top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


LIEFDE VIR DIE VYAND (1) – CHRISTENE IS ANDERS!

(Luk. 6:27-28, 32-36)


Matt. 5:43-44 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.”


Vergelyk ook Rom. 12:20-21 – “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”


Al Jesus se voorafgaande uitsprake oor die regte optrede teenoor ander (Matt. 5:21-42), word in hierdie sesde teenstelling tot ‘n klimaks gevoer. Jesus bring die diepste bedoeling van God se wet uit en verklaar: “Julle moet julle vyande liefhê ...!” Alhoewel die frase, “en jou vyand moet jy haat”, nie in die Ou Testament voorkom nie, het die godsdiensleiers waarskynlik geredeneer dat die wet “naasteliefde” vereis en daaraan is gehoor gegee. Almal wat dus nie jou naaste was nie, jou naaste soos jou volksgenote, jou familie en vriende, is dan jou vyande, en die teenoorgestelde van liefde, is haat – daarom dan die interpretasie van “jou vyand moet jy haat.”


Ek wil dit waag om te sê dat die destydse godsdiensleiers se interpretasie vandag steeds gestand doen – die Jode het die mensdom ingedeel in Jode en nie-Jode wat as heidene geklassifiseer was, die Grieke in Grieke en barbare en ons vorige bedeling, blankes en nie-blankes. Die gevolg was dan dat almal wat deel was van die “nie” groep, uitgesluit is as jou naaste. Jesus brei hierdie verkeerde interpretasie uit deur te wys dat “jou naaste” nie net die mense naaste aan jou insluit nie, maar almal wat jou pad kruis, en dit kan dalk jou vyand ook wees.


Om dit te demonstreer, het Jesus op ‘n stadium die verhaal van die barmhartige Samaritaan vertel. Die man wat aangeval is deur rowers was identiteitsloos – dit kon dus enigiemand wees. Die man wat hom help was iemand wat deur die Jode gehaat is en gesien is as die vyand – ‘n Samaritaan. Kontrasterend is dit juis dié vyand wat hom ontferm oor die beseerde. Die Jood se vyand wéét immers wie sý naaste is! (Luk. 10:25-37).


Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Is die meeste van ons se naamlys van vyande nie ook dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Maar ... ek kán nie só lief hê nie! Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder, moor en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie. Ek kan nie in liefde saamleef met mense wat my bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, verkeersmanne, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want ... “ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.”


Daardie gesegde dra nie water nie want God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen. 1:26) en as dissipels van Christus, kan niemand ons verander nie! Daarom wil Jesus die Joodse rabbi’s en ons naamlyste van haat, in liefde verander. Ons Koninkrykskinders is anders! Ons is nuutgemaak! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels, in Sy vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde, nuut op! As sagmoediges maak ons vrede want ons is dankbaar dat ons afhanklik kan wees van God en Sy genade!


Wat doen ons méér as die wêreld? Hoe kan ‘n mens in die regte verhouding met jou medemens kom wat anders is as die wêreld se voorbeeld? As genade-ontvangers, is dit ons plig om in liefde met almal te leef. Ons moet anders wees as die tollenaars. Jesus waarsku: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt. 5:20). En die wet is om met God en ons naaste in die regte liefdesverhouding te wees. Liefde vir die vyand is dan om iets van Gód se liefde vir sogenaamde vyande in ons optrede te wýs. Dit sluit natuurlik satan, ons grootste vyand, uit!


Jesus het nie ‘n onbereikbare ideaal gestel nie want Hy weet God kan hierdie ideaal van naasteliefde deur die werking van die Heilige Gees moontlik maak! Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Die “moeilike mense” moet self vir hulle verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar. As dissipel van Jesus is ons radikaal verander deur die Gees. Dit gun ons om daagliks só te lewe om ‘n voorbeeld vir ander te wees, om hulle lewe deur ons voorbeeld te verander sodat hulle ook strewe om na die wil van God en Sy beeld, te wil leef. Dít maak ons anders! ‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig.


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat ek liefde saai. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota, daarom is dit makliker om mekaar uit dankbaarheid te ondersteun en in liefde teenoor mekaar te leef. Help my om U voorbeeld te volg. Laat ek mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Werk deur my Here, om in liefde met almal te leef want dit oortref alles in waarde. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page