top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (14) – BEVESTIG GOD SE HEERSKAPPY MET AMEN!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:9-13 – Afsluiting van die modelgebed: “Amen.”


Vergelyk ook 2 Kor 1:20 – “Jesus Christus, die Seun van God is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê.”


Wat beteken Amen? Amen is die Griekse vertaling van ‘n Hebreeuse woord wat eintlik “vastigheid” of “trou” beteken. "Amen wil eintlik sê dit is waar en seker. My gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer” (Heidelbergse Kategismus antw. 129). Dit is allermins nie ‘n stopwoordjie wat aandui dat die gebed klaar is nie.


In die Evangelies gebruik slegs Jesus die woord amen. Dit was Sy manier om krag by Sy woorde te sit en Hy gebruik dit nie minder as 24 keer nie. Die amen is so tipies van Jesus se eie trou en rotsvastigheid dat Hy in Openbaring selfs die Amen genoem word: “So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: Ek weet ...” (Op. 3:14). Amen is ‘n bewys van absolute vertroue en ware berusting in God.


Waarom is dit so belangrik om op die “Amen” van ‘n gebed te vertrou? Dit plaas die adres en verhoring van gebed buite onsself, dit bevestig God het die mag en krag om ons gebede te beantwoord en te gee wat ons vra, daarom kan ons vertrou op God en Sy beloftes. Wie God in Christus aanroep, staan op vaste grond. In Christus is al God se beloftes ja en amen, vas en seker (2 Kor. 1:20-21).


“Amen” spreek ook die saak van gevoel en begeerte aan. Baie mense “voel” nie seker dat God hul gebede hoor nie. Dit voel asof hulle versugtinge net tot by die plafon kom en daar eindig. (Gaan buite toe, dan is die plafon oneindig.) Ander weer wonder of hulle regtig ernstig genoeg bid? Hierdie gevoelens word aan die einde van die gebed deur “Amen” opgehef! Daarmee is ek by die regte adres – God se adres – en kan ek verseker weet Sy adres is my adres ook.


God is ‘n “Amen-God”, daarop kan ons reken. Amen!!!


Gebed: Ons Vader in die hemel, Amen-God, U teenwoordigheid by ons is meer as enige gawe wat U ons kan gee. Dankie Jesus dat U ons gebedsvoorbeeld is en ons U kan navolg omdat die Heilige Gees ons die krag daartoe gee. Dankie dat U Uself onvoorwaardelik aan ons gee. Help ons om onsself aan U te gee. Dankie dat U ons adres, U adres gemaak het. AMEN!!!


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page