top of page

Gedagte vir Vandag


Die “Onse Vader” gebed word in verskillende tale in keramiek vertoon by die “Kerk van die Pater Noster” (Latyn vir “Onse Vader) op die Olyfberg in Jerusalem.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (5) – GOD SE NEERBUIGENDE LIEFDE!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:9a – “So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is …,”


Vergelyk ook Ps. 103:19 – “Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal.”


Ons het die “Onse Vader” gebed van kindsbeen af geleer; dit was deel van “Geloofsleer en Sedeleer” op skool; benewens al die Boeke van die Bybel in die korrekte volgorde, die Tien Gebooie en die Twaalf Artikels, was die Onse Vader gebed ‘n vereiste om te ken vir Geloofsbelydenis aflegging; in die Weermag moes ek as offisier dit soggens op parade aan die troepe voorlees (‘n geskrewe “Onse Vader” was binne my baret. Net ‘n Kapelaan mag uit sy kop uit gebid het???). Die Onse Vader gebed was met ander woorde, van kleins af, deel van ons daaglikse roetine. Ons ken dit só goed dat die gevaar bestaan dat die werklike betekenis daarvan kan vervaag, en ons dit selfs as vanselfsprekend kan aanvaar. Ons moet egter steeds onthou dat Jesus die Onse Vader aan ons as volmaakte, as die modelgebed gegee het om ons te “leer bid” (Luk. 11:1).


Hoewel God die Hoë en Verhewene is, het Hy uit liefde en genade “ons Vader” geword en het ons deur Christus, Sy kinders geword. “Ons Vader wat in die hemel is” vertel vir ons van God se neerbuigende liefde! Dit herinner ons ook aan die onmeetlike afstand tussen God wat Verhewe en Almagtig is, en ons wat swak en nietig is. “Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie” (1 Tim. 6:16). “Hy het die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan en vir Hom ‘n woonplek ingerig. Hy ry op die wolke, op die vleuels van die wind” (Ps. 104:2b-3).


In ons menslike nietigheid en sondigheid kan ons maklik aardse gedagtes aangaande ons Vader hê. Dit is daarom nodig dat ons met kinderlike eerbied en vertroue tot Hom nader. God se vermoëns is onbegrens. Hy woon nie op plekke wat met die hand gebou is nie, Sy grootsheid en Majesteit verwys na die hemel. Ons moet probeer besef dat Hy oor alles regeer en Hy doen dit vanuit die hemel: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes” (Jes. 55:9).


Ná die eerste menslike ruimtevaart het die ateïstiese Russiese ruimtevaarder Juri Gagarin verklaar dat hy nêrens in die ruimte die Christene se God gesien het nie. Ontstelde Christene het aan die bekende Switserse teoloog Karl Barth, om sy kommentaar hieroor gevra. Sy rustige antwoord was: “Lees Psalm 139 en moenie paniekerig raak nie.”


Ons Vader van die hemel is oral. Die Bybel verkondig nie ‘n afgetrokke, veraf “in-die-hemel” God nie. Die Bybel vertel hoe God vanuit die hemel, reddingstoue uitgegooi het na ons mense en die Anker daarvan by Golgota ingeplant is. “Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here” (Jer. 23:24b). Die vooruitsigte vir ons Christen gelowiges is natuurlik om eendag ook hemel toe te gaan want God ons hemelse Vader is daar! “Ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet. 3:13).


“As ek in die hemel aankom, sal ek drie wonders daar sien. Eerstens sal daar baie mense wees wat ek glad nie daar verwag het nie; tweedens sal ek baie mense mis wat ek verwag het om daar te kry; en derdens – die grootste wonder van al drie – ek sal self daar wees” (John Newton).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, hoe ondeurgrondelik is U weë. Dit is só ongelooflik dat U intens in my as U skepsel belangstel. Watter wonderlike vrede gee dit nie aan my dat U deur altyd vir my oopstaan nie. Ek kan enige tyd na U toe gaan sonder om te wonder in watter bui U is. U is nooit wispelturig, haastig of te besig om my te ontmoet, nie. Dankie dat U “kantoorure” van so aard is dat U ewe ontvanklik is vir my hartseer, my nood, as vir my liefde en vertroue. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page