top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. 6:19-7:12)


GEBEDSVERHORING (2) – KOM MET VRYMOEDIGHEID NA GOD TOE SOOS ‘N KIND!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:7-11 – “Vra, en vir julle sal gegee word ...; Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”


Vergelyk ook Luk. 11:11 – “Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”


Ons het gister gehoor dat Jesus se uitnodiging om te vra, te klop en te soek, nie onvoorwaardelik is nie. Hierdie belofte is vir Sy dissipels wat alreeds geleer het om volgens God se wil te vra, vir dissipels wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dit is vir “elkeen” wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk, ernstig bedoel met die opgestane Jesus! Jesus tref ook nie hier ‘n vergelyking met ons hemelse Vader en aardse vaders nie, Hy raak hier die verhouding tussen ouers en hulle kinders aan. Jesus sê as ons wat sleg is, alhoewel ons dit goed bedoel en tog foute maak, dan weet om uit liefde, goeie dinge vir ons kinders te gee, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader wat volkome goed is, vir Sy kinders gee wat Hom vra?


Elkeen wat God ken en in ‘n verhouding met Hom leef, kwalifiseer om te kan vra, klop en soek, en God sal sonder twyfel en sonder uitsondering, antwoord op daardie versoek volgens Sy wil, wysheid en liefde. Wat kan nou makliker wees as dit? As God Sy eie Seun aan ons gegee het, sal hy nie álle ander dinge wat Hy dink ons nodig het, ook gee nie? Hy is immers ons Vader en ons Sy kinders. Die probleem lê by ons. Ons is baie keer van mening dat Jesus nie antwoord soos ons gevra het nie, dat Hy nie geluister of gehoor het nie. Die gevolg? Ons verander Christus se gebedsbeloftes in ons gebedsprobleme. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie” (Jes. 59:1).


‘n Ander redenasie is dat die Here mos weet wat ons nodig het nog voor ons vra, ons hoef mos nie te bid daarvoor nie. Grootmense wag mos nie totdat hulle kinders vir kos vra voordat hulle gee nie. Die vraag is egter nie of die Here gereed is om te gee nie, maar of ons gereed is om te vra. Met gebed kry ons nie die oorhand oor God nie maar die oorhand oor onsself om onsself aan Hom te onderwerp, afhanklik van Hom te wees, “Gedurig te bid” (1 Tess. 5:17).


Die gebed vir brood in tye van hongersnood; vir genesing by die bed van siek mense; vir die herstel van ‘n gebroke huwelik; vir insig om die dwaasheid van vals leraars waar te neem; vir vergifnis van familielede wanneer egpare weer wil probeer om hul huweliksbeloftes te laat werk; gebed om vrede; gebed vir heling ná ‘n verkragting; aanhoudende smeking vir ‘n ander werk nadat iemand afgelê is, of te bid vir watter behoeftes ookal – dit klink tog alles opreg en onselfsugtig. Dit klink na gebedes wat ‘n liefdevolle Vader, met respek, nie anders kán as om te verhoor nie. Dit is gebede van mense wat “elkeen” dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk! En nogtans gebeur dit nie altyd so nie. Hoe moet ‘n mens dit verwerk? Hoe moet ons dit verstaan?


Daar is nie voor die hand liggende verduidelikings op hierdie vrae nie. Die Prediker skrywer sê: “Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles” (Pred. 11:5). Dan moet ons ook onthou dat Jesus in Getsemane ons Vader gevra het dat die lydensbeker van die kruis van Hom weggeneem moes word, en Hy hom nogtans aan die wil van ons Vader moes onderwerp toe ons Vader ánders besluit het as wat Jesus gevra het (Luk. 22:42). Selfs Jesus moes daar in Getsemane ervaar hoe Sý wil omgebuig word. Wanneer ons dus tot God bid, moet ons afstand doen van onsself en ons begeertes, en pleit vir God se volmaakte wil vir ons lewe, en ons moet geduldig wees in gebed, “geduldig wag om te verneem wat die Here vir my sal sê …” (Hab. 2:1).


“God is ‘n Vader by uitstek, Hy is nie wispelturig, moedswillig of onvoorspelbaar nie; Hy verander ons vraagtekens in uitroeptekens!” (Annene Mullins en Kobus Myburgh).


Gebed: “En nou kan ek met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy my gebede verhoor as ek enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ek weet dat Hy my gebede verhoor as ek iets só vra, weet ek ook dat ek kry wat ek van Hom vra” (1 Joh. 5:14-15). En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel, “geduldig wag om te verneem wat U vir my sal sê …” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page