top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE! (Matt. 5-7)


EERSTE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE ARMES HELP (1) – VROOMHEIDSVERTOON = SKYNHEILIGHEID!


Matt. 6:1 – “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.”


Vergelyk ook Matt. 23:28 – “So is julle ook (skrifgeleerdes en Fariseërs): van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”


Nadat Jesus die ses sleutel aspekte van die stryd vir geregtigheid vir ons aangedui het wat getrouheid aan die wet inhou (moord pleeg, owerspel, egskeiding, eedswering, vergelding en liefde vir vyande [Matt. 5:17-48]), fokus Hy nou op hóé ons die lewe van geregtigheid behoort te beoefen. Jesus waarsku sommer so met die intrapslag dat hierdie getrouheid, soos dit in die “godsdienstige pligte” van die Jode tot uiting kom, ‘n verkeerde motief kan hê, naamlik “om deur mense gesien te word”, om liefdadigheid te verrig om aansien te verkry, pleks van goeie werke te doen om God te verheerlik (Matt. 5:16).


Dit is presies waarteen Jesus vroeër al gewaarsku het: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt. 5:20). Die strewe na oorvloediger geregtigheid kan erg skeef loop indien die gesindheid agter die handeling nie suiwer is nie. Wat was so sleg aan die Fariseërs se skynheiligheid? Hulle het wet op wet en ekstra bepalings by die gebooie bygevoeg, om “loon” by God te verdien. Hulle het God en die dinge van God gebruik om ander te beïndruk en dit was niks anders as selfsugtige optredes nie. Hulle doel was nie juis om godsdienstige pligte na te kom om ander te help nie, maar om vir hulleself ‘n verdienste by God op te bou. “Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word” (Matt. 23:5).


Maar... gelukkig is ons nie soos die Fariseërs nie ... of is ons? Daar is ongelukkig mense wat voorgee dat hulle nét die eer van God en die welsyn van Sy kerk soek, maar wanneer daar in hulle harte gekyk word, staan EIEBELANG in vetgedrukte hoofletters daar geskrywe. Daardie sogenaamde “kerkheiliges” wat net so bietjie meer belangrik is as die res – pasop, dit is die oorsteek van die grens na die Fariseërs. Die grens van ‘n selfgesentreerde godsdiens waar ék sal besluit hoe en waar en wanneer ek betrokke sal wees. As ons probeer om mense te behaag in plaas van God, sal ons onnodig ly – “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie” (Gal. 1:10).


Ons moet egter net daarop let dat Jesus ons nie daarteen waarsku om nié goeie dade in die openbaar te doen nie, maar wel dat ons dit nie moet doen om sélf die eer te wil ontvang nie, want ons doen dit nie vir onsself nie, maar om God te verheerlik (5:16). Ons doen dit ook nie om deur ons Vader beloon te word nie, ons het ons beloning reeds ontvang. God sit nie en bereken elke keer wanneer ons iets goeds doen, hoeveel beloning ons moet kry nie, die loon wat Hy gee is sonder berekeninge, dis hemelse genadeloon. Dit is ‘n genadeloon waar die sagmoediges die nuwe aarde ontvang; dié wat rein van hart is, God sal sien; die wat afhanklik is van God en vervolg word omdat hulle doen wat reg is, die koninkryk van die hemel ontvang (Matt. 5:3-12). God se genadeloon het GÉÉN perke nie!


Aiden (A.W.) Tozer het die Christen en Godsdiens as volg opgesom: “Godsdiens is nie iets waar Ek kan besluit wanneer en waar en hoe Ek betrokke wil wees nie. Dit is om ‘n heilige liefde vir IEMAND te voel wat ek nog nooit gesien het nie omdat Sy liefde ver, wyd, hoog en diep strek; om elke dag vertroulik te praat met IEMAND wat ek nie kan sien nie; verwag om hemel toe te gaan nie uit eie verdienste nie maar omdat ek glo in IEMAND wat vir my aan die kruis gesterf het en deur God uit die dood uit opgewek is; maak myself leeg om deur IEMAND gevul te word; wanneer ek swak is, deur IEMAND sterk gemaak word; arm is maar deur IEMAND ryk gemaak is – IEMAND wat die onsienlike sien, die onhoorbare hoor, weet van alle dinge en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.”


Dankie Jesus, dat U my IEMAND, my Álles is! Ek wil graag U kruisdraer wees. Dit is seker reg om op die skouer geklop te word deur mense wat sê: “Mooi so!”, en erkenning te ontvang wanneer ons ons godsdienstige pligte nakom, maar op die ou end maak dit nie eintlik saak wat mense sê nie, maar wat God dink. God raak opgewonde wanneer mense góéd aan ander doen en dit kom uit die hart, want God kyk tot in die hart!


“Skynheiligheid is die enigste boosheid wat onsigbaar tussen ons wandel, maar God weet, want Hy kyk na die hart” (John Molton).


Gebed: Here, weerhou my van skynheiligheid want dit is harteloos en onbarmhartig. Ek lyk soms beter as wat ek werklik is, maar Here, U sien my binneste en weet hoe dit dáár lyk. Ek is broos as gevolg van die sonde, maar ek hou ‘n goeie front van skynheiligheid voor want “wat gaan die mense van my dink en sê.” Dankie Here dat dit nie oor mense gaan nie maar oor IEMAND wat weet van alle dinge en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page