top of page

Gedagte vir Vandag


Die “Onse Vader” gebed in Afrikaans by die klooster op die Olyfberg in Jerusalem

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (8) – GOD SE WIL IS TOT ONS BESWIL!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:10b – “… Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Vergelyk ook Matt. 26:39b – “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”


Hierdie derde bede omtrent “God se wil”, onderstreep en versterk die tweede bede – waar God se Naam geheilig word, daar word Hy as Koning erken en daar word Sy wil eerbiedig en volbring. Hierdie eerste drie bedes vra dus dat God sélf sal gee dat Hy as God erken en gehoorsaam word. Dit is volkome teenstrydig met óns wat nie graag van ons eie wil, wil afsien nie. Die sondige wil van die mens bots dus met God se onveranderlike en volmaakte wil. Wanneer ons dan bid dat U wil geskied, moet ons onsself verloën. Dit stel ons voor ‘n keuse: óf te buig voor God en Sý wil te gehoorsaam, óf in verset teen God ons eie wil te doen. Die korrekte keuse is eintlik voor die hand liggend: “Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen!” (Ps. 103:21).


Die bede is heel eerste ‘n Getsemane-gebed. Ons ken Jesus se woorde in Getsemane (Matt. 26:39b). Jesus leer ons daar in Getsemane dat ons Vader se wil pynlike gevolge kan hê, pyn en lyding wat ‘n kruisweg kan meebring! ‘n Weg waar ons ons kruis moet opneem en sélf dra. “Jesus se Getsemane gebed was ‘n gebed van self-oorgawe. Eers ná Getsemane kon Jesus Sy kruisweg voltooi. Eers ná ons Getsemane kan ons lewe werklik ‘n offer in diens van ons Vader word” (Ds. Johan Smit). Tog bid ons nie dat ons Vader se wil moet geskied nie, ons eis dat Hy ons s’n moet goedkeur. Ons probleem is dat ons weet wat God se wil is, maar ons laat na om dit te doen. God se wil is te uitdagend omdat dit een van die moeilikste dinge vir ons as sondaarmense is om ons aan die wil van God te onderwerp.


Tweedens is dit ‘n gebed wat ons nie altyd so maklik bid nie, veral wanneer jy iets bitter graag wil hê. Jy het al klaar jou hart daarop gesit en nou moet die Here nog net Sy goedkeuring gee, Sy “handtekening” byvoeg om mý wil te bekragtig. Op dié manier bid ons lankal nie meer “laat U wil geskied” nie, nee, dit het verander na “laat mý wil geskied – ék voorsien die plan Here, voer U dit net asseblief vir my uit.” En wanneer die gebed nie realiseer nie, aanvaar hulle God se wil teësinnig en soms met onderdrukte woede.


Derdens geskied hierdie gedeelte van die gebed nie alles tot God se wil nie, daarom moet ons versigtig wees om soms te wil sê “dit was, of is, God se wil.” Kan dit ooit God se wil wees dat klein babatjies deur volwassenes verkrag word, dat gemiddeld 58 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word? Kan motorkapings, ontvoerings, plaasmoorde, rooftogte God se wil wees? Is dit God se wil dat daar so baie korrupsie en bedrog is? NEE! Inteendeel, God wil nie dié dinge op aarde hê nie.


Ons leef in ‘n gebroke werklikheid waar die wêreld nie meer is soos wat God dit bedoel het nie, en dan is dit totaal in stryd met Sy wil. Ons leef in ‘n sondige en gebroke wêreld waar mense sonde doen, daarom gebeur hierdie dinge. As alles wat gebeur nou maar vanselfsprekend God se wil was, dan was hierdie gebed nie nodig nie! Juis daarom het Jesus ons geleer om te bid: “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Geen wonder Martin Luther het gesê hierdie bede is ‘n gevreesde bede nie. Jesus leer ons bid teen eiewilligheid. Ons vra daarmee niks minder nie as die dood van ons eiewilligheid en ons gee ons geheel en al prys aan God. In die hemel is daar geen teenspraak, daar is volkome harmonie tussen ons Vader en Sy hemelse dienaars. Die hemelwesens voer God se opdragte met ywer en sonder dwarstrekkery uit, en gehoorsaam Sy wil. Hier op aarde is dit anders. Waar ons woon is dit nie hemel op aarde nie, maar soms “hel op aarde,” soos sommiges dit noem. Hier moet ons versigtig wees om vir ons Vader te vra “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”


Só word die hemel kriterium vir die aarde. God daag ons dalk net uit om teen ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is Sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat u wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan Sy wil. Ons moet eerder in gedagte hou dat ons nie net altyd alles wat plesierig is moet afsmeek nie, maar aan God se wil onderwerp. Hy weet in elk geval presies wat ons nodig het: “Wil, o God, my op U weg lei. Maak U wil bekend, o Heer. Rig my voet en onderrig my; wil my in U waarheid leer …” (Liedboek; Psalm 25:2).


Hoe kom die mens sover dat sy eie wil vervang word met die voorbeeld van Jesus? Om Hom te volg in gehoorsaamheid aan die wil van ons Vader, deur die genade van God alleen. Om by God te pleit dat ons ons eie wil prysgee om aan Sy wil wat goed is, sonder enige teëpratery, gehoorsaam te wees. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:23). Moenie dat my wil geskied nie – “Hy moet meer word en ek minder” (Joh. 3:30). God se wil het ‘n naam: Jesus Christus. Die vraag na God se wil gaan eintlik oor die vraag of my lewe in lyn is met God se wil en die wêreld rondom mý? In Jesus Christus en met die hulp van die Heilige Gees word dit vir ons dan moontlik om op hierdie verskeurde aarde, die wil van God te doen.


“In laaste instansie is daar net twee soorte mense: dié wat vir God sê: “Laat U wil geskied”, en dié wat dit nie wil doen nie en vir wie God dan uiteindelik sê: “Laat jou wil geskied” (C.S. Lewis).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ek is so geneig om verby Jesus se uitgestrekte arms te wil beur omdat U wíl, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” Dankie Heer dat U nie opgee om my te keer nie, dat U aanhoudend my oortuig dat U wil vir my is om die veilige pad te vind – met my kruis op die rug al is dit ‘n moeiliker pad. Om Jesus te volg bring my immers by die regte adres uit – die ewige lewe. Lei my daarheen o Vader. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page