top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: DERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GOD EN MAMMON (1) – LEEF JY VERLIES-VRESEND OF GOD-VRESEND?

(Luk. 16:13)


Matt. 6:24 – “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”


Vergelyk ook Fil. 3:19 – “Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.”


Satan het sy laaste troefkaart gespeel om Jesus in die woestyn te versoek deur vir Hom al die koninkryke van die wêreld met al hulle prag te wys. Al wat Jesus moes doen om dit te ontvang, was om voor satan neer te val en hom aanbid (Matt. 4:9). Verregaande? Toe nie so nie! Satan speel vandag nog dieselfde troefkaart en menigte mense aanvaar die aanbod – daar word eerder op mense vertrou as op die Here (Ps. 118:8). Jesus het satan weggestuur deur aan te haal uit die Skrif: “Daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’ (Deut. 6:13), terwyl menigte mense vandag nog gevang word deur die oudste “trick” in die boek van satan en die knie buig voor Mammon.


Wie is Mammon? Mammon is die rykdom "god" waarop mens al sy vertroue plaas. Dit is die selfsugtige hebsug wat ‘n mens se hart verower en jou van God vervreem. Die Bybel verwys nie na geld wat die wortel van allerlei kwaad is nie, maar na die liefde daarvoor: “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal” (1 Tim. 6:10).


Geldgierigheid het ‘n mededingende saligheid geword – Rykdom koop alles; rykdom koop mense uit die gemors waarin hulle hul bevind; rykdom word ‘n maatstaf, ‘n enigste begeerte. Dit word die enigste wapen om die lewe aan te pak. Dit word al waarvoor gelewe word en alles word daar om beplan en uitgevoer. Rykdom veroorsaak dat mense as “stepping stones” gebruik word om bo uit te kom. Liefde vir God en jou naaste word eenkant toe geskuif!


Materialiste stel hulle vertroue in stoflike dinge en hulle glo hulle besittings maak hulle gelukkig. Hulle duur motors sal hulle reis veilig maak; hulle duur klere en juwele dwing gesag af en bring geluk; hulle pragtige huise lok baie vriende na partytjies – alles Mammon! Ons kan nie God én geld liefhê nie. Hulle sluit mekaar uit, want beide lê beslag op jou hele lewe. Ons kan nie onnadenkend leef sonder om ‘n keuse te maak nie. Jesus het die regte keuse gemaak tót die dood toe, sodat ek en jy kan leef, om die regte keuse te kan maak!


  • God sê: “My seun, gee my jou hart”; mammon sê: “Daar is nie ‘n God nie, jou hart behoort aan my.”

  • God sê: “Wees tevrede met wat jy het. Wat ‘n mens het, is beter as wat hy begeer (Pred. 6:9); mammon sê: “Die wêreld bied baie dinge, kry dit, jy verdien dit – geld, besittings, “fair or foul.”

  • God sê: “Wees eerlik en nie korrup”; mammon sê: “Eerlikheid bring jou niks in die sak nie.”

  • God sê: “My koninkryk sluit vir jou die ewigheid oop”; mammon sê: “Dit gaan oor die GROOT ‘Y’ – Waar jy BLY; Wat jy RY; Wat jy KRY.” Wat mammon egter nie byvoeg nie is: Pasop, dit rym met LY.

  • God sê: “Dit is tydelik, Jesus is vir ewig! Vertrou op Hom! Hy bied blywende geluk!”


“By Mammon se bank wag tydelike voordele soos status, voorspoed en mag. Sy geslepe bestuurder vertel ongelukkig nie dat die belegging soos mis voor die son gaan verdwyn nie en dat teëspoed, maagsere, depressie, spanning en bekommernis die voorland is nie. God daarenteen waarborg ewige dividende op enige belegging by Sy hemelse bank. Hy beskerm ons belegging met Jesus se lewe” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Ons Vader, dankie dat U my waarsku teen materialisme. Dankie dat ek die gawes wat U tot my beskikking stel, kan geniet. Dankie dat U my toelaat sodat ek self kan besluit hoe om dit te bestuur. Weerhou my asseblief daarvan om nie deur hierdie gawes besit te word nie want dan word die mammon ding Mammon, ‘n iemand wie se naam met ‘n hoofletter geskryf word. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page