top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


DIE LIG VAN DIE LIGGAAM – LAAT GOD TOE OM JOU OË IN TE STEL!

(Luk. 11:34-36)


Matt. 6:22-23 – “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”


Wat bedoel Jesus met hierdie eienaardige stelling in ons teks? Die Afrikaans is duidelik maar wat beteken dit? Miskien maak dit meer sin as ons dit in Engels ook lees: “If your eye is pure, there will be sunshine in your soul. But if your eye is clouded with evil thoughts and desires, you are in deep spiritual darkness. And oh, how deep that darkness can be!” (The Living Bible). Die oog word beskou as die “venster of lamp” van die liggaam waar lig ingelaat word. Die toestand van die venster bepaal hoeveel lig deurgelaat word. Indien die venster skoon, kleurloos, nie skeef en geen skerm (gordyn of blindings) het nie, sal die lig onbeperk inskyn en die hele vertrek verlig.


Jesus wil met hierdie beeld van die oog as lamp van die liggaam, wat lig waarneem, vir ons vra hoe ons dinge sien? Hoe neem ons waar? Is ons ingesteld op Sy stelling dat “ons lig vir die wêreld is” (Matt. 5:14). Beskik die lig wat deur die “lamp van die liggaam” oor enige geestelike waardes? Is ons oog op geestelike waardes of materiële waardes ingestel, of het ons miskien dubbelvisie deur die geestelike waardes vir Sondag te bêre en die materiële vir die oorblywende dae van die week? Dubbelvisie maak die lig donker want die “venster” is nie skoon nie!


Wat belemmer ons visie sodat die lig wat ingelaat word, “donker” is? Eerstens, vooroordeel verhoed dat ons ‘n goeie oordeel aan die dag kan lê deur die ware feite van ‘n saak nie waar te neem nie en dan aannames van óns keuse te maak en wat óns pas. Tweedens word die visie versteur deur jaloesie wat blindheid veroorsaak vir ons eie foute en die foute van diegene van ons “keurlysie,” terwyl die ander ons vyande word. Derdens word die visie belemmer deur verwaandheid, wat dubbelvisie veroorsaak sodat ons nie kan waarneem wie ons werklik self is nie. Vergelykings word getref teenoor ander se waardes en net óns waardes maak saak. Die “self” neem die belangrike posisie in.


Jesus verwys hier na die goeie en slegte. Die goeie oog sien nie altyd net die donker en slegte nie, maar neem die mooi dinge van ander in ag en die mens word verlig met edelmoedigheid. Instede van oordeel wat gedompel is in ‘n skinderpot vol gif, word dit vervang met naasteliefde wat aansteeklik is, wat omgee, wat die goeie in ander waarneem ten spyte van ...! Ons is dan ligte wat skyn in ‘n donker wêreld want ons “venster” laat suiwer lig deur! Die lig in ons hart het aangegaan want ons kyk met God se oë sodat “die lamp van ons liggaam” die regte seine deurstuur na ons hart toe, die harde hart in ‘n vleishart verander: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee” (Eseg. 36:27).


Die slegte oog is om met geestelike donkerheid in jou rond te loop. Jy neem net inhaligheid en afguns waar want daardie oog is op aardse skatte gefokus. Dit veroorsaak jaloesie teenoor ander en hulle besittings, hulle harte is gesluit vir ander se nood; hulle haat dit om ander gelukkig te sien; hulle is vir almal kwaad en is gedurig in konflik met almal. Hulle wéét die beste, ís die beste en niemand sal hulle kan verander nie. Intussen groei die haatdraendheid in hulle wat die liggaam al hoe donkerder maak en “hoe donker moet dit dan nie wees nie!” Die gevolg is dat dit onmoontlik raak om met hulleself saam te leef, onmoontlik om met ander saam te leef en onmoontlik om met God saam te leef – “There can be no fellowship between the God whose heart is afire with love, and the man whose heart is frozen with meanness” (William Barclay).


Wat is jou keuse oor geestelike visie? Is jou oë gevestig op Jesus of is jou blik vasgevang op al die blink sondige dinge wat jou oë se fokus verander, en jou van God laat vergeet? Verkies jy ‘n siel vol sonskyn of ‘n ondeurdringbare duisternis? Ons het gister tot besef gekom dat God se koninkryk die beste “besitting” is wat ons kan hê, dat niks dit kan oortref nie, dat ons opgeruimd daaroor kan raak want dit is fenomenaal! Dit kan ook nie anders nie want dit is die plek waar hoop in plaas van wanhoop is, die plek waar donkerheid deur die ewige Lig verdring word, die begin van die ewige lewe! As jou oë nie ingestel is deur God nie, maak jou oë jou lewe pikdonker; geen Goddelike lig wat in jou lewe skyn nie, maak dit nag binne-in jou. Jou aktiewe keuse het ‘n geweldige implikasie wat joune kan wees, of nie gaan wees nie: die verskil tussen ewige Lig of ewige donker!


“Die oog is ‘goed’ as dit raaksien dat die enigste lig van Christus kom. Dit is die geheim: Om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart, en in my lewe te kry” (Andrew Murray).


Gebed: Ons Vader, daar is so baie donkerte in die wêreld van vandag. Baie roep in wanhoop uit: “Waar is God? Wys Hom vir ons. As Hy bestaan sal die wêreld nie so lyk soos nou nie.” Here, al wat ek kan antwoord is dat hulle na die mense moet kyk wat aan U behoort. Mense wat omgee, mense wat U wil, leef en doen. Maar terselfdertyd bely ek Here, dat ek soms met “slegte oë” na ander kyk en dan sien ek van U kinders en myself, wat nie na U lyk nie, wat nie beelddraers van U is nie, wat maar swak verteenwoordigers van U is. Dit is dán wanneer die swartgalliges twyfel in U bestaan. Here Gees, help my “om Christus as die Lig in my oog, en sodoende in my hart en in my lewe te kry.” Stel my oë in sodat my visie gerig is op U koninkryk. Laat ek met alles binne in my, ván en óór U getuig, en as dit nodig is, met woorde ook. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page