top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (3) – GROOT WOORDE IS ONNODIG!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:7-8 – “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”


Vergelyk ook Rom. 8:26-27 – “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”


Destyds was daar baie gelowiges en almal het gebid – die Grieke en Romeine tot hulle magdom afgode en die Jode tot God – en elkeen het sy redes gehad hoekom hulle gebid het. Die heidene se gebede was spesifiek daarop gerig om te vra, en daarom het hulle geglo ‘n aanhoudende "stortvloed van woorde" sal hulle gode uit pure moedeloosheid, na ‘n ruk tóg ag laat slaan en gehoor gee. Hulle het m.a.w. hulle gode gunstig probeer stem deur alle moontlike godsname en frases te uiter wat natuurlik met ‘n "stortvloed van woorde" gepaard gegaan het: “Bid tot Baäl van die môre tot die middag, dans voor hom, gaan tekere,” (1 Kon. 18:26-27). Sommige het selfs sekere rituele bygevoeg om hulle gode te beïndruk: “Hulle kerf hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop, maar geen geluid of reaksie nie” (1 Kon. 18:28-29).


Jesus se kommentaar hierop, wys Hy nie die lengte of herhaling in gebede as sodanig af nie, maar die gebruik van allerlei godsname en herhaling van geykte frases met die oog op magiese effek. Gebedsverhoring is nie afhanklik van baie woorde nie, maar van die vertroue wat Godskinders in hulle Vader het. Ons gelowiges in Christus se gebed is ‘n gesprek met ons “Vader wat weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom gevra het.” Dit is nie nodig vir ‘n “stortvloed van woorde” nie, wat wel nodig is, is dat ons bid. Soos kinders met hulle ouers praat, kan ons met ons hemelse Vader praat en ons harte voor Hom uitstort.


Wie die gebed wil gebruik om aandag te trek of om ‘n reputasie van vroomheid te verwerf deur ‘n magdom “groot woorde” te gebruik, moet nie verwag om verhoor te word nie. God soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid (Joh. 4:23). Ware gebed is veel meer as woorde: dit is die gesindheid waarmee ons uitreik na ons Vader. Jesus wil hier vir ons wys dat God ons intiem ken en liefhet, en selfs voor ons bid, weet God al van ons omstandighede: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jes. 65:24). As God dan weet wat ons nodig het voordat ons bid, hoekom moet ons dan bid? Want gebed stel ons in staat om God inniger te beleef en Hy is gretig dat ons Hom moet beleef terwyl Hy die nodige voorsien!


Gebed is in Gees en waarheid – in waarheid word God in egtheid aanbid en die Gees lei ons in hierdie waarheid. Smeek God by elke geleentheid deur die Gees, is die aansporing van Paulus in Efesiërs 6:18. Soos ons in die Gees moet wandel, moet ons ook deur die Gees gelei word wanneer ons bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid (Rom. 8:26-27). Die Gees vat ons stotterende en stamelende woorde en vorm dit tot hemeltaal.


Is dit nie wonderlik nie? Elke keer wanneer ons bid, is daar twee persone van die Drie-eenheid wat vir ons intree by die Vader, Wie uit liefde uit graag wil hoor en verhoor. Aan die regterhand van die Vader tree die Seun vir ons in – “Christus Jesus sit aan die regterhand van God en pleit vir ons” (Rom. 8:34) – en in ons harte woon die Gees (Rom. 8:26). “Amazing!!!”


“Ek het vandag so baie om te doen dat ek ‘n ekstra uur op my knieë sal nodig hê”

(Martin Luther).


Gebed: Ons Vader, dankie dat U na my versugtinge luister wanneer ek in afhanklikheid voor U buig. Dankie Jesus dat U vir my die weg oopgemaak het na ons Vader toe. O Gees van God, dankie dat U by my bly en ‘n inspirasie is vir my gedagtes wanneer ek met ons Vader wil praat. Wees met my in die stiltes van my woorde en dankie dat U my stamelende woordjies in hemeltaal verander. Maak my nederig in God se misterieuse geselskap. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page