top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GEBEDSVERHORING (1) – MOENIE TOU OPGOOI NIE!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:7-8 – “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”


Vergelyk ook Jak. 4:3 – “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”


Sommige Bybelverklaarders meen dat hierdie paar verse ‘n voortsetting of afronding van Jesus se voorskrifte oor die “Ons Vader” gebed is wat Matteus in hoofstuk 6 vanaf vers 5 tot 13, voorgehou het. Ander meen dat hierdie paar verse direk verband hou met die voorafgaande gedeeltes. Hoe dit ookal sy, Jesus preek twee maal oor gebed in Sy Bergrede, en dit is veelseggend. Hy beklemtoon dat ‘n dissipel van Hom, ‘n volhardende gebedslewe moet handhaaf, want hierdie onontbeerlike kommunikasie met God is ‘n erkenning van ons afhanklikheid van God. Gebed is ‘n uiters belangrike deel van geloofskommunikasie met die lewende God – dit is die hartklop van ons Christelike lewe.


Met hierdie paar verse van ons teks, moet ons baie versigtig wees. Dit is amper soos die “fyndruk” op ‘n kontrak wat mens eers later ontnugter wanneer jy uitvind dat daar nie volkome aan jou verwagtinge voldoen is nie. Dit blyk dat Jesus hier ‘n blanko tjek gee aan elkeen wat een of ander begeerte het want “elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry; en elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Dit kan só maklik buite konteks beskou word dat “elkeen” net gou-gou sy versoeklysie kan “inbel” na God toe en dan wag vir spoedige aflewering. Mense reageer entoesiasties hierop maar word dikwels teleurgestel in hul verwagtinge, en dan begin hulle twyfel. En wonder hulle of hulle geloof dan nie sterk genoeg is nie, of nog erger, God word verkwalik, Hy kom nie Sy beloftes na nie!


Hierdie uitnodiging van Jesus is nie onvoorwaardelik nie. Dit is gerig aan “elkeen” wat in teenstelling met die skynheiliges, nie die “gebed misbruik om hulself ‘op te hemel nie’ of hulself nie ‘mismaak sodat ander kan sien hulle vas” (Matt. 6:5-18). Dit is gerig aan “elkeen” wat “skatte bymekaar maak in die hemel” (Matt. 6:19-21), “elkeen” wie se “oog goed is” (Matt. 6:22) wat na Jesus opkyk en wat aardse besittings anders sien en daarom “nie Mammon dien nie” (Matt. 6:24). Dit is gerig aan “elkeen” wat hulle “nie bekommer oor wat hul eet of aantrek nie” (Matt. 6:25), “elkeen” wat anders optree ten opsigte van die “ander wang draai, bokleed ook gee, tweede kilometer stap, vyande liefhet en vir hulle bid, armes help sonder om dit uit te basuin” (Matt. 5:38-6:4).


Hierdie uitnodiging van Jesus is gerig aan “elkeen” wat “sout en lig vir hierdie wêreld is” (Matt. 5:13-16), “elkeen” wie se “getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs” (Matt. 5:20). “Elkeen” wie hulle “allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, beywer” (Matt. 6:33). Dit is vir “elkeen” wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk! “Elkeen” kan met verwagting aanhou met vra … aanhou met soek … aanhou met klop – “God sal aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep, reg doen” (Luk. 18:7a).


Iemand het gesê om aan te hou met God in gebed te kommunikeer, is soos ‘n konstante voedingsaar wat anders is as ‘n naelstring wat met geboorte van ‘n baba ontkoppel word, by die aanvang van geloof juis bevestig word. Dit is om stelling in te neem voor die deur van die lewende God en verseker te weet, as ek aan hierdie belangrikste deur in die heelal, in Jesus se Naam gaan klop, my Vader gaan oopmaak want ek is by die regte adres. En die kersie op die koek is dat Hy altyd tuis is! Hy wag eintlik vir my klop en sal op die regte tyd, Sy tyd, vir my die deur oopmaak. Ek moet net geduldig wag en nie tou opgooi om aan te hou met klop nie.


“Bel-’n-gebed word al meer populêr. Daar is selfs een vir ateïste. Jy bel – en niemand antwoord nie” (Anoniem).


Gebed: Here, dankie dat ek nie vir aardse gemak en plesier, net sommer gou-gou daarvoor by die hemel kan aanklop nie. Dankie dat U vir “elkeen” wat U nie net ken nie, maar ook ‘n verhouding met U het, uitnooi om te vra, te klop en te soek, en ek weet U luister nie net nie, U gee ook op U tyd, volgens U wil. Help my Gees van God, om my gebedslewe vas te anker in U. Laat my nooit ophou bid nie, sodat ek nooit afgesny sal word van U nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page