top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


DIE SORGE VAN DIE LEWE (4) – DON’T WORRY BETEKEN NIE DON’T CARE NIE!

(Luk. 12:22-34)


Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”


Jesus sluit hierdie gedeelte oor die “Sorge van die lewe” af met ‘n stukkie waarheid wat só baie mense, een of ander tyd in die lewe al fisiek, verstandelik of geestelik beïnvloed het. Jesus erken eintlik dat die lewe moeilik is. Baie mense weet hoe dit voel om nie eers genoeg te hê om vandag te oorleef nie, wat nog te sê van môre. Ons leef ongelukkig in ‘n wêreld waarin baie mense se verwagtinge van die lewe, net maanskyn en rose behoort te wees, en wanneer die realiteit van die teenoorgestelde hulle tref, is hulle hoogs verontwaardig.


Die feit van die saak is dat Jesus nie besig is om ons gelowiges te verseker dat ons ‘n probleemlose lewe sal hê nie, inteendeel, elke dag sal “genoeg moeilikheid van sy eie bring.” Daarom is dit eintlik sinneloos om vandag se probleme nog by môre ook te voeg, net om uit te vind dat die “kommervrag” al hoe swaarder raak totdat ‘n mens dit nie meer kan hanteer nie. Net gister nog het Jesus gesê ons moet ons “beywer vir die koninkryk en die wil van God”, en hier is ons alweer besig om ons eie ding te doen. Om eerlik te wees, om bekommerd te wees oor môre, is om iets te probeer doen wat nog nie bestaan nie, want môre is nog nie hier nie.


Ons moet egter steeds onthou dat Jesus nie sê ons moet nie sórg vir môre nie. Jesus se uitgangspunt is nie: “Don´t worry, be happy,” nie. “Don´t worry” is nie vir Hom gelyk aan “don´t care” nie. Nee, ons moet vir môre beplan. Beplanning vir môre is vandag se werk, en die uitvoering daarvan is môre se werk. En vir môre se werk, stel ons God se koninkryk en Sy wil eerste en kyk wat gebeur! As dit nie gaan uitwerk soos ek beplan het nie (dit waaroor ek so bekommerd is), gaan dit niks verander aan die dinge wat werklik saakmaak en aan my vervulling gee nie. Ons het nog nooit beheer oor die toekoms gehad nie. Nie eens van ons geboortedag af nie. Sekere dinge is nie in my hande nie, maar in God se hande. Ek kan Hom met my lewe vertrou en Hy nooi ons uit om ons bekommernisse op Hom te werp, want Hy sorg vir ons en wil verantwoordelikheid aanvaar vir al ons môres.


Wat is die regte ding om voor God te doen? Doen die dinge waaraan jy wel iets kan doen, nie die dinge waaraan jy niks kan doen nie. Vertrou op God – verwag dat Hy môre dinge kan verander. Glo, hoop, leef en verwag dat God môre vir ons uitkoms kan gee, genesing kan gee, antwoorde kan gee, oplossings kan gee! Die gevolge van vertroue in die Here vir die dag van môre, in plaas van bekommernis, kan vir ons voorsiening meebring. Kom ons vertrou ons Vader vir vandag én môre. Die mate van my bekommernis en angstigheid vra altyd hoeveel ek bereid is om God te vertrou, veral vir die toekoms waaroor ek geen beheer het nie. “Pray and let God worry” (Martin Luther).


“Worry does not lengthen your life, it does not improve the quality of your life, it just makes you miserable” (Greg Laurie).


Gebed: Lewende Jesus Christus, my gedagtes oor die toekoms is net te besig, só besig dat dit angstigheid en bekommernis veroorsaak. Dit steel my lewenslus en maak my fisies siek want my skouers is net breed genoeg om vandag se las te kan dra, terwyl ek probeer om môre s’n ook op te pak. Dankie Jesus, dat U al my laste op U skouers geneem het op die kruisweg na Golgota. Dankie dat elke keer wanneer ek bekommerd is oor wat ek gaan eet, U die brood van die lewe gebreek het vir bekommerde mense soos ek. En elke keer wanneer ek bekommerd is oor wat ek gaan drink, U die beker gee en bevestig dat U bloed my angstige dors sal les. Elke keer wanneer ek bekommerd is oor wat ek gaan aantrek, U klere by die kruis afgestroop is om my te klee. Dankie dat ek kan bid en my bekommernisse by U los. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page