top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5 tot 7)


SOSIALE KWESSIES: EERSTE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19 tot Matt. 7:12)


SKATTE IN DIE HEMEL – OPGEWONDE OOR JOU SKAT IN DIE KONINKRYK VAN GOD!

(Luk. 12:33-34)


Matt 6:19-21 – “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”


Matteus het sedert hoofstuk 5:21 vir ons beskryf wat Jesus aan ons voorgehou het dat wetsonderhouding, “meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs” van destyds. Hy het dan ook riglyne gegee, hoe die wet van God wat vir Moses gegee is, in die praktyk geleef moet word. Daarna het hy in hoofstuk 6:1-18 beskryf hoe Jesus die motiewe beklemtoon waarmee ons gelowiges ons godsdienstige handelinge uitvoer. Vervolgens kom Jesus nou en gee vir ons riglyne hoe ons, ons lewe moet inrig ten opsigte van allerlei sosiale kwessies (Matt. 6:19 tot Matt. 7:12).


Jesus het nooit gesê dat die lewe in hierdie wêreld onbelangrik is nie. Om vir die toekoms voorsiening te maak is heeltemal in orde en deel van goeie beplanning. Wat Jesus wel teen waarsku, is wanneer inhaligheid en gierigheid en die opgaar van middele, uitsluitlik vir persoonlike gewin en sekuriteit is. Ons eie belang mag nie groter word as God se belang nie. Wanneer ons waardesisteem as Christene so verknog geraak het aan aardse dinge wat dit moeilik maak om te sterf a.g.v. roem en rykdom. Iemand het eendag gesê dat ‘n rand in die hand meer werd is as ‘n droom in die hart. Wat hy egter vergeet het om by te voeg is dat mens moet waak dat sy geloof in Christus Jesus ook niks meer as ‘n droom in die hart word, en sy versameling skatte, meer as God word nie.


Het Jesus dit teen aardse skatte? Nee, die rykdom van hemelse skatte lê net op ‘n ander vlak en is buitendien binne Sy ekonomiese stelsel. Die feit bly staan dat Jesus redes verskaf hoekom daar nie skatte op aarde bymekaar gemaak moet word nie – diefstal, erosie, inflasie en baie ander faktore wat verlies tot gevolg het en dit geen blywende waarde het nie. Jesus bied ‘n beter lewenspolis vir ons aan, en Sy beleggingsmoontlikhede is nie op die aandelebeurs genoteer nie. Sy beleggings veroorsaak nie slapelose nagte, grys hare en maagsere a.g.v. prysskommelinge en aandelemarkte wat in duie stort nie. Jesus se belegging het ewigheidswaarde en dit is onskatbaar – dit is om “aandele te besit” in die heel kosbaarste skat ooit, in die Koninkryk van God!!!!


Dan is daar die groep wie se gewoonte is om te koop “just to be like the Jones’s.” Hulle raak so besig om bymekaar te maak en te vergelyk, dat daar nie tyd vir God is nie. Hulle is altyd net té besig om besittings bymekaar te maak, ‘n goeie “belegging” te kan hê, nog méér te kan besit. ‘n Ander stelling is natuurlik: “Ek wil dit hê! Ek het my hart daarop gesit en ek sal nie rus voor ek dit gekry het nie.” Hierdie uitgangspunt bevestig Jesus se woorde: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Solank hierdie aardse skat van selfverryking en/of eiebelang nie in die pad van die ewige skat staan nie! Miskien is dit nodig dat ons ons “beleggings” in orde kry en besef dat God se Koninkryk eintlik ons beste “besitting” is. Hierdie “belegging en besitting” sluit immers die ewigheidstoekoms oop!


Die ewige skat het Jesus reeds vir ons gegee (Matt. 5:21-48). Die ander wang draai, tweede kilometer loop, bokleed as deel van die “belegging in liefde,” die vrede van Jesus wat ons verander in vredeliewende en vredevolle mense ens. Jesus het juis hierdie konsep in gedagte gehad wanneer Hy praat oor dinge wat gaan hou. Daar is geen permanente waarborg in goedere dat dit vir ewig gaan hou nie. Dit is dan wanneer mens vrede maak met dit wat jy het en besef dat jy eintlik hét wat jy nodig het. God gee volgens koninkryksperspektief en waarmee Hy ons kan vertrou. Bowenal, wanneer ons daarmee vrede gemaak het, dan bekommer ons- en raak ons nie besorgd nie: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7).


Jesus hou wag om te keer dat ons tyd, aandelemark, sport, besittings, of wat ookal wat ons aan hierdie wêreld laat kleef, nie verruil vir dít wat ewigheidswaarde het nie – die skat in die hemel, die skat wat maak dat ons gelowiges, mense met ‘n gewaarborgde toekoms is! Ons God is ‘n God van voorspoed en oorvloed – kom ons gee Hom die eer vir wat ons het, want dit is “waar ons skat is, en dit is daar waar ons hart dan ook sal wees.” Laat net Hý ons lewe beheer. En as jy dalk voel jy het niks van waarde in jou lewe nie, onthou jy het die grootste skat van alles: “Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe” (2 Kor. 9:15) – Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker, ons grootste Skat vir tyd en ewigheid – Your soul is more important than you stuff!


“Wat ‘n hopelose, eindelose pad loop hulle wat goed soek, in plaas daarvan om God te soek” (Bernardus van Clairvaux).


Gebed: Ons Vader in die hemel, daar is so baie dae wat ek skuldig staan voor U omdat ek só besig is om aan my toekomstige beleggings te werk, dat ek nie tyd het vir U nie. Wanneer ek wel ‘n tydjie afknyp is dit buitendien met gedagtes, dat U tydjie ook inmeng in my tyd, wat my huidige lewensstandaard beïnvloed. Ek is só besig om ‘n aardse bestaan te maak dat ek vergeet om te lewe, vergeet om my rykdom in U te soek! Ek het nie eers tyd om hierdie dagstukkies elke dag volledig te lees nie. Help Here!!! Skenk my meer tyd om aan my hemelse skat te werk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page