November 8, 2019

November 7, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

November 4, 2019

November 1, 2019

October 31, 2019

October 30, 2019

October 29, 2019

October 28, 2019

Please reload

Recent Posts

Gedagte vir Vandag

October 29, 2019

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

 (Matt. 5-7)

 

SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)

 

DIE SORGE VAN DIE LEWE (1) – BEKOMMERNIS IS DESTRUKTIEF!

(Luk. 12:22-34)

 

Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na ...” (Lees gerus die perikoop Matt. 6:25-34)

 

Vergelyk ook Rom. 5:3 – “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding.”

 

Met respek, Jesus veralgemeen seker nie met hierdie versoek dat ons nie bekommerd of besorgd moet wees nie. Weet Jesus wat werklike armoede beteken? As ons die huidige moeilike ekonomiese omstandighede in oënskou neem, kan ons nie anders as om bekommerd te wees nie. Daar is mense wat nie weet waar hulle volgende stukkie kos vandaan gaan kom nie. Klere is nog erger – ons het nie eers genoeg geld vir kos nie en klere is ontsettend duur, mens kan mos nie naak rondloop nie. Afleggings en werkloosheid is aan die orde van die dag. Gegradueerders sit by die huis, hulle toekomsdrome is aan flarde – en Jesus sê ons moenie bekommerd wees nie ...? Moet ons dan gevoelloos oor die lewe kyk?

 

Nee, dit is veelseggend dat Jesus hierdie tien verse met “daarom” begin. Hy sluit aan by Sy vorige uitsprake waarin Hy waarsku om nie aan aardse dinge verknog te raak en mammon te dien nie. Jesus verwys nêrens dat ons nie moet werk om kos en klere te verdien nie of om vir jou lewensonderhoud, van genade alleen, afhanklik te wees nie. Jesus wys kommer af, nie voorsorg nie!

 

Jesus gebruik in ons bronteks, drie keer in tien verse: “Moet julle nie bekommer nie …”. Hoekom? Want Hy weet dat ons bekommerd is oor so baie dinge wat ons glo ons beheer oor het en oor dinge wat ons dink, buite ons beheer is. Daar is diegene wat selfs bekommerd is omdat hulle oor niks bekommerd is nie! Daar word vertel van ‘n man wat ‘n alfabetiese lys gemaak het van al die dodelikste siektes van ons tyd sodat hy maklik kon identifiseer watter siekte hy onder lede het wanneer hy sleg voel, en hom daaroor kan bekommer.

 

Tydens die seereis van die lewe bevind ons onsself soms op onstuimige waters terwyl die golwe van satan en sy bose trawante, onophoudelik poog om ons lewensbootjie stukkend te slaan en ons met vrees te vul. Sommige mense voel dan dit is hulle reg om aan daardie vrees vas te hou, bekommerd daaroor te wees en die bekommernis te vertroetel. Dit oorheers hulle denke en sorg vir slapelose nagte. Hulle raak só verknog aan hulle onsekerhede dat hulle later begin om dit as ‘n soort sekuriteit voor te hou – ‘n vals sekuriteit!

 

Tog is ons gelowiges, diep in ons wese, deel van Jesus se vrede, die vrede wat ons by die voet van die kruis ontvang het. Daarom is ons blydskapmense ten spyte van bekommernisse of swaarkry, “ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” Hierdie hoop word op God se genade-aambeeld steeds sterker gesmee. Ons moet nie wonder daaroor nie, maar in verwondering dankbaar wees daaroor! Jesus erken juis die mens se kommer as ‘n lewensnoodsaaklikheid, daarom wil Hy hoop en raad gee.

 

Hy wil God se versorgende liefde oordra, God wat steeds omgee ten spyte van elke dag se kommer. Dieselfde God wat tot dusver voorsien het en nooit die werke van Sy hande laat vaar nie. Dieselfde God wat “die lewe en die liggaam” gee, sal die minder belangrike kos en klere ook gee. God het te groot prys betaal om nou Sy versorging te staak. Hy bly steeds in beheer. As ons met ons bekommernisse by God uitkom, verloor hulle meeste van hul vreesaanjaendheid. Ons God van liefde gee aan ons hoop in die moeilikste omstandighede. Bring tyd saam met Hom deur in gebed: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet. 5:7). Gee die beheer van jou lewe aan God oor en ontdek dat jy in Sy krag, tot alles in staat is.

 

“Remember, the biggest troubles you have got to face are those that never come”

(William Barclay).

 

Gebed: God van my lewe, die laste van die lewe wat ek dra, skaaf my skouers stukkend. Die pad wat ek elke dag loop lyk maar vaal en eindeloos. Die lewe is baie dae net nie meer ‘n lied nie. U weet hoeveel mense moed verloor het en wie se hoop elke dag taan want alle pogings om byvoorbeeld, net ‘n werk te kry, is vrugteloos. Dankie dat ek my bekommernis by U kan laat na elke dag se swoeg en te weet U sal daaraan aandag gee. Dankie dat U na my omsien en my red van die skadu’s, om en binne my. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.