top of page

Gedagte vir Vandag


Die “Onse Vader” gebed word in verskillende tale in keramiek vertoon by die “Kerk van die Pater Noster” (Latyn vir “Onse Vader”) op die Olyfberg in Jerusalem.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (6) – LÉÉF GOD SE NAAM!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:9b – “… laat U Naam geheilig word;”


Vergelyk ook Jes. 6:3 – “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige. Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”


Die eerste drie bedes van Jesus se modelgebed, handel eers oor die belange van God wat die basis van die gebed vorm, en dan volg drie bedes waaroor ons as mense, se belange kan bid. Jesus wil ons hierdeur leer dat wanneer ons vra: “laat U Naam geheilig word”, veral klem daarop lê dat God se Naam reg gebruik sal word, dat ons Hom die eer gee, gehoorsaam aan Hom sal wees en dat ons gehoor gee aan die derde gebod: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie” (Eks. 20:7).


Ons begin ons gebed deur God te vra dat ons Sy Naam in ons, deur ons, en by ons geheilig mag hou want ons erken Hom as die Heilige God. Meeste mense verheug hulle daarin as hul vaders deur ander hooggeag word. Baie stories en selfs advertensies beeld die beste pa’s uit, kinders spog oor hulle pa’s – “my pa is groter of beter as jou pa” – alles in ons vermoë word aangewend om die aantasting van die oorsprong van ons familienaam, af te weer.


As deel van God se gesin, is dit daarom ons plig om ons Vader in die hemel se Naam vurig te beskerm en te sorg dat die mooiste Naam wat ons ken, deur almal geëer word. Dit is verbasend om te sien hoe baie mense begaan is oor die beskerming van hulle “nabymense” se aansien, maar baie min omgee vir die beskerming van die heilige Naam van God! Die heiliging van God se Naam moet meer belangrik wees as enigiets anders in ons lewe. Ons moet ons Vader se Naam só ‘leef’ dat ander wat Hom nie ken nie, nie vir Hom lag of spot nie. Daarom bid ons dat álle mense God se Naam moet respekteer en eerbied daarvoor sal hê sodat God tot Sy reg kan kom in álle mense se lewens.


Wanneer ons God vra dat ons Sy Naam heilig sal hou, vra ons allereers dat ons Hom reg mag ken. Want hoe kan ons die naam van iemand heilig hou wat ons nie ken nie? Hoe leer ons God ken? Deur Sy Woord aandagtig te lees en te bestudeer en met opmerksame oë na die natuur, te kyk. God se Naam is geskryf in die natuur en gegraveer in die geskiedenis. Van die wydste sterrestelsels tot in die kleinste atoomdeeltjie, geskiedenis van nasies en ons eie klein geskiedenissies, elke doudruppel op ‘n blaar, elke wolk in die lug, vind ons God se handtekening van sy Naam.


Sy Naam staan veral geskryf in Sy verbond, die Heilige Gees en die sakramente van die doop en die nagmaal. En dan natuurlik, die heel duidelikste staan die wese van die ewig lewende God, ons Vader, geskryf in sy Seun Jesus Christus. In Jesus sien ons die openbaring van God self. Ons moet net met ‘n geloofsbril kyk dan sal ons Sy andersheid, Sy onvergelykbaarheid en Sy heiligheid, waarneem.


Hoe gaan ander mense God se uniekheid en andersheid beleef? Wanneer ons, Sy volgelinge, dit wys! As God se Naam geheilig word, sal ons godslastering, meineed, vals ede aflê, huigelary, bygeloof, die ydellike gebruik van Sy Naam moet bestry. Dit begin by ons – ons lewe, gedagtes, woorde en werke, ons grootste begeerte, moet getuig van eer aan God se Naam. Sy heilige Naam moet ook uitgedra word aan hulle wat nog in duisternis woon, op die sportveld, by die skool, in die werksplek, by die braaiplekke, oral. “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys” (Ps. 115:1).


“Daar is geen duidelike definisie aan die heiligheid van God se Naam nie, maar vir my beteken dit om ‘n duisend en een keer opgehelp te word wanneer ek sy Naam aanroep, nadat ek ‘n duisend keer geval het” (Helder Camara).


Gebed: Here, skenk my die krag om U Naam heilig te hou. Gee dat my gebede U Naam sal groot hou en groot maak. Ek is oorweldig deur U Naam, laat my daaraan gestand doen. Help my om suiwer te dink, suiwer te praat en suiwer te doen wanneer ek u Naam gebruik. “Ek wil U Naam loof, nou en vir altyd, van waar die son opkom tot waar dit ondergaan” (Ps. 113:2-3). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page