top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (12) – BY JESUS CHRISTUS IS ONS VEILIG!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:13b – “... maar verlos ons van die bose.”


Vergelyk ook Kol. 2:15 – “God het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”


Na aanleiding van die bede “laat ons nie in versoeking kom nie”, verklaar Die Heidelbergse Kategismus dat ons in onsself só swak is, dat ons nie een oomblik staande kan bly teen ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur wat nie ophou om ons aan te val nie. Daarom moet ons nie huiwer om in gebed, God te vra dat Hy ons moet help om teenstand te bied in hierdie geestelike stryd, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal het, God te vra, “om ons van die bose te verlos”.


Die meeste van ons gelowiges, het geen of baie min, belewing van die duiwel en sy bose magte. Daar is selfs mense wat glo daar bestaan nie ‘n duiwel of bose magte nie, inteendeel, die stryd teen die bose, is ‘n werklikheid en die stryd daarteen, gaan dwarsdeur ons lewe voort. Selfs Paulus het magteloos teen die bose gestaan: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek …” (Rom. 7:15-21). “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12). Indien daar nie bose magte is nie, wat was die geloofwaardigheid dan van Jesus se optrede terwyl Hy duiwels uitgedryf het by vele mense? Word Jesus se kruisdood en opstanding uit die dood, (ook voorgestel as ‘n bose mag), nie direk verbind aan die oorwinning oor die bose magte nie? (Kol. 2:15).


Satan moet nie onderskat word nie. Ds. H. Volten sê: “Hy staan aan die hoof van ‘n magtige ryk. Hy is nie alomteenwoordig nie maar het ‘n magtige ondersteuningsnetwerk (bose geeste in die lug – Ef. 6:12). Hy is nie almagtig nie maar moenie sy mag onderskat nie. Hy is ‘n gemene verleier en leuenaar – die vader van die leuen. Hy gebruik vriende, kerke en selfs die Bybel om mense te verlei. Hy is ‘n gemene aanklaer – hy verlei mense om te sondig dan gaan verklik hy die sondaar by God (asof God nie al klaar weet nie). Hy konkel in die donker – hy is voortdurend besig om met groot presiesheid sy doodsberigte te versprei.”


Martin Luther het gesê dat hy elke oggend met hierdie sesde bede opstaan want dan was die “aanvegtings” van satan en sy trawante ten minste vir die dag beperk. God sal dan die bose nie toelaat om hom te versoek nie. Jakobus se raad is: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jak. 4:7). Jesus kon die duiwel teëstaan in die woestyn. Drie keer het satan probeer om Jesus te versoek en al drie keer kon Jesus hom weier met die woorde: “Daar staan geskrywe ...” (Matt. 4:1-11). Jesus het satan met die Bybel teëgestaan en satan het besef hy voer ‘n verlore stryd, en Jesus verlaat.


Waar laat dit ons? Die bose magte is oorwin maar nog nie vernietig nie, dit lê nog in die toekoms (1 Kor. 15:24-26). Intussen beveel Paulus aan dat ons die wapenrusting wat God aan ons gee, “aantrek sodat ons op ons pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen mense nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld” (Ef. 6:10-18).


Deel van die wapenrusting is die swaard van die Gees, dit is die Woord van God. Wanneer ‘n soldaat na die gevegsfront gegaan het, moes hy geweet het hoe om sy swaard te gebruik, anders was hy dood. Wanneer ons die “gevegsfront” teen satan en sy trawante betree, moet ons weet hoe om ons “swaard”, die Woord, te gebruik anders is ons dood. Daarom moet ons die Woord ken en toepas om die bose magte van hierdie sondige wêreld te kan teëstaan. Jesus was suksesvol daarmee! Met ons Vader se hulp kan ons ook suksesvol wees.


Gebed gee die energie om die volle wapenrusting te kan dra. Elke deel daarvan is nodig anders kry die duiwel dalk net ‘n gaping en hy is nog in staat om mense se lewens te verwoes. Indien ons nie regtig by Jesus as die Oorwinnaar oor die bose magte skuil nie, bestaan die gevaar dat die bose steeds daagliks sal probeer, om ons in sy greep te kry. En dit is waarvoor ons by ons Vader pleit om van die bose, verlos te word.


“Die meeste mense bid om verlos te word van die bose, maar sal darem nog graag wil kontak behou” (Robert Orben).


Gebed: Ons Vader, soos U weet voer ons ‘n daaglikse stryd teen die bose magte van hierdie sondige wêreld. Ons geestelike stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie, kan alleenlik met die hulp van U krag gepaard gaan, dieselfde krag wat U geopenbaar het met Jesus se opstanding en hemelvaart. Laat my wandel in U Gees en U Woord, volgens U wil. Ek juig in my verlossing en dank U vir die ontsettende groot prys wat U daarvoor betaal het. Jesus, U dood en opstanding red my nie net nie, dit gee ook rigting aan my lewe. Dankie vir die vreugde om in U teenwoordigheid te kan leef! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page