manier wat die Here wil hê om stelling in te neem voor die heel belangrikste deur in ons lewe en te weet: As ons hier gaan klop in Jesus se Naam, gaan ons Vader sélf oopmaak, nie Sy sekretaresse of een van die engele nie, Hy self! Hy is altyd tuis en sal op die regte oomblik en op Sý tyd en Sy manier, op ons klop reageer. God dra ons belange op die hart. Ons God is nie soos die god van die profete van Baäl waarmee Elia gespot het nie: “Roep harder, hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” (1 Kon. 18:27). Ons God sien ons nood, hoor wanneer ons roep en in afhanklikheid vra, soek en klop! Ons God weet áltyd, wat ons in ons harte koester! As ons in Hom bly, volg ‘n lewe van gebedsverhoring en van vrug tot eer van God.


“As jy God se deur kan oop bid, moet dit nie uit eie krag probeer oop béúr nie” (John Wesley).


Gebed: Ons hemelse Vader, dankie dat ek kan waag om U Vader te mag noem, want dit is ‘n duur Naam. Dankie Jesus dat dit deur U onbeskryflike offer was dat ek God so mag noem. Dankie Vader dat ek met U mag praat. Dankie dat ek weer en weer met my nood kan vra, kan klop, kan soek en U elke keer daar is en luister. Dankie dat ek my hart in U troonkamer kan oopmaak en te weet, U gee om. Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in my opwek sodat ek gelowig kan bly bid. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page